Salomo en die inwyding van die tempel

 

By definition we cannot “qualify” for grace in any way, by any means, or through any action. —Sinclair Ferguson

 

Salomo en die inwyding van die tempel

In 1 Konings 8 lees ons van die inwyding van die tempel. Die gebeure wat vir ons aangeteken is, is: die ark word in die tempel geplaas, Salomo se toespraak gevolg deur sy gebed en dan word dit afgesluit met Salomo wat die volk seën.

 

Na sy gebed seën Salomo die hele gemeente van Israel (8:54 – 66). Om te seën beteken dat die Here met sy mense is en dat al sy deugde tot hulle beskikking is. Salomo loof die Here vir sy bereidwilligheid om sy mense na die beloofde land te bring en aan hulle rus te gee; dat Hy voortdurend by hulle is; dat Hy sy verbondswet aan hulle gegee het en hulle help om dit te onderhou; dat die Here Salomo en al sy mense se saak ondersteun in antwoord op hierdie gebed; dat Hy nasies toelaat om te besef dat Israel se God die enigste, ware, lewende God is. Aan die einde van die seën volg ‘n herinnering dat seën net kom vir diegene wat hulle volledig oorgee aan die Here en wat bereid is om ‘n verbondslewe te leef.

 

In hierdie slotgedeelte word die Here weer geloof. Die Here se trou word geïllustreer deur die vervulling van sy beloftes aan Israel. Die Here het hulle ‘n vaste woonplek gegee. Dit dui op die einde van die woestyntyd en die besitneming van Kanaän. Dit sluit die vredestyd van Salomo in.

 

Salomo spreek in hierdie seën drie hartsbegeertes uit:

  1. Mag die Here ons God by ons wees … mag Hy ons nooit verlaat of laat vaar nie. Hy moet help soos dit van dag tot dag nodig mag wees. Hierdie gebed moet dag en nag by Hom, die Here ons God, wees.
  2. Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings … mag julle met volle oorgawe voor die Here ons God leef.
  3. Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie ‘n ander nie.

 

Is hierdie ook ons hartsbegeertes?