Psalm 23 (3)

 

You’ll never get to a person’s soul until you understand their hurts – Ravi Zacharias

 

Psalm 23 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

23:5 – 6: God sorg ook vir mense – die beeld van die Gasheer.

5U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teenstanders.

U verfris my kop met olyfolie; my beker loop oor.

6Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe,

 En ek sal bly terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.

 

Om ‘n tafel vir iemand te dek, beteken jy is ‘n welwillende gasheer. Dit is wat ‘n koning vir sy uitgebreide huishouding doen. Vers 5a kan dus suggereer dat die psalmis deel van God se huishouding is. Sy teenstanders kyk met frustrasie en afguns na hom. Vers 5b neem die beeld verder: by die banket salf die gasheer olyfolie oor die gas se kop en hy gee aan hom ‘n groot beker wyn.

 

Wat beteken die beelde van die herder en die gasheer teologies? 6Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe. Dit is in God se huis dat die psalmis God se goedheid en troue liefde ondervind.

 

Net soos die herder vir sy skape sorg, voorsien God ook in die gelowige se lewe. Hy voorsien in oorvloed, want Hy laat my by ‘n feesmaal aansit en my beker word tot oorlopens toe vol geskink. Boonop geniet ek God se hartlikheid in die veiligheid van sy teenwoordigheid (goedheid en liefde) wat ook al met my gebeur. God se sorg is nie van verbygaande aard nie, maar is ‘n lewenslange werklikheid.