Psalm 32 (1)

 

We must train ourselves to be men and women of God, not well-dressed executives – Scott Dawson

 

Psalm 32 (1)

U het my skuld vergewe (32:1 – 11)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Die Psalm is ‘n danksegging of getuienis – in die openbare aanbidding bring dit die implikasies van dit wat die Here vir die psalmis gedoen het onder die aandag van ander mense. Hierdie getuienis het twee onderskeidende kenmerke:

  • Die onderwerp van die getuienis is ‘n besondere vorm van verlossing. Dit is die ondervinding van vergifnis en vrystelling wat volg op die erkenning van sonde nadat hy eers probeer het om dit te ontken
  • Die didaktiese element van die getuienis is opvallend.

 

Die psalm begin met ‘n veralgemening van die implikasies vir ander mense van die psalmis se ondervinding (vers 1 – 2). Eers daarna lees ons van die ondervinding self (vers 3 – 5). Daarna word die belang van die ondervinding weer beklemtoon (vers 6 – 7). Heeltemal onverwags volg ‘n woord van die Here aan die psalmis (vers 8). Die psalm sluit af soos hy begin het met verdere didaktiese veralgemenings en ‘n oproep tot wysheid en ‘n uitnodiging aan ander mense om hulle in die Here te verheug op grond van die implikasies van die getuienis (vers 9 – 11).

 

Nota: Ons sien ‘n paar keer in hierdie psalm  dat die woord Sela gebruik word – 73 keer word dit in die Psalmbundel gebruik. Die betekenis is onbekend. Dit is waarskynlik ‘n musiekterm. Sommige geleerdes meen dit dui op ‘n pouse in die lees of sing van die psalm.

 

32:1 – 2: Twee algemene stellings

Die digter begin met twee algemene stellings oor die mens se geestelike welsyn. Die digter het die greep van die sonde op sy lewe ervaar, maar hy het ook ondervind dat sy sonde vergewe is. Daarom gaan dit goed met hom. God reken sy oortredings nie meer toe nie. Om vergifnis te ervaar, is suiwer goedheid of seën. Beide verse sê wat God doen. Soos met die offer, lê God hier sy hand op die sondaar en sê: “Ek sien nie meer jou sonde nie.” Ons kry hier woorde wat die mens se sonde beskrywe: oortreding … sonde … skuld … bedrog. Die Here wil graag sondaars vergewe. Vergifnis was nog altyd deel van sy liefdevolle natuur. Hy het dit vir Moses gesê, aan Dawid geopenbaar en dit op dramatiese wyse deur Jesus Christus vir die wêreld gewys. Hier dui verskillende dinge op God se vergifnis: die wegneem van skuld en sonde, die feit dat dit nie vir die sondaar toegereken word nie en die feit dat hy in die regte rigting gelei en gestuur word. Paulus haal hierdie woorde aan (Rom 4:7 – 8) en sê dat die wonder van vergifnis deur geloof in Christus kom.

 

32 Van Dawid. ’n Maskiel.

[Maskiel: ‘n Tegniese term wat moontlik aandui dat die psalm vir onderrig gebruik is.]

Die opskrif vestig ons aandag dat hierdie psalm se doel is om Godgegewe duidelikheid te gee op ‘n verhouding met God en op die manier om te bid. In ons verbeelding kan ons sien dat dit Dawid is wat hier bid gevolg deur sy belydenis van sy verhouding met Batseba en sy moord van Urija.

 

Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.

Hier kry ons twee beskrywings van die aard van sonde en vergifnis. Sonde is soos ‘n opstand teen ‘n gesag of soos wanneer jy die teiken nie raakskiet nie of mik na ‘n teiken waarna jy nie veronderstel is om te mik nie. Verlossing is as jy die koste van die opstand op jouself neem en nie toelaat dat dit jou verhouding met die Here verbreek nie. Vergifnis kan ook beteken dat ‘n persoon se tekortkominge bedek word. Dit veroosaak dus nie openbare skaamte nie Geen wonder die psalm sê dat iemand wat so ‘n ondervinding gehad het gelukkig is nie.

 

2Gelukkig is die mens vir wie die Here skuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie.

Hier kry ons ander beelde vir sonde en vergifnis. Sonde  is ook skuld. Vergifnis beteken dat die Here die verkeerde dade wat ons doen nie toereken nie. Miskien dink die Here nie aan hulle nie – hulle is vergete.

 

Vers 1 – 2 spesifiseer die volle omvang van menslike goddeloosheid, maar ook die volledigheid van Goddelike vergifnis wat vreugde moontlik maak. Vers 2c praat van bedrog. Dit sê nie dat die gelukkige persoon vry van bedrog vir sy hele lewe moet wees nie. Ons sal dit moeilik kan rym met die erkenning van opstand, mislukking en verkeerd optree. Die psalmis verklaar dat daar ‘n openheid in verhoudings moet wees wat hierdie werklikhede erken eerder as om almal te probeer mislei. Om gelukkig te wees vereis God se liefde wat alles bedek en weier om te tel. Maar dit vereis ook openheid by die mens wat nie probeer mislei nie. Bedrog verwys gewoonlik na valsheid in jou verhouding met ander mense. Maar bedrog beteken ook dat ek my sonde teenoor die Here ontken. Dit kan ook my geluk in gevaar stel.