Psalm 23 (4)

 

We must learn to find the back door to people’s hearts because the front door is heavily guarded – Ravi Zacharias

 

Psalm 23 (4)

 

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Hierdie psalm plaas daaglikse aktiwiteite soos eet, drink en soeke na veiligheid in ‘n God-gesentreerde perspektief.Die lewe van God se mense word geleef tussen ongehinderde vreugde in die teenwoordigheid van God en twee aspekte van die onsekerheid van die lewe:

  • Die onsekerheid of ons kos om te eet en water om te drink sal hê; en
  • Vyandigheid van ander mense.

Hierdie twee aspekte is werklikhede van die lewe. Die psalm nooi mense uit om hulle trou te verklaar. Martin Luther praat van voorsiening en beskerming in alle Anfechtungen (versoekings, aanvalle, nood, ens). Al lyk dit asof Jahwe as herder misluk, moet ons aanhou vertrou dat Hy ons herder is. Ons moet aan God se woord en sy beloftes vashou. Dan sal ons agterkom dat God vir ons intree – Hy gebruik sy stok en staf vir ons.

 

In die Nuwe Testament word Jesus die goeie herder (Joh 10:11), die groot Herder (Heb 13:20 – 21) en die Opperherder (1 Pet 5:4) genoem. Ons is sy skape. Dit beteken nie dat ons dom, bang en passiewe diere is nie. Dit beteken wel dat ons aan Hom gehoorsaam is en verstandig genoeg is om die Een wat ons op die regte pad lei, te volg. Die klem in hierdie psalm val nie op die dierlike eienskappe van skape nie, maar op die dissipelskap van dié wat die Here volg. As ek die goeie herder sien, volg Hom.

 

Ek leer ware tevredenheid ken as ek God die herder toelaat om my te lei. As ek egter die sonde bo sy leiding verkies, kies ek om my eie pad te loop. Dan kan ek nie die Here blameer vir die samelewing waarin ek woon nie. My Herder weet waar die weivelde en water is wat my kan versterk. Ek sal daar uitkom as ek gehoorsaam agter Hom aanloop. As ek teen sy leiding opstandig raak, doen ek my eie saak skade aan. Ek moet hierdie dinge onthou as ek weer my eie kop wil volg en nie die leiding van die herder nie.

 

Die oorweldigende les van hierdie psalm is dat God liefde is, dat God lojaal is en dat God ons nooit sal los nie. Die lewe is nie net rose nie. In dankbaarheid is ek bewus van God se teenwoordigheid in my lewe as dit met my goed gaan. Juis daarom, sê Dawid, kan ek seker wees van sy teenwoordigheid as dit nie goed gaan met my nie. Selfs as die lig verdoof en die donkerte kom, is Hy by my. Letterlik praat hy hier van “die vallei van diep duisternis”. God se vertroosting en krag is met my in alle vorms van duisternis – depressie, verwerping deur my vriende, ernstige siekte, die dood, ens. Dawid argumenteer nie hieroor nie – hy sê net dat dit so is. God se teenwoordigheid in donker tye is net so werklik en waar as in goeie tye.