Psalm 34(5)

 

There is nothing little, weak or naive about being a child of God – Henri Nouwen

 

Psalm 34(5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Dié tydlose stelling in hierdie psalm is: Die Here is goed. Hierdie verwys veral na verhoudings. Die Here is goed in verhouding met ons. Dit word duidelik as ons sien dat die Here se oë en ore na ons gedraai is. As ons behoeftes het, is die Here naby om ons gebede te antwoord: Hy luister na ons gebede en Hy reageer op ons gebede. Hierdie antwoord sluit in redding, beskerming en herstel. Dit bring regstelling en ons gesig skyn – ons word nie beskaam nie. Dit belowe vir ons die goeie dinge van die lewe. Dit belowe ‘n lang en vol lewe – ons ondervind vrede. Dit beteken ook dat die goddeloses die teenoorgestelde sal ondervind.

 

Die psalmis aanvaar dat die lewens va die gelowiges, die dienaars van die Here, baie probleme en swaarkry sal insluit. Dit lei ons daartoe om hulp by die Here te soek – na Hom te kyk, Hom te aanbid, Hom te eer, op Hom te vertrou, na Hom om hulp uit te roep. Maar dan moet ons eerlik wees.

 

In die psalms lees ons dikwels dat die regverdige die Here nie so ondervind nie. Hy is dikwels ver weg en onaktief. Hier sien ons duidelik dat ons ondervindings ons nie moet ooweldig nie.

 

Die Here is goed. Dit is hoe hierdie psalm begin. Mense word selfsugtig en selfgesentreerd gebore. Dit is so maklik op te spog met dit wat ek bereik het. Die digter sê egter: In die Here sal ek roem. Dit beteken dat ek sy Naam sal verheerlik. Die digter is self ‘n verdrukte wat swaar gekry het. Nou roep hy almal wat swaarkry op om saam met hom die Here te loof en te prys, want die Here het sy gebed verhoor en hom verlos. Hy roep sy medegelowiges op om saam met hom die Here te loof en self te ervaar hoe God hulle red.

 

Die digter gebruik twee beelde om God se beskerming van die gelowige te beskryf:

  1. Dit is asof God – die Engel van die Here – ‘n laer trek rondom dié wat Hom dien: Hy beskerm hulle.
  2. Hulle is selfs veiliger as leeus, die magtigste van die diere. Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie op God vertrou, ly nie gebrek nie.

Daar is ‘n samehorigheidsgevoel onder die gelowiges wat dikwels juis vanweë hulle vertroue op die Here verdruk word. Selfs al gaan dit sleg met die gelowige, is hy bly as dit met ‘n ander gelowige goed gaan, want hy weet dat sy swaarkry ook sal verbygaan. God beskerm sy volgelinge.  Die Engel van die Here het dikwels aan mense verskyn, en dan word Hy ook die Here genoem. Toe Manoag Hom sy naam gevra het, was sy antwoord: Waarom vra jy my Naam? Dit is te wonderlik om uit te spreek (Rigt 13:18). Dit is ook die naam van die beloofde Kind waarna Jesaja 9:5 verwys. Toe die Israeliete deur die woestyn getrek het, het die Engel van die Here hulle gelei en beskerm. Die psalmdigter ervaar dit ook so.

 

Die bidder het ondervind dat die Here goed is. Hy hou nie hierdie godsdienstige ondervinding vir homself nie – sy medegelowiges moet ook deel daaraan hê. Die gemeente is een al word hulle baie name genoem om die aard en ondervindings van die gelowiges te beskryf: dié wat swaarkry; dié wat die Here dien; dié wat aan die Here behoort; dié wat die Here se hulp vra; die regverdiges; die gebrokenes en moedeloses; die dienaars van die Here; dié wat by die Here skuil. Hierdie gelowiges in die een gemeente word saamgebind, en het deel aan baie voorregte en verantwoordelikhede. Die goeie dinge wat deur God aan sy volk gegee word, sluit ook in die voorsiening vir ‘n mens se daaglikse behoeftes. Wie opreg bid, vra nie tevergeefs nie. Die leeus kan na die goddeloses verwys. My geloofservarings moet ook my medegelowiges aanspoor om God te loof.

 

Hierdie psalm is ‘n beroep op God se beskerming in ‘n krisistyd. In krisistye ontdek ek dat sy nabyheid alle pyn en ellende oortref.