Saamwoon en drank op kerkterrein – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Thelma vra:

Daar is mense in ons gemeente wat in sonde saambly. Hulle is in ons selgroep. Ek voel nie gemaklik daarmee nie, want dit is sonde. Hoe/wat sê ek vir hulle?

Daar is ook van die gemeentelede wat op die kerkgronde drink wanneer daar ‘n funksie is. Is dit toelaatbaar?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Saamwoon (sonder om getroud te wees) en drankgebruik op die kerkterrein val onder daardie gedrag wat vir sommige mag aanstoot gee en vir ander nie. Ons moet dus versigtig wees om die woord “sonde” hieraan te koppel voordat mens eers gepraat het oor wat sonde eintlik is.

Die meeste van ons word groot met ‘n sondelys in die agterkop – dít of dát is sonde, is verkeerd, en moet dus vermy word. Maar soos wat ons blootgestel word aan ‘n groter wêreld kom ons agter dat ons sondelyste nie altyd ooreenstem met ander s’n nie. Wat ons laat besef dat wat as sonde beskou word onder meer saamhang met die bepaalde godsdiens, kerk, kultuur en samelewing waarin ons grootgeword het. Ons grootword-konteks bepaal in ‘n groot mate ons waardes en hierdie waardes bepaal weer wat ons as reg of verkeerd – as sonde – beskou. Die waardes wat ons lewe rig, is dus nie altyd universele waardes nie, d w s, word nie noodwendig deur alle mense orals ter wêreld as rigtinggewende waardes beskou nie.

Waardes verskuif ook oor tyd heen. Wat vyftig jaar gelede as taboe beskou is, is nie noodwendig vandag meer so nie. Vyftig jaar gelede was egskeiding, ongehude swangerskappe en saamwoon iets waaroor net agteraf gefluister is; vandag word dit so min of meer as “aanvaarbare” verskynsels beskou. Dit wil nie sê dis reg nie, maar hoe ons daaroor oordeel, het verander. Ons is minder veroordelend daaroor as destyds. Toe was ons vinnig om dit as sonde te brandmerk, vandag is ons versigtiger om dit te veroordeel. Ons leef eenvoudig in ‘n meer tolererende wêreld vandag as voorheen.

Maar kom ons praat oor sonde. Wat is sonde? Ons kan kortweg sê dat sonde ‘n verhoudingsbegrip is, omdat die mens ‘n verhoudingswese is. Ons leef in verhouding tot God, ons medemens en die natuur. En in die Bybel leer ons dat daar ‘n regte en verkeerde manier van omgaan in hierdie verhoudings is. Wanneer ons afgode (in watter vorm ook al – geld, besittings, sport, helde, strukture, werk) aanbid in plaas van God, dan loop die verhouding met God skeef. Dan mis ons die doel waarvoor God ons gemaak het. En dit is sonde. Wanneer ons ons medemens haat, of bloot dié se belange nie positief bevorder soos ons eie nie, dan mis ons God se doel met ons medemens. Dit is sonde. Wanneer ons die natuur rondom ons verwaarloos of vernietig, dan misbruik ons die posisie waarin God ons gestel het in die wêreld. En dit is sonde.

Om hierdie verhoudings waarin ons staan, konkreet uit te leef na die bedoeling van God, het Hy vir ons die Tien Gebooie gegee. Dit trek vir ons breedweg die grense van ons daaglikse optrede teenoor God, ons medemens en die natuur. Wanneer ons hierdie grense oortree, begin die rooiligte aangaan. Daar is dus dinge wat ons moet vermy om tot eer van God en tot heil van die samelewing op te tree. Meer nog, Christus het die Tien Gebooie ook positief saamgevat as die uitleef van liefde teenoor God en naaste (Matt 22:37-40). Sonde is dus nie net die verkeerde dinge wat ons doen nie (oortreding van God se gebooie), maar veral die goeie dinge wat ons nie doen nie (ons traagheid om ander lief te hê). Dink aan die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37): bloot om die gewonde man langs die pad nie raak te sien nie en voort te gaan met jou lewe asof niks verkeerd is nie, is sonde. Of die gelykenis van die Skape en die Bokke (Matt 25:31-46): bloot om nie die ander se nood aan water, klere, voedsel, huisvesting of besoeke raak te sien en iets daaraan te doen nie, is sonde.

Wanneer sonde só voor ons opdoem, gebeur dit dat die dinge waarvan ons ander beskuldig, verbleek in die lig van ons eie tekortkominge, ja, ons sonde. Ons besef dat sonde baie dieper sny as net die oortreding van ‘n paar items op ons sondelysies. Sonde is ‘n voortwoekerende kanker, ‘n mag waarvan ons verlos en bevry moet word sodat ons waarlik mens na God se bedoeling vir God, vir mekaar en vir die aarde kan wees. Daarom is Jesus se optrede teenoor die vrou wat in die daad van owerspel betrap is so aangrypend (Joh 7:53-8:11). Die Joodse geestelikes het gou op haar toegesak en eis dat sy gestenig word. Maar Jesus wys dat hulle eers na hulleself moet kyk voor hulle haar veroordeel. Dis nie dat Jesus die vrou se optrede goedpraat nie – inteendeel. Wanneer Hy vir haar sê dat Hy haar nie veroordeel nie, voeg Hy by: “sondig nie meer nie”. Met ander woorde: gaan leef nou as bevryde, as vrygespreekte, ‘n lewe na God se bedoeling. God is dus nie voortdurend op die uitkyk hoe Hy ons kan uitvang en veroordeel nie. Nee, Jesus se bediening het juis daarin bestaan om ons bewus te maak daarvan dat God se genade ‘n verwelkomende en bevrydende genade is, een wat ons ontmoet waar ons is en ons innooi in sy koninkryk, maar dan ook so vrymaak dat ons Hom en mekaar werklik kan dien volgens die mense wat ons kan wees.

Mens moet eers bogenoemde pad loop voordat ons kan probeer antwoord op die vrae wat ons vraagsteller stel. Anders verval ons in moralisme en wettisisme. Ons moet eers die werklike aard van sonde voor oë kry, asook die ontsagwekkende omvang van God se liefde en genade, voor ons mekaar kan help met antwoorde.

Maar dan moet ons mekaar inderdaad help. Daar is egter nie net een regte antwoord nie. Daar is eerder ‘n bepaalde weg wat oopgaan waar daar meer as een konkrete optrede moontlik is. Kom ons neem die kwessie van drankgebruik op die kerkterrein eerste. Dit sou ek kon tuisbring onder die sogenaamde adiafora (Grieks: “neutrale sake”). Dis die dinge wat die ou kerkvaders die middelmatige sake genoem het, sake wat nie sonder meer as sondig, of nie, uitgemaak kan word nie, maar waaroor daar verskil van mening toegelaat moet word. Op voetspoor van Paulus se beredenering in Rom 14 en 1 Kor 8 het die kerk reeds lankal gesê dat daar sake is wat nie noodwendig in sigself verkeerd is nie, maar waaroor ons mekaar moet verdra en in ag neem. Paulus het dit oor die vleis wat aan afgode in die heidentempels geoffer is en dan in die slaghuise aan die publiek vir persoonlike gebruik te koop aangebied is. Sommige Christene (die sg swakkes) het gesê dat mens nie hierdie vleis mag eet nie omdat jy so deel kry aan die heidense afgodsdiens. Ander (die sg sterkes) het gesê dat mens vrylik hiervan kan eet omdat daar in elk geval nie so iets soos afgode bestaan nie. Vleis is vleis, maak nie saak waar dit vandaan kom nie. Paulus het waarskynlik simpatie met lg standpunt gehad, maar waarsku tog die “sterkes” dat hulle nie in hulle optrede die swakkes aanstoot gee en so tot struikeling bring nie. Gebruik liewers jou vryheid om ander nie te affronteer nie. Dis die weg van die liefde.

Ek kan begryp dat die gebruik van alkoholiese drank op kerkgronde aanstoot kan gee, veral as mens dink hoe sterk die kerk voel oor drankmisbruik en die misstande wat daaruit kan voortvloei. Aan die ander kant lê die sonde nie in die drank as sodanig nie, maar eerder in die misbruik daarvan. Die verantwoordelike gebruik daarvan is aanvaarbaar. Dus, vir die een is dit taboe, vir die ander is dit alledaagse gebruik, solank dit met aanvaarbare gedrag gepaard gaan. Dis een van daardie middelmatige sake waaroor ons mekaar moet tolereer en nie veroordeel nie. In elk geval, streng gesproke, as die gebruik van alkoholiese drank op die kerkterrein totaal verbied word, moet dit ook ten opsigte van die nagmaal gedoen word. En dit sou tog absurd wees. Persoonlik dink ek die kerkraad of verantwoordelike liggaam moet in ooreenstemming met die bepaalde kerklike tradisie en algemeen aanvaarbare norme dit aan lidmate stel onder watter voorwaardes dit in orde is dat drank op die kerkterrein tydens funksies gebruik kan word. En as dit blyk dat dinge “hand uitruk”, moet uiteraard verder opgetree word. My ervaring is egter dat dit selde nodig is om tot drastiese maatreëls oor te gaan.

Wat die saamwonery betref, het ons met ‘n ietwat ander situasie te make. Want hier kom die huwelik in die spel, waaroor daar duidelike riglyne in die Bybel is. Die kerk was nog altyd aan die kant van die huwelik en het nog nooit ‘n blanko tjek aan sy lidmate gegee om maar met die tydsgees saam te gaan en die huwelik te ignoreer nie. Dit is wel so dat ons tyd in die algemeen toegeefliker is oor saamwoon voor of buite die huwelik. Die huwelik as instelling is onder groot druk. Daar is allerlei redes waarom mense nie tot trou kom nie. Wat jongmense betref, kan dit wees omdat die huwelik om finansiële redes uitgestel word weens lang studieperiodes, of omdat hulle nie meer glo in die huwelik as instelling nie vanweë die hoë egskeidingsyfer, of vanweë slegte ervarings in die ouerhuis oor wat die huwelik behels. (Asof saamwoon mens vrywaar van die slegte dinge van die huwelik.) Wat ouer mense betref, is dit dikwels so dat paartjies nie finansieel die mas sal opkom as hulle formeel trou nie, omdat die vrou byvoorbeeld haar pensioen van ‘n vorige huwelik verloor. Dan woon hulle maar eerder saam. ‘n Mens moet dus eers mooi agter die kap van die byl probeer kom hoekom ‘n bepaalde paartjie eerder saamwoon as trou. Maar as dit bloot gaan oor ‘n minagting of wanpersepsie van die huwelik, behoort daar, dink ek, op ‘n verantwoordelike, nie-veroordelende en simpatieke manier in gesprek gegaan te word oor wat ‘n Christelike huwelik is in die lig van die Bybel. Bybels gesien kan mens die huwelik terugvoer tot ‘n Godgegewe instelling vir die uitbou van die menslike geslag. (Die spesifieke formaat van en gebruike rondom die huwelik verskil uiteraard van tyd tot tyd en van kultuur tot kultuur.) Verder, in sy wese is die huwelik ‘n publieke verklaring voor God en mens dat twee mense hulleself in liefde en trou aan mekaar verbind, en as sodanig ‘n lewe wil leef wat tot eer van God, tot verwesenliking, uitdrukking en uitbou van hulle liefde vir mekaar en tot voordeel van die samelewing wil wees. Voorgenoemde is ‘n siening wat mens kan verdedig op grond van die Bybel, eerder as ‘n blote saamwoon-situasie wat eintlik net op ‘n soort onderlinge verstandhouding berus en môre, oormôre tot niet kan gaan sonder dat daar enige beskerming vir die partye is. In elk geval het navorsing bewys dat oor die algemeen huwelikspare finansieel, sielkundig en maatskaplik beter daaraan toe is as saamwoonpare. En as saamwoonpare se verweer is dat hulle vir alle praktiese doeleindes ‘n huwelik het, kan inderdaad gevra word waarom die paar dan nie maar tot trou kom nie? Want dit gaan nie net oor die trousertifikaat nie, maar oor alles waarvoor ‘n huwelik staan (soos hierbo beskryf). En hiervoor behoort Christene sensitief te wees, ten minste as hulle die volle wil van God ernstig neem vir hulle lewe.

Maar na alles sou ek baie versigtig wees om ‘n saamwoonsituasie sonder meer as sonde te brandmerk. Sulke pare is dikwels vir huwelikspare tot voorbeeld, ten spyte daarvan dat hulle nie formeel getroud is nie. Daarteenoor is baie getroude pare se lewe vir hulleself, hulle kinders en die samelewing tot pyn en groot verleentheid. Maar net so is daar baie egpare wat die ware bedoeling van die huwelik uitleef. En sulke huwelike, het navorsing bewys, lê weer die grondslag vir ‘n stabiele samelewing. Ons moet dus nie die kind met die badwater uitgooi nie. Eerder as om die huwelik self die groot sondebok te maak, moet ons die mens in die huwelik onder die soeklig plaas. Want net so min as wat mens ‘n motor kan blameer vir die baie motorongelukke, maar eerder die mens wat die motor wangebruik, net so min kan die huwelik as instelling die skuld gegee word vir dinge wat verkeerd loop. Daar is niks met die huwelik as instelling verkeerd nie. Soos met baie instellings en strukture is dit eerder die mens wat die instelling ‘n slegte naam gee as andersom. Saamwoon is dus nie regtig ‘n oplossing vir die dilemma van mislukte huwelike nie, maar eerder ‘n heropvoeding van die mens se verantwoordelikhede in die huwelik.

Om dus saam te vat wat saamwoon betref: voordat mens voor die voet ‘n situasie as sondig afskryf, moet jy jouself eers deeglik vergewis van die betrokke omstandighede, en dan ‘n pad sáám met die paartjie loop, ‘n pad van liefdevolle betrokkenheid en nie van veroordeling nie. Dit kan immers gebeur dat die eintlike sonde nie gepleeg word deur die paartjie wat “in sonde saamwoon” nie, maar eerder deur mense wat uit die hoogte op ‘n beterweterige manier probeer raad gee (Matt 7:1-5!). Want uiteindelik is dit die Heilige Gees wat mense van sonde oortuig, nie ons veroordeling nie. Dis juis wanneer mense ons optrede as aanvaardend en liefdevol beleef, dat hulle oortuig word dat hulle optrede nie in lyn is met God se wil nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...