Redes vir lyding (1)

. —John Flavel

Redes vir lyding (1)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Mense wil graag betekenis aan hulle lyding en die bose heg? Volgens die Christelike godsdiens is lyding nie sinneloos nie – nie in die algemeen nie, maar ook nie in besondere gevalle nie. God het die bose volledig aan die kruis oorwin – so volledig dat al die nagevolge van die bose eendag sal verdwyn. God doen dit nie ten spyte van ons lyding, pyn en vrees nie, maar deur dit. Deur die lyding van God sal die lyding van die mens eendag ongedaan gemaak word. Die kruis verseker ons dat hierdie deur God se liefde gemotiveer word.

 

Lyding is die manier hoe Jesus soos ons geword het, maar dit is ook die manier waarop ons verlos word. Deur lyding word ons as gelowiges meer en meer soos Jesus. Dit is ook die manier waarop ons sy verlossing ondervind. Dit beteken dat ons lyding ‘n doel en nuttigheid het. Moenie jou lyding vermors nie.

Dit word algemeen aanvaar dat stres nadelig vir die liggaam is.  Dit mag lei tot depressie, angsversteurings en fisiese siektes.  Tog is daar ook bewyse dat daar waarheid steek in ‘n baie ou siening: mense het teenstand, terugslae en selfs trauma nodig om die hoogste vlakke van vervulling en persoonlike ontwikkeling te bereik. Dit bevorder ook ons perspektief oor wat werklik in die lewe belangrik is.

Daar word gewoonlik drie voordele van lyding genoem:

  • Lyding lei tot gehardheid. As mense eers besef dat hulle lyding en swaarkry kan hanteer, besef hulle dat hulle dit weer kan doen. Hulle leef dus met minder angs en stres. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:3 – 5)).
  • Dit versterk verhoudings. Diegene wat ly word dikwels aan ‘n stel dieper vriendskappe of familiebande gebind.
  • Lyding verander die mens se prioriteite en lewensfilosofie.

Volgende keer kyk ons verder na die redes vir lyding.