Romeine 9 – 11 Vraag – Hermie van Zyl

Jan vra:

In Rom 9-11 vertel Paulus van sy kwellinge oor die Joodse volk as hy sê:

  • Hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie
  • Nie bloot omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal God se kinders nie
  • Die kinders van die belofte (deur Isak) is die nageslag
  • Die voorneme van God was volgens die belofte dat Hy Jakob sou liefhê en Esau sou haat
  • Die Jode het God verwerp
  • As hy maar net sy eie volk jaloers kon maak
  • Net soos daar 7000 manne was wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie, is daar ‘n
oorblyfsel ooreenkomstig die verkiesing van genade

Hoe verklaar mens die uitsprake van liefde/haat, jaloers maak en verkiesing van genade ten gunste van die oorblyfsel van Israel, en hulle verharding ten dele totdat die volheid van die heidene ingegaan het?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Rom 9-11 is seker een van die mees aangrypende gedeeltes in die Nuwe Testament waar die onbegryplike verkiesende genade van God teenoor alle mense, beskryf word. Terselfdertyd is dit geklee in ‘n baie spesifieke redenasie oor die posisie van Israel/die Jode soos dit vir Paulus duidelik geword het teen die agtergrond van hulle verwerping van Christus as die Godgewilde weg van redding. Mens moet daarom Paulus se hele beredenering begryp vanuit die feit dat hy as Jood skryf; mens kan die teleurstelling, pyn en wroeging tussen die reëls ervaar, hoe hy probeer sin maak daarvan dat die Jode – die Godsvolk, die verbondsvolk! – hulle nou in ‘n situasie bevind waar hulle God se weg van redding verwerp en so die trein van sy genade verpas het. Tog wil hy nie aanvaar dat God sy ou volk verwerp het nie; hy hou die deur oop en bly hoop dat hulle steeds net soveel aanspraak op die genade van God het as die heidene, en dat laasgenoemde nie ‘n permanente voordeel bo God se ou verbondsvolk het nie. Alles hang af van die genade van God wat op misterievolle wyses werk.

Om enigsins te begryp hoe Paulus by hierdie tema uitkom, kan ons vinnig net die argument van Paulus in Romeine volg. In Rom 1:1-17, veral v17, kondig Paulus die tema van die Romeinebrief aan: die geregtigheid of vryspraak deur die geloof: As ‘n mens glo (in Christus) word jy deur God vrygespreek van jou sondeskuld en verkry jy die (ewige) lewe. In Rom 1:18-4:25 word vervolgens verduidelik dat almal – heidene én Jode – skuldig staan voor God; dit ontbreek almal aan die heerlikheid van God. Spesifiek dié wat dink dat hulle spesiale meriete verdien omdat hulle die wet van Moses onderhou – die Jode – moet weet dat ‘n mens nie uit verdienste gered word nie, maar slegs op grond van die genade van God. En hierdie genade is spesifiek geopenbaar in die lewe en dood van Jesus Christus. In Rom 5-8 word die konsekwensies van hierdie genade verder omskryf: die sondetoestand van alle mense, veroorsaak deur die eerste Adam, en die verbondenheid aan Christus, die tweede Adam, wat die vryspraak van sondeskuld tot gevolg het (Rom 5); twee misverstande word opgeklaar: (a) om vrygespreek te wees van sondeskuld beteken nie dat mens ‘n wettelose en sondige lewe kan lei sodat die genade van God meer kan word nie; dit is ‘n drogredenasie (Rom 6); (b) dit is nie die wet wat die oorsaak van ons veroordeling voor God is nie – die wet self is heilig, goed en reg – maar wel die sonde wat in ons woon (Rom 7); en daar is nou ‘n nuwe krag wat ons in staat stel om ‘n Godgewilde lewe te leef, naamlik die Heilige Gees (Rom 8).

Vervolgens probeer Paulus die vraag beantwoord: As dit alles waar is, wat is dan nou die posisie van die Jode, die ou verbondsvolk van God? Is hulle nou verlore; het God sy beloftes aan hulle vergeet (Rom 9-11)? Want dit is ‘n absolute raaisel vir Paulus – ‘n mens sou verwag dat die Jode, gegewe hulle geskiedenis, God se weg van redding deur Jesus, die Messias, met ope arms sou aanvaar. Maar hulle verwerp dit. Hoekom? Vanweë hulle trots, sê Paulus; hulle wil nie God se weg van redding aanvaar nie, maar verkies om staat te maak op hulle eie godsdienstige prestasies, naamlik die nakom van die wet. In groter besonderhede verloop die argument soos volg in Rom 9-11:

Romeine 9: Die hartseer van Paulus oor sy volksgenote word beskryf (9:1-5). Die rede waarom Israel tans uitgesluit is, is: (a) nie almal wat Israel is, is waarlik Israel nie (9:6); slegs die kinders van die belofte is God se kinders (9:7-13); die redding is dus afhanklik van God se verkiesing (9:13); (b) God is barmhartig oor wie Hy wil (9:14-18); (c) God sluit gevolglik ook dié wat geen volk was nie, in by sy barmhartigheid (9:23-26). Israel verkies egter om sy eie pad te loop; hulle soek die vryspraak deur die nakom van die wet, nie deur die geloofsvertroue in Christus nie (9:30-33).

Romeine 10: Hierdie hoofstuk is ‘n uitbreiding op Rom 9, veral oor die kwessie van die geloof sonder wetsprestasie. Die redding is vir elkeen wat glo (10:12-13), maar Israel wou nie die prediking van die Woord van genade glo nie (10:10:16,21). Daarom wend God Hom na ander, die heidene (10:19-20).

Romeine 11: Hoewel God Hom nou wend na die heidene het Hy Israel nie verstoot nie; Hy het wel ‘n oorblyfsel uit Israel gered (11:1-6). Die oorblyfsel is dié wat Hy verkies het uit genade (11:7). Hierdie gedagte skakel in by Rom 9:11-13 – dat die redding van God se verkiesing afhanklik is, nie van mense nie. Die saak van redding is egter nog lank nie vir Israel verlore nie, want weens Israel se verwerping van Jesus gaan die redding nou uit na die nasies (11:11-24), en dalk maak dit die Jode so jaloers dat hulle weer terugkeer na God se plan van redding. Paulus maak nou van ‘n beeld uit die natuur gebruik om God se handelinge te beskryf: Israel is soos ‘n mak olyfboom waarvan ‘n paar takke (ongelowiges) afgekap is. En by die mak olyf word nou die wilde olyftakke ingeplant (die heidene). Maar die heidene moenie dink dat hulle bo Israel voorgetrek word nie, want God kan altyd weer die afgekapte takke terugent op die mak olyfboom (Israel). Daar is dus hoop vir Israel op grond van God se genade (11:25-32).

Dit is min of meer hoe die argument verloop. Maar hoe maak ons teologies sin hiervan? Die kern wat Paulus wil beklemtoon, word in Rom 11:32 saamgevat: God het almal – Jood en heiden – aan die ongehoorsaamheid oorgegee sodat Hy Hom oor almal kan ontferm. God het nie witbroodjies nie – nie die Jode nie, ook nie die heidene nie. Almal leef uit God se genade. God is die eintlike Een wat mense se redding bepaal. Al wat die mens kan doen, is om daardie plan van redding te aanvaar of te verwerp.

So gesien, is dit duidelik dat daar twee denklyne deur Rom 9-11 loop: God se alwerksaamheid en die mens se verantwoordelikheid. Paulus probeer hierdie twee lyne heeltyd met mekaar in verband bring. Hy dink binne die raamwerk van die Joodse teologie van destyds oor God se handelinge met die mens. God is die Een wat alles bepaal en veroorsaak: beide goed en sleg kom van God af. Maar dit beteken nie dat die mens geen verantwoordelikheid het nie. As mense verlore gaan, kan dit nie op God se rekening geplaas word nie; en as mense gered word, is dit nie vanweë húlle prestasie nie, maar weens God se genade.

Die dominante gedagtelyn van Rom 9-11 gaan dus oor God wat verwerp én red. (God se bepalende handelinge word veral uitgedruk in gedeeltes soos Rom 9:10-18, 20-24; 11:5-10,28-32.) En dis veral die genadige hart van God wat beskryf word. As daar gered word, is God die inisieerder daarvan, en selfs wanneer dit lyk asof Hy verwerp (die Jode), is dit eintlik maar net om weer te red (die heidene), om so uiteindelik ook weer die Jode te betrek. God is die oneindig vindingryke; Hy laat Hom nie deur mense se sondige reaksies dwarsboom nie. God se genadige hart word dus beskryf in terme van die destydse Joods-teologiese denke dat God die alles-veroorsakende mag is. Ja, God verhard (11:8) en sny takke uit (11:17), maar die oogmerk van die verharding en snoeiwerk is redding, nie uitwissing nie. Soos 11:25-26 dit stel: dit is ‘n misterie, ‘n geheimenis; uit die verharding van Israel spruit die redding van die heidene voort sodat dit uiteindelik ook weer die Jode ten goede kan kom. Dit gaan uiteindelik oor die redding van die ganse mensdom, naamlik die “volle getal uit die heidene” en “die hele Israel”. Dít is wat God op die oog het.

God se reddingsplan is dus groter as sy oënskynlike verwerping van Israel. Selfs wanneer Hy verwerp, is dit om te red. Dít is hoe die hart van God is: oorvloedige genade vir almal; almal moet uiteindelik deel in sy genade. En God wend sy alles-veroorsakende reddende mag aan om presies dit te bewerkstellig.

Wanneer ‘n mens Rom 9-11 binne hierdie denkraamwerk verstaan, word baie van die soms skerp taal, soos “haat”, “verwerping”, “jaloers maak”, “verkiesing”, “oorblyfsel”, ens, verstaanbaar. Maar uiteindelik kan mens net saam met Paulus in ‘n doksologie (lofrede aan God) uitbreek: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!” (Rom 11:33-36).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl