Seën kindertjies in – Francois Malan

Ansie vra:

Ek het n vraag wat by my opgekom het…As n man en vrou saam bly en n kind het…kan hulle die kind saam inseën by die kerk? Die ouers is nie getroud en leef ook nie vir die Here nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die inseëning van ’n kind geskied veral in Baptiste kerke wat hulle lidmate na belydenis van hulle geloof in die Here Jesus groot doop. Ander kerke doop die kindertjies van gelowige ouers as die sigbare teken van die verbond wat God met die ouers en hulle kinders gemaak het. In Handelinge 2:38-39 sê Petrus: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.’  

Die inseëning geskied deur ouers wat lidmate van die kerk is en bereid is om voor die Here te belowe dat hulle die kind sal grootmaak om te glo in die Here Jesus as die Seun van God.

Jesus Christus is die Lam van God (God se Offerlam) wat die sonde van die wêreld wegneem (Johannes 1:12). Daarom het Hy aan die kruis gesterf om al ons sonde op Hom te neem en ons daarvan vry te spreek en so ons verhouding met God reg te maak. Aan elkeen wat in Hom glo het Hy die reg gee om kind van God te word (Johannes 1:12).

As ’n kind ingeseën sou word deur ouers wat nie vir die Here leef nie, is die inseëning van geen waarde nie en is dit eintlik ’n bygelowige bespotting. Die doel van die inseëning is om die kind vir sy lewe lank aan die Here toe te wy en uitdrukking te gee aan die ouers se verantwoordelikheid voor die Here om die kind vir die Here groot te maak.  

As die kind groter word en ten spyte van sy ouers se ongeloof in die Here Jesus begin glo en self besluit om vir die Here te leef, kan hy of sy self na enige kerk toe gaan om geleer en gedoop te word as volle lidmaat wat in daardie kerk die Here saam met ander gelowiges wil aanbid.

In Mattheus 28:19-20 het Jesus vir sy dissipels gesê: Gaan en maak dissipels (leerlinge en volgelinge) van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. 

Is die gawe van ’n kindjie nie juis die Here se oproep aan die ouers om vir die Here te begin lewe, en saam met gelowiges by ’n kerk aan te sluit om die Here gereeld te loof en te dank nie; en hulle kind daar te laat doop of inseën nie?

Moet ouers wat nie getroud is nie, nie dit begin oorweeg om te trou en so meer vastigheid aan die kind en sy ontwikkeling te bied nie? As hulle eers vir die Here begin lewe, sal hulle sien hoe dit moontlik word om in liefde as getroudes saam te lewe.

Efesiërs 5:21 sê: ‘Wees ondergeskik aan mekaar uit ontsag vir Christus.’ Filippense 2:3-5 sê: Moenie iets uit selfsug of ydelheid doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na dié van ander. Julle moet dieselfde gesindheid onder mekaar openbaar as wat in Christus Jesus was.’ So kan ’n hegte liefde tussen man en vrou groei, met wedersydse trou aan mekaar as getroudes.

Skrywer:  Prof Francois Malan