Rigting in jou lewe

 

No man should be surprised when life collapses if he insists on living it alone (Barclay)

 

Rigting in jou lewe

Mense het ‘n sin vir rigting nodig in hulle lewe – ‘n kaart waarvolgens jy kan lewe. Een moontlikheid is die Bybel. In die Bybel kry ons herhaaldelik die versekering dat die Bybel God se woord is. Hoe dikwels lees ons nie in die profete-boeke nie: Die Here het vir my gesê … of: Hierdie is die woorde van die Here … of: Dit is wat die Here sê. Ons kry hierdie of soortgelyke woorde meer as 2000 maal in die Bybel. Hier is ‘n paar voorbeelde:

Die Here het direk met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend (Eksodus33:11)

Dawid: Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê (2 Samuel 23:2 – 3)

Ek het nou my woorde in jou mond gelê (Jeremia 1:9).

 

Jesus self het bevestig dat wat die profete gesê het, waar is:

  • Hy het op hulle verslae van die geskiedenis vertrou (Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees – Matteus 12:40).
  • Hy vertrou op alles wat hulle geskryf het (Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê – Lukas 24:29; Jesus aan die Emmausgangers).
  • Hy baseer sy onderrig op woorde wat hulle gebruik het (Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees – Matteus 19:5, Jesus praat hier oor egskeiding en haal Genesis 2:24 aan).
  • Hy vra hulle (Het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie – Matteus 22:31).

 

Ook Paulus en Petrus bevestig dat die Skrif God se woord is.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17).

Geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig (2 Petrus 1:21).

 

Elke mens het rigting in sy lewe nodig. Daarvoor het hy ‘n padkaart nodig. Besluit vandag om die Bybel as jou padkaart te gebruik. Jesus self het bevestig wat ons in die Bybel lees, waar is.

 

Hoekom moet ek die Bybel ernstig opneem? Daarna kyk ons in ‘n volgende blog.