Slawe – hoe is hulle behandel?

Slawe – hoe is hulle behandel? – Jan van der Watt

Baie mense dink dat slawe in die ou tyd net sleg behandel is. Dit was nie heeltemal waar nie. Daar was slawe wat sleg behandel is, maar dit was nie outomaties so nie.

Slawe was die eiendom van sy of haar baas. Die slaaf het geen persoonlike regte of ‘n “eie wil” gehad nie. Die slaaf was soos ‘n stoel of tafel in ‘n huis. Die baas kon daarmee doen wat hy wil.

As ‘n mens dit besef, besef jy dat ek nie my kar sommer sal verniel nie – dit is immers vir my ‘n bate. Net so was slawe die eienaar se bate. As hulle op die lande moes werk, was dit belangrik dat die slawe gesond en sterk bly. Daarvoor het die baas gesorg en daarom sou die baas nie sy slawe onnodiglik sleg behandel nie.

Natuurlik, hoe meer vaardighede die slaaf gehad het, hoe kosbaarder was die slaaf. Immers, ‘n groot bron van slawe was oorloë. As jy ‘n land inneem, was al die geleerdes, vakmanne ens. slawe gemaak. Dit kon dus wees dat jy ‘n slaaf kon kry wat die “minister van opvoeding” in die ander land was, of ‘n professor, of advokaat. So ‘n slaaf was natuurlik baie waardevol en is goed opgepas.

Ons weet van slawe wat as bestuurders van plase aangestel is, as privaat “onderwysers” vir die kinders van rykes, ens. Hulle is dus nie sleg behandel nie.

Wat wel gebeur het, is dat ongehoorsame slawe gedissiplineer is. Om dissipline te handhaaf, moes daar soms met geweld en selfs die dood (as afskrikmiddel) gereageer word.

Wat die slegste vir slawe was, was die totale verlies aan eie vryheid, die plaas van jou lewe en wil in die hand van iemand anders. Jy verloor beheer oor jouself en jou eie vryheid. Dit kan sleg wees… behalwe as jy ‘n slaaf is van die Goeie Meester.

Skrywer: Prof Jan an der Watt