Psalm 9 (4)

 

If you love deeply, you’re going to get hurt badly. But it’s still worth it. —C.S. Lewis

 

Psalm 9 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

9:14 – 19: ‘n Gebed om hulp en getuienis dat God gehelp het

Die psalm kon by vers 13 opgehou het. Dit gaan nie alleen voort nie, maar verander in ‘n gebedspsalm. Die lofprysing se funksie is nou om God te oortuig om te luister na sy gebed. Die erkenning van God se optrede in die verlede, is die rede vir die gebed.

 

9:14 – 15: Get. Wees my genadig, Here, kyk hoe my haters my verdruk – U wat my kan wegruk uit die poorte van die dood –

Sodat ek van al u lofwaardige dade kan vertel in die poorte van die dogter van Sion.

Ek wil juig oor die verlossing wat U bring.

 

Die implikasies van wees my genadig word uitgespel in die oproep kyk. God sal sekerlik in deernis optree as hy die psalmis se ellende aanskou as gevolg van wat sy haters aan hom gedoen het. God ruk hom letterlik uit die poorte van die dood weg. Wegruk is letterlik wat nodig is, want die psalmis staan reeds in die poorte van die dood.

 

Die psalmis verwag dat God sal optree. Dan sal die psalmis van God se dade kan vertel. God se roemryke dade is sy heil/uitkoms. Hy word gered uit die poorte van die dood en kan juig in die poorte van die dogter van Sion. Sion is die plek van lewe, want dit is onder andere die plek van getuienis. Die dogter van Sion is ‘n verpersoonliking van die stad wat God liefhet as vader.

 

Hierdie is die tweede hoofdeel. Vs 14 – 17 bevat nie net ‘n gebed om hulp en ‘n getuienis dat God gehelp het nie. Twee uiterstes woord ook geskets:

  • Die poorte van die dood wat na die doderyk toe lei en wat die bestemming van die skuldiges is.
  • Die poorte van Sion waar die Here woon en waar uitkoms is. Daar kan die vrome juig en getuig, want daar laat die Here reg geskied.

Die skuldiges in die doderyk dink egter nie aan God nie.

 

9:16 – 17:  Tet. Nasies het weggesak in die vangkuil wat hulle gemaak het; in daardie vangnet wat hulle versteek het, is hulle voete vasgevang.

Die Here het Homself bekend gemaak: Hy laat reg geskied; goddelose mense raak in hulle eie handewerk verstrik. Higgajon Sela

 

Hier herroep die psalmis God se dade in die verlede wat dien as basis vir sy gebed. Dit wys hoe mense se verkeerde planne op hulleself omgekeer kan word. Vers 17 maak dit duidelik dat deur hierdie optrede God Hom in die verlede bekend gestel het. Hy het strafgerig geoefen – Hy laat reg geskied.

 

In hierdie verse sien ons hoe die goddelose op sy plek gesit word. Dit mag twee maniere wees om dieselfde gebeure te beskryf. As mense ‘n strik stel en hulle trap per ongeluk in hulle eie strik, is dit God wat dit doen – dit is Hy wat sy strafgerig beoefen.

 

Die digter spreek ‘n aantal voornemens uit oor sy eie verhouding met die Here: hy wil van God se reddingsdade getuig; hy wil vrolik en bly wees; hy wil God se Naam besing. Vyf werkwoorde – prys, vertel, verbly, vrolik wees, besing – dui op die bidder se opregte – met my hele hart – en uitbundige blydskap en dankbaarheid, en sy gewilligheid om te getuig van die Here se verlossingsdade. [In vs 20 – 21 rig hy ‘n aantal versoeke.] Die gedeelte tussen inleiding en slot is ook twee pole wat mekaar goed balanseer.

 

9:18 – 19: Jod. Goddelose mense keer terug na die doderyk, al die nasies wat God vergeet.

Kaf. Maar die behoeftiges sal nie vir altyd vergeet word nie; die magteloses se hoop is nie vir altyd verlore nie.

 

Die erkenning van God se  getroue optrede in die verlede lei tot ‘n geloofstelling. Die psalmis is by die poorte van die dood, maar  dit is die goddelose wat op pad daarheen is. Teruggaan na die doderyk beteken dat die goddeloses sal omdraai en vlug, maar hulle sal omkom. Uiteindelik gaan almal doderyk toe, maar nie een van die twee partye gaan nou reeds daarheen nie. Die konflik beteken dat of die aanvallers of hulle slagoffers moet gaan. God ignoreer nie die swakkes nie. Die aanvallers ignoreer egter vir God; hulle erken Hom nie.

 

Die want waarmee vers 19 begin, beklemtoon die band tussen die dood van die goddeloses en die verlossing van die swakkes. Die aanvalle sal nie vir altyd/vir ewig aangaan nie. Verlossing sal kom. Die swakkes se hoop word nie uitgeblus nie, want hulle word nie geïgnoreer nie. Die vyande en die nasies sal vernietig word voordat die hoop van die swakkes vernietig word.