Psalm 8 (1)

 

Sometimes the godliest thing you can do in the universe is get a good night’s sleep. —D.A. Carson

 

Psalm 8 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Hierdie is die eerste werklike lofpsalm in die psalter, maar sy vorm en onderwerp is atipies. Daar is nie ‘n uitnodiging om te loof nie; daar word nie redes vir die lofprysing gegee nie – daar is geen “want” klousule nie. Dit is ook die enigste lofpsalm wat in sy geheel aan God gerig is. Psalm 8 is ‘n lofpsalm wat die kontras tussen die grootheid en skeppingsmag van God en die nietigheid van die mens beklemtoon. God stel nietige mensies aan om namens Hom oor die skepping te heers. Ons is God se klein-groot mense.

 

Een van die kenmerke van ware godsdiens is verwondering – verwondering oor die geheimenisse van die heelal, maar ook verwondering as ons nadink aan watter soort skepsel ons nou werklik is. William Booth, die stigter van die Heilsleër, het gesê dat die duiwel nie al die mooi liedere en wysies moet hê nie – gelowiges moet ook mooi liedere en wysies hê.  Hierdie is ‘n psalm wat ons moet koester.

 

8:1: Opskrif

Vir die musiekleier; op die Ghitiet. ‘n Psalm van Dawid.

Die Ghitiet is waarskynlik ‘n musiekinstrument of ‘n melodie. Dit mag ook na ‘n Levitiese sanger verwys (1 Kronieke 13:13 – 14). Die digter van die psalm, miskien Dawid, wat baie nagte in die oop veld by sy skape deurgebring het, het die lied oor die wonder van God se skepping gehoor en gesien. Nou sing hy daaroor. God se skeppingswerk hou ‘n boodskap in vir die digter – dit vertel van God self. Hierdie psalm besing die eer van sy Naam.

 

Volgende keer kyk ons verder na hierdie groot God en na ons as klein mensies.