Psalm 26 (3)

 

Doctrines are maps and models, not mathematical formulas – Anthony Lane

 

Psalm 26 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

26:6 – 8

Ons skuif nou van morele na Godsdienstige toewyding. Die psalmis verwerp die verkeerde waarvan ons in vers 3 – 5 gelees het, maar bring dit nou in die konteks van aanbidding. Dit is duidelik dat ons van die alledaagse wêreld met sy morele uitdagings na die godsdienstige wêreld met sy altaar, verkondiging en die Here se teenwoordigheid beweeg het. Die alledaagse wêreld word negatief gesien en die godsdienstige wêreld positief.

 

6Ek was my hande om my onskuld te toon, sodat ek rondom u altaar kan loop, Here

Om jou hande te was, is ‘n teken van onskuld. Vir priesters is die was van hande en voete ‘n reinigingsritueel ter voorbereiding van hulle rol in aanbidding. Gewone mense het hulle hande gewas ter voorbereiding om die heiligdom te nader. Om jou onskuld te behou, is jy in die posisie om saam met die gemeente na die altaar van die Here te gaan. Daar kan jy die offer bring en daarmee saam lof, gebed en danksegging.

 

7om ‘n loflied te laat opklink en te vertel van al u wonderdade.

Een van die geleenthede om offers te bring en te aanbid, is wanneer die psalmis getuig van wat die Here in antwoord op sy gebede gedoen het. Jy kan nie hieroor stilbly nie. Wanneer die Here optree, moet die begunstigde God verheerlik deur die storie voor die mense te vertel. Dit gaan dan ook met ‘n dankoffer gepaard. Die Here se wonderdade sluit die skepping van die heelal en die verlossing van Israel uit Egipte in.

 

8Here, ek het die huis waar U woon, lief, die woonplek van u glorieryke teenwoordigheid.

Woonplek verwys na die tabernakel, maar ook na die tempel. Dit is die plek waar die Here se eer/heerlikheid woon.

 

In die volgende blog sal ons sien dat die psalmis weer na ‘n pleidooi terugkeer