Selfbeheersing

Selfbeheersing – Kobus Kok

Between stimulus and response there is a space…

In that space lies our ability to choose our response. Therefore, we are nothing less than responsible beings, able to respond appropriately.

Onbekende Outeur

Selfbeheersing is niks minder nie as die vermoë om verantwoordelike en redelike keuses te maak. Reeds van die antieke tyd af was selfbeheersing ‘n belangrike morele waarde wat nagestreef is deur dié wat wysheid soek. In die antieke Griekse wysheidsdenke word die woord enkrateia vir selfbeheersing gebruik. Hierdie woord is onder meer saamgestel uit die woord kratos wat met krag of heerskappy vertaal kan word. Hiervolgens is dit duidelik dat selfbeheersing die krag/vermoë behels om heerskappy/beheer oor iets te kan uitoefen. Iemand wat innerlike krag besit het dus die vermoë om standvastig te staan wanneer ‘n ongesonde krag sy/haar vermoë oor jou wil uitoefen.

Indien mens terugdink aan jou lewe, aan tye waar jy selfbeheersing verloor het, is mens die meeste van die kere spyt daaroor. Die vrug van min selfbeheersing lewer meer as dikwels suur vrugte op, terwyl selfbeheersing se vrug wysheid en heelheid is. By die werk en by die huis kan ons dus kies hoe ons gaan reageer wanneer ons kwaad word, wil skinder of op een of ander wyse negatief verlei word. Selfbeheersing as innerlike krag en kompaswyser van wysheidsoekers gaan jou help om die regte respons te gee. Die gevolg daarvan is dat jou kollegas, personeel of meerderes met tyd respek, vertroue en omgee vir jou sal ontwikkel omdat jy in verskillende kontekste gewys het dat selfbeheersing en wysheid deel van jou mondering is. Die innerlike krag van selfbeheersing bemagtig nie net jouself nie, maar bemagtig ook ander. Negatiewe energie smeer maklik af aan ander, maar so ook positiewe energie. Ons ken almal mense by wie ons ware wysheid en selfbeheersing aanskou het, en dit het ons geïnspireer. Net so kan jy iemand wees wat ander inspireer.

 

In 2 Petrus 1:3-11 lees ons ‘n kosbare wysheidsteks uit die Nuwe Testament (Nuwe Vertaling): “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 5En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. 8As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 9Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. 10Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. 11En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

 

Mag ons nuwe harte kry wat klop met die energie en krag van wysheid, godsvrug en selfbeheersing.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok