Selfmoord – Francois Malan

Awie vra:

Onderwerp: selfmoord en dat n mens hom nie met voorwerpe soos klip en hout mag bevredig nie

Boodskap Teks:

ons is besig met n paar onderwerpe waar ek graag duidelike skrif soek wat ek al raak gelees het maar nie nou kry nie

1 jy mag nie jou hand aan eie boessem slaan nie (selfmoord)

2 geen self bevrediging deur voorwerpe soos hout of klip nie

3as u my daardie skrifte kan aangee sal ons baie dankbaar wees

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1. Jy mag nie jou hand aan eie boesem slaan nie (selfmoord).

Die 1953-vertaling het die opdrag van die Here om Moses se  geloofwaardigheid by die Israeliete en by die Farao te versterk, in Eksodus 4:6-7 vertaal met: ‘steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu. En Hy (die Here) sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees.’

Die 1983-vertaling het ‘in jou boesem’ verduidelik met ‘in die vou van jou klere.’

In Afrikaans het ons ’n spreekwoord: ‘Die hand in eie boesem steek’ wat beteken ‘jou gewete ondersoek en jou eie skuld erken.’ Die spreekwoord het geensins met selfmoord te doen nie.

Selfmoord is ’n groot probleem wat veral mense in diep depressie of wanhoop of vertwyfeling daartoe lei. Daar kan egter uitsonderings wees. Maar eintlik is dit iemand wat dink dat hy die reg het om sy lewe te beëindig, omdat hy/sy die beskikkingsreg oor die lewe het, die lewe wat die Here in sy liefde aan hom/haar toevertrou het. Omdat die Here aan ons die lewe gee, het Hy die reg om dit weer te neem, en mag ons nie ons hand aan ons eie lewe slaan nie.

Genesis 1:27: God het die mens na sy beeld gemaak, en in sy neus die asem van die lewe geblaas (Gen 2:7). Job 27:3 praat van die asem van God wat in ons is. Ps 104:30 sê die Here gee die lewensasem. Hy sê vir ons dag vir dag: ‘jy mag lewe.’ Maar as ons nie meer elke dag glo dat Hy sê: ‘jy mag lewe’ nie, dink ons dat ons moet lewe om onsself te bewys en dat ons die seggenskap oor ons lewe het. God gee egter aan ons die vryheid om te lewe onder sy hand as ons Skepper, Gewer en Here van ons lewe. Ons behoort aan Hom en Hy lei en sorg vir ons. As ons dit nie meer glo nie, begin ons dink dat ons self die seggenskap het oor ons lewe.

Jesus het gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie’ (Joh 14:6).  Die mense wat na Hom toe kom kry die lewe (Joh 5:40). Hy het sy lewe gegee sodat die wêreld kan lewe (Joh 6:51). Jesus het gekom sodat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed (Joh 10:10).

 

2. Geen selfbevrediging deur voorwerpe soos hout of klip nie.

Jesaja 37:19 verwys na die nasies wat deur Assirië verwoes is en  wat hulle gode verbrand het, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip, daarom is hulle vernietig.

Jeremia 3:9 ‘Israel het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van hout en klip.’  Dit verwys na die diens van Baäl en Astarte wat met klippilare en houtpale gesimboliseer is, en waar gemeenskap met die tempelprostitute sou maak dat Baäl reën en vrugbaarheid sou gee (vgl. Jer 2:20; 3:6).

In Openbaring 9:20 word ook verwys na die afgode wat o.a. van hout en klip gemaak is.

Dit lyk nie na selfbevrediging met hout en klip nie, maar na afgodediens deur seksuele omgang met tempelprostitute of seksuele orgies by of voor afgode van hout en klip.

 

Skrywer: Prof Francois Malan