Psalm 8 (2)

 

Some wish to live within the sound of a chapel bell. I want to run a rescue shop within a yard of hell – C. T. Studd, bekende sendeling

 

Psalm 8 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

8:2 – 3: God word direk as die magtige Skepper geloof. Klein mensies maak God groot

Drie ernstige reëls loof God as oppermagtig. Vs 2 a – b sê dat die skepping soos ons dit sien, getuig van God se majesteit of van God se optrede  in die geskiedenis soos die psalmis dit ondervind het. Vers 2c – 3 verbind hierdie twee moontlikhede aan die skepping in die verlede. Die verklaring in 2a – b berus juis op die wonder van die skepping.

 

8:2 a, b: Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde.

Om God as Here aan te spreek, is nie so algemeen nie. Die implikasies van God as Here word uitgespel – sy Naam is wonderbaar oor die hele aarde. Dit gaan dus nie net oor wonder of bewondering nie, maar onderwerping. Hierdie implikasie is betekenisvol vir alles wat gaan volg. Die psalm gaan oor God se mag en krag as Skepper. Daar is iets wonderlik aan die skepping wat mense aan God se heerlikheid herinner. Hierdie psalm verklaar ook dat God in mag heers oor die aarde – Hy is hier teenwoordig.

 

Die psalm begin en eindig met lof aan die Skeppergod. Dit sê baie oor die plek van die mens in God se skepping. Hy is die Here wie se koninklike mag oor die hele aarde sigbaar is. Hy regeer. Sy Naam word vol eerbied aangeroep: Here, ons Heer. Met hierdie woorde bely die digter dat hy en sy mense, asook alles wat deur God geskep is, aan Hom behoort en aan Hom onderdanig is. Die psalm begin dus met die openbaring waarin God Homself deur die bekendmaking van sy Naam geopenbaar het. [Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn – Eksodus 3:15.] Daarna let die digter op die skeppingswerk van God.

 

8:2c – 3a:U wat u luister aan die hemelruim vestig. Met die stemme van kinders en suigelinge

By die skepping het God heerskappy oor die hele kosmos uitgeoefen. Hier word God se majesteit weer beklemtoon – mag en gesag. Dit geld nie net vir die aarde nie, maar ook vir die hemele. Hierdie is meer as net ‘n hiperbool – dit is ‘n erkenning dat God groter is as alles wat geskep is en as alle bonatuurlike kragte. God se mag is ‘n werklikheid in die hede. Dit kan teruggevoer word na die skepping.

 

Hoe is die kinders en suigelinge betrokke by dit alles? As die Ou Testament verwys na babas is dit gewoonlik as slagoffers van onderdrukking, oorlog en dood. Ons lees elf maal van suigelinge in die Ou Testament – dikwels saam met babas en as slagoffers. In die Ou Testament skeeu die monde van babas en suigelinge nie vir melk of as teken van lewe nie – hulle skreeu uit vir beskerming of geregtigheid of van pyn. Die huil van kinders is ‘n dominante noot in die geskiedenis. God se mag en gesag word by die begin uitgeoefen – die skepping. Dit is gedoen in afwagting van die belang hiervan vir die kwesbares.

 

8:3:b – c: Het U ‘n vesting opgerig teen u teenstanders om vyande en wraakgieriges te stuit

God het die heelal geskep. Dit is soos ‘n gebou wie se fondamente diep in die rots gelê is. Om die heelal te skep, beteken ook dat God beheer oor magte verkry het wat sy doel met die heelal – orde en stabiliteit – wou teenwerk. Majesteit en sterkte hoort bymekaar as Goddelike eienskappe. Die verwysing na teëstanders maak dit duidelik dat God se skeppingsdaad nie sonder teenstand geskied het nie. Diegene wat kinders mishandel, is diegene wat God se skeppingsdoel teenstaan. As gevolg van die teenstanders moet God ‘n plan ontwikkel om die vyand en wraakgieriges stil te maak.

 

God se optrede aan die begin, tydens die eksodus en in Israel se lewe is een. God se voortgaande oppermag en sy oorwinning oor sy teenstanders is die gevolg van ‘n gebeurtenis reg aan die begin. Toe het God sy oppermag uitgeoefen en die chaosmagte reggestel.

 

Klein mensies maak God groot. Die verhouding tussen God en mens is paradoksaal. Wanneer klein mensies – kinders en suigelinge – God se heerskappy erken en sy lof besing, gebeur daar ‘n wonderwerk: God maak magtige mense (teëstanders, vyande, wraakgieriges) stil. Waar ek my nietigheid besef en God se heerskappy erken, bring Hy ‘n bolwerk tot stand, openbaar Hy sy mag, verslaan Hy sy vyande. Maar terwyl ek nog self in beheer wil wees, ontken ek God se heerskappy in die wêreld en in my lewe. Dit is die paradoks van menswees: hoe nederiger ek oor my prestasies is, hoe groter kan ek God in my lewe maak.

 

8:4 – 5: Sal God by gewone mense betrokke wees? Die mens is niks nie.

Hier kry ons ‘n wending in die psalm. Die psalmis word nou ek.

 

8:4: 4Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het

Met verwondering kyk die psalmis na die skepping. Die verwysing na God se vingers beklemtoon die persoonlike aard van die skepping – God het nie opdragte gegee en gewag vir iemand anders om die werk te doen nie. Hy was persoonlik betrokke. Die hemel verwys moontlik na die blou lug van die dag en die maan en sterre na die nag. Werk en gevestig is ‘n verklaring dat die elemente van die skepping vas en seker in plek is.

 

 

8:5: Wat is die mens dan dat U hom in gedagte hou, ‘n mensekind dat U aan hom aandag skenk

As ons na God se mag en majesteit kyk, hoe kan ons verwag dat Hy Hom aan die mens moet steur? Die tweede reël herhaal die eerste. Aandag skenk gaan egter verder as in gedagte hou – God dink eers en dan tree Hy op. Miskien is hierdie psalm soos ‘n klaaglied – dit gee aan mense die geleentheid om hulle onsekerhede oor hulle plek as mense te artikuleer voordat hulle geloofstellings maak. Die mens is niks in vergelyking met die grootsheid van die skepping nie. Die twee Hebreeuse woorde vir mens en mensekind dui onderskeidelik op die swakheid en verganklikheid van die mens. Dit staan teenoor God wat sterk en ewig is.

 

Ons kan maar net in verwondering staan oor God aan klein mensies aandag gee. Daarna kyk ons volgende keer verder.