Selfbeheer is nie self beheer nie

We should never be afraid to trust an unkown to a known God – Corrie Ten Boom

Selfbeheer is nie self beheer nie

Selfbeheer is ‘n Bybelse konsep. Diegene sonder selfbeheer pas Paulus se beskrywing: Die goeie wat ek wil doen, doen ek  nie,maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek (Romeine 7:19). Uit ‘n Bybelse perspektief kan ons onsself nie beheer nie. Dit is wat Paulus in Romeine 7 sê: Ons wil doen wat ons weet ons behoort te doen, maar doen dit nie. Daarom roep hy uit: Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Die self moet beheer word, maar ons moet elders kyk hiervoor.

 

Petrus sê dat ons alles in die stryd moet werp om ons geloof met selfbeheersing te versterk (2 Petrus 1:5 – 7). Selfbeheersing is ook ‘n vrug van die Gees (Galasiërs 5:22 – 23). Hier sit ons nou met ‘n dilemma: God verwag selfbeheersing van ons, maar ons kan nie onsself beheer nie. Dit is immers wat ons in Romeine 7 lees.

Die antwoord vir hierdie dilemma kry ons in Romeine 8. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees (Romeine 8:4). Wat ons nie self kan regkry nie, word nou moontlik gemaak deur die Gees. Selfbeheersing is nie iets wat ons met groot moeite self regkry nie – dit is ‘n vrug van die Gees.

God vereis selfbeheersing van ons en dit is moontlik, maar nie as ons dink selfbeheer is self beheer nie. Dit is selfbeheer eers as ons self onder beheer van die Gees gebring is. As jy sukkel met selfbeheer en jouself wil regruk, lees Romeine 7. Onmiddellik sal jy besef dit is ‘n onmoontlike taak. Lees dan Romeine 8 en kyk na die krag wat vir ons in die Heilige Gees beskikbaar is. Word bemagtig deur die Heilige Gees en kry die self in selfbeheer.