Sewe van die verbasendste dinge wat Jesus ooit gesê het

 

I do not agree with a big way of doing things. What matters is the individual. If we wait till we get numbers, then we will be lost in the numbers and we will never be able to show that love and respect for the person. – Moeder Teresa  

 

Sewe van die verbasendste dinge wat Jesus ooit gesê het

Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie (Johannes 7:46)

Hierdie is die woorde van die wagte wat aan die priesterhoofde terug rapporteer om te verduidelik waarom hulle nie vir Jesus na die priesterhoofde teruggebring het nie. Jesus se woorde is verbasend – iets wat ons altyd sal onthou. Baie van diegene wat Jesus gehoor het, het sy woorde uitdagend, aanstootlik of selfs godlasterlik beskou. As Jesus opgestaan het om te praat, was niemand verveeld nie.
In Matteus 11:21 – 30 sê Jesus sewe verbasende dinge. ‘n Mens wil amper soos die psalmis uitroep: Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (Psalm 139:6). Kom ons kyk na hierdie sewe dinge:

Een: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.

Jesus verwys hier na die hardkoppige inwoners van Gorasim, Betsaida en Kapernaum. Dit moes Jesus se gehoor woedend gemaak het – om te dink dat die bose Sodom beter af as hulle sal wees by die oordeelsdag. Die basiese vraag is wat ons gedoen het met dit wat ons ontvang het. Diegene wat min ontvang het, maar God getrou gedien het, is geloofskampioene.

 

Twee: Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ek is seker die intelligensia in die gehoor het aanstoot geneem. Baie mense sou net hulle koppe geskud het. Jesus sê: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie (Lukas 18:17). Niemand gaan deur sy eie pogings in die hemel kom nie.

 

Drie: Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. Hoekom het Jesus dit moeilik vir slim en geleerde mense en maklik vir eenvoudiges gemaak om die dinge van die koninkryk van God te verstaan? Dit was sy bedoeling. As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil (Hebreërs 11:6). Psalm 115:3: sê: En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil,doen Hy. God het sy planne; Hy weet wat dit is; ek weet dit nie.

 

Vier: My Vader het alles aan My toevertrou … Net voor Jesus sy Groot Opdrag aan sy dissipels gee om uit te gaan en die mense sy dissipels te maak, sê Hy: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18). Hy kan opdragte aan God se kinders gee. Jesus maak dit duidelik dat Hy die Verlosser en Regter is. Jesus is Here; Hy is in beheer.

 

Vyf: Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. Hierdie sou die gehoor nog verder ontstel het. Hulle weet immers wie Hy is – die timmerman van Galilea. Die volle identiteit van Jesus – volkome mens en volkome God – het hulle nie verstaan nie. Ook ons sukkel om dit te verstaan.

 

Ses: En ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. Wat beteken dit? In die Johannes-evangelie lees ons: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (14:6). Jesus is die deur. As ons Jesus uit ons geloof neem, eindig ons met ‘n leë dop.

 

Sewe: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig. Kom na My; Ek gee rus; my juk; my las. Alles gaan oor Jesus.

 

God is liefde. Verlossing is beskikbaar. Ons word ingenooi.  Al voorwaarde is dat ons soos kindertjies moet word