Sekularisasie

No man is an island – Johm Donne

 

Sekularisasie

As ons na die korrespondensie van ouer mense kyk, sal ons dikwels sien dat hulle DV gebruik. Dit is ‘n afkorting vir die Latynse woorde Deo volente (Deo =  van die Latynse stam Deus wat God beteken; volente van die Latynse stam vollens wat gewillig beteken). Saam beteken hulle “as dit God se wil is.” Die oorsprong hiervan is Jakobus 4:13 – 15: Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

 

Hierdie gewoonte het vandag feitlik verdwyn. Gaan jy na Google en soek na DV kry jy dat digital video die betekenis van hierdie afkorting is. Wanneer het DV se betekenis verander? Is dit ‘n teken van ons wegdryf van God? Die wêreld word toenemend sekulêr. Die mense wat erken dat hulle Christene is, neem af in die Westerse wêreld. Is dit belangrik dat die wêreld meer sekulêr raak?

 

Wat beteken sekularisasie? Volgens HAT is dit “gelykvormig aan die wêreld maak; nie-kerklik maak.” Dit beteken godsdienstige skeptisisme; dit is die siening dat godsdienstige oorwegings geen plek het in burgerlike sake nie. Sogenaamde “sagte” sekularisasie beteken dat die kerk vryelik kan opereer in die openbaar. Die kerk kan egter nie aanvaar dat sy sienings aanvaar sal word nie. “Harde” sekularisasie beteken dat godsdiens tot godsdienstige instellings beperk moet word – geen deelname in die openbare arena nie. Godsdiens in skole moet verban word. Godsdienstige oortuigings kan nie openbare moraliteit vorm nie. God word uit alle openbare ruimtes verban.

 

“Harde” sekularisasie beteken ons moet ons geskiedenis en erfenis verlaat. Dit is intellektueel vlak en geskiedkundig oneerlik – dit is kinderagtig, maar dit is die pad waarop ons tans loop. Hoe moet die kerk hierop reageer?

  1. Moenie kla oor ‘n tydperk wat verby is nie, maar moedig “volwasse” sekularisasie aan. Hierdie vorm van sekularisasie beteken dat die kerk geen spesiale voordele moet verwag nie. Volwasse sekularisasie erken dat verandering onvermydelik is, maar besef dat ‘n samelewing wat los van sy wortels raak, sal gou verdwyn. ‘n Aantal verskillende stemme word toegelaat aan die tafel van idees. Geloofwaardige Christelike stemme kan aan die bespreking deelneem.
  2. Die kerk moet hom aan ‘n getroue teenwoordigheid in die samelewing toewy. Christene wat in die samelewing teenwoordige is, sal nie toelaat dat godsdiens tot ‘n ghetto beperk word nie. Hulle sal vir Jesus leef; hulle sal die waardes wat Hy geleer het, modelleer; hulle sal Hom getrou op die markplein volg. Hulle sal hulle daaraan toewy om sout en lig vir ‘n veranderende wêreld te wees.