Shalom: Innerlike vrede


“The early Christians rejoiced when they were deemed worthy to suffer for what they believed. In those days the Church was not merely a thermometer that recorded the ideas and principles of popular opinion; it was a thermostat that transformed the mores of society.”
Martin Luther King, Jr

 

Shalom: Innerlike vrede

In die Ou Testament verwys shalom meestal na die vervulling wat die mens ondervind as hulle God se teenwoordigheid beleef. Koning Dawid het in sy lewe baie moeilikhede ondervind. Een van die pynlikste was sekerlik toe sy seun, Absalom, teen hom saamgesweer het.

 

Absalom skaf vir hom ‘n kar en perde aan en vyftig man het gewoonlik voor hom gehardloop (2 Samuel 15). Hy het soggens vroeg opgestaan en langs die pad by die stadspoort gaan staan. Elkeen wat daar verby gekom het vir ‘n beslissing van die koning sê hy: “Kyk, jy het ‘n sterk, regverdige saak, maar by die koning sal niemand na jou luister nie … As ek maar net as regter in hierdie land aangestel word, sou ek ‘n regverdige uitspraak lewer.” Vier jaar later vra hy by Dawid toestemming om na Hebron te gaan om my gelofte wat ek teenoor die Here afgelê het, te gaan betaal.

 

Hy stuur ook boodskappers na al die Israelitiese stamme met die volgende boodskap: As julle die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom het koning geword in Hebron. So vermeerder Absalom se volgelinge en die sameswering word sterker. ‘n Boodskapper kom by Dawid aan: Die hele Israel is aan Absalom se kant. Dawid beveel sy hele huishouding om te vlug uit Jerusalem. Hulle vlug te voet.

 

Die opskrif van Psalm 3 verwys spesifiek na hierdie episode – Dawid wat vir sy seun Absalom vlug. Innerlike vrede is tog onmoontlik onder hierdie omstandighede. Tog vind Dawid innerlike vrede, want hy vestig sy gedagtes op God se teenwoordigheid in sy lewe.

 

Bekommernis beroof ons van ons vrede. Dit verhoed dat ons snags rustig kan slaap. As ons op die Here vertrou, kan ons saam met die psalmis sê: As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Die Here is altyd naby aan ons. Ons kan soos die psalmis uitroep: Hulp kom net van die Here af (Psalm 3:9).