Sabbat of Sondag?

Sabbat of Sondag? – Francois Malan

Johann Trollip vra:

Het  u enige inligting oor die viering van die rusdag op ‘n Sondag en nie op ‘n Saterdag nie!

Antwoord:

Dr. Francois Malan antwoord:

Jesus is op Sondagmôre uit die dood opgewek en het op die dag reeds aan sy dissipels verskyn (Matteus 28:1; Markus 16:1-6; Lukas 24:1-7; 13-40; Johannes 20:1,2,19). Die Christene het die opstandingsdag van Jesus die ‘dag van die Here’ genoem (Openbaring 1:10). Volgens Handelinge 20:7 en 1 Korintiërs 16:2 het die gelowiges op Sondae bymekaargekom vir hulle gemeenskaplike maaltyd en nagmaal.

Die woord Pinkster kom van die Grieks vir 50 (pentekoste). Op die vyftigste dag na Paasfees het die Jode hulle dankfees vir die oes gehou, dit is die dag na die sewende Sabbat vanaf die fees van die eerstelinge (Levitikus 23:15-16). Op die Sondag is die Heilige Gees uitgestort (Handelinge 2:1-4).

Jesus en sy apostels het wel die Sabbat gevier, maar Jesus het beswaar gemaak oor die wettiese betekenis daarvan. Volgens Markus 2:27-28 sê Jesus vir die Fariseërs wat beswaar maak dat sy dissipels op die sabbatdag koringare afpluk om te eet: ‘Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.’

Die sabbat is nie ‘n doel op sigself nie. By die skepping het God die sabbat as gawe aan die mens gegee, nie as ʼn wet nie, maar as ʼn bevryding van die las en drukte van sy werk, as ʼn verkwikking ook vir die diensknegte en die vee, ʼn dag waarop God saam met die mens wil feesvier. Die sewende dag waarop God gerus het, was eintlik die mens se eerste dag, nadat hy op die sesde dag geskep is (Genesis 2:2-3). Ons word geroep om die Here te dien, nie die sabbat nie.

Wanneer Paulus in ʼn stad by die Jode begin met sy sendingwerk, gaan hy na die sinagoge op ʼn Sabbatdag (Handelinge 13:14-15), maar vir die gelowige gemeentes preek hy op Sondag (Handelinge 20:7). Aan die bekeerlinge uit die nie-Jode het Paulus nie die onderhouding van die Sabbat verkondig nie, maar vryheid van die Joodse wette en gebruike, en ʼn lewe aan Christus verbind (Romeine 14:1; Galasiërs 4:9-11). By die vergadering in Jerusalem word die onderhouding van die Sabbat nie van die bekeerlinge uit die nasies gevra nie (vgl. Handelinge 15:28-29).

In Kolossense 2:16-17 reageer Paulus teen die dwaalleraars wat onder andere die onderhouding van die sabbat as ʼn maatstaf  van ware godsdienstigheid vereis. Paulus beskou dit as ʼn skaduwee van Christus wat sou kom, en dat dit nou die betekenis van Christus verduister. Die voorskrifte en gebooie van die Ou Testament was die skaduwee wat die buitelyne van Christus vertoon het. Maar nou het Hy gekom, en moet ons nie langer aan die skadubeeld vashou nie, maar in liefde en dankbaarheid saam met Hom en vir Hom lewe (vgl. ook Hebreërs 8:5-6; 10:1).

Outeur: Dr Francois Malan