Psalm 33(4)

 

The measure of our love for others can largely be determined by the frequency and earnestness of our prayers for them. —A.W. Pink

 

Psalm 33(4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

33:13 – 19:

Die res van die stellings oor die Here brei uit op die punt van vers 9 – 11. Dit begin met ‘n veralgemening van die Here se verhouding met die wêreld (vers 13 – 15). Hierdie punt word dan op politieke sake toegepas (vers 16 – 17). Daarna kyk die psalmis na die betekenis van hierdie veralgemening vir die Here se mense.

 

13 Uit die hemel kyk die Here, Hy sien alle mense.

 14Uit die plek waar Hy woon beskou Hy al die bewoners van die aarde,

Die Here se woonplek is die Hemel. Hy sien alle mense – dit beskryf die volledigheid van die Here se sien. Kyk … sien … beskou, beklemtoon die intensiteit van die Here se kyk. God kan alles ontdek wat Hy wil ontdek.

 

15Hy wat elkeen van hulle se denke vorm, insig het in alles wat hulle doen.

In die vorige verse het ons gelees dat die Een wat kyk die Here is. Dit het egter niks van sy wese gesê nie. Hier sien ons dat die Een wat kyk die oorspronklike Skepper is. Die Here vorm mense se denke.

 

16Geen koning word deur ‘n groot leër gered nie; ‘n krygsman red homself nie deur groot krag nie.

17’n Perd bied vals hoop vir oorwinning, deur sy groot krag kan hy nie red nie

Hier gaan dit oor ‘n koning in sy kapasiteit as opperbevelvoerder, ‘n krygsman. Die perd was die indrukwekkendste militêre toerusting in Israel se wêreld. Vers 16 praat van die mens se onvermoë om homself te red; die tweede reël sê dat selfs die perd nie die mens kan red nie. Oneffektiewe middels om mee te ontsnap is ‘n leër, krag en mag. Groot leër … groot krag … groot krag beteken niks nie – hulle help nie. Hulle bied almal vals hoop.

 

18Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het,

op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde,

19om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood.

Die rede waarom die Here kyk (vers 13 – 15), is nie uit nuuskierigheid of om mense uit te vang nie. Die Here hou ‘n oog oor Israel om seker te maak hulle word verlos as hulle dit nodig het (vers 16 – 17). Mense wat op ‘n leër, krag en mag vertrou, word nie gered nie. Redding berus nie op die bymekaarmaak van hierdie hulpbronne nie, maar op ‘n gesindheid van eerbied vir die Here (vers 8) en wag. Eerbied vir die Here behels nederige onderwerping aan die Here, om alles wat Hy stuur, te aanvaar en om te doen wat die Here sê. Verwag dat die Here iets nuut gaan doen – spesifiek dat Hy ons nie gaan los waar ons met al ons behoeftes sit nie. Dit impliseer dat ons die Here moet druk om vir ons in te tree.

 

33:20 – 22: Die verklaring van vertroue en ‘n gebed

Die lied eindig met ‘n verklaring van ons huidige hoop en toekomstige lof en en vertroue. Daar is ook ‘n gebed dat hierdie hoop nie tevergeefs sal wees nie.

 

20Met ons hele wese wag ons op die Here; Hy is ons hulp en ons skild.

Die mens/wese wat die Here red, kan in hoop lewe, want die Here is sy hulp en skild. Die Here help deurdat Hy vir ons ‘n skild is.

 

21Want oor Hom is ons harte verheug, ja, op sy heilige Naam vertrou ons.

Hier kry ons ‘n beweging van die huidige werklikheid na vertroue in die toekoms. Die psalmis verwag dat mense rede sal hê om aan te gaan om die Here te loof, want Hy wys dat Hy ‘n betroubare skild is. Hulle het dus rede om Hom te vertrou.

 

22Mag u troue liefde oor ons wees, Here, terwyl ons op U wag!

Die aanbidders aanvaar die stelling van mense wat hulle hoop op die Here vestig en wag (vers 18b). Hier word dit nou ‘n gebed. Om te vra dat die Here se troue liefde oor ons moet wees, herinner aan die beeld van ‘n skild.