Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (1)

SLEUTELS WAT DIE ANTIEKE WÊRELD OOPSLUIT – Kobus Kok

Wees bewus van die kulturele – en tydskloof

Tussen die Bybelse tyd en ons tyd vandag, bestaan daar ‘n reuse sosiaal kulturele, religieuse en tyd kloof. Die wêreld van toe was gewis gans anders as vandag se tyd. Dikwels maak ons die fout om die Bybel deur die gekondisioneerde en gesosialiseerde sosiaal religieuse paradigma van ons tyd te lees. Eenvoudiger gestel, ons kyk deur ons eie bril na die wêreld van daardie tyd, so asof die antieke wêreld presies dieselfde was as ons wêreld vandag.

Dit is egter grotendeels problematies, omdat mens op die manier eintlik ‘n klomp dinge inlees in die teks uit die antieke wêreld aan die een kant, en aan die ander kant dikwels nie regtig verstaan wat aangaan nie. Dit laat my dink aan ‘n storie wat ons baie kan help om dit wat so pas gesê is beter te verstaan:

In die jaar 4009, 2000 jaar van nou af, was daar eenmaal ‘n navorser (Koos) wat argeologiese opgrawings in ‘n antieke stad met die naam Pretoria gedoen het. Eendag ontdek hy ‘n antieke dokument wat op antieke papier geskryf was en dit lui soos volg:

“Blou Bulle verslind Haaie op groen Loftus gras – alweer”

Opgewonde het die navorser ‘n simposium by die Universiteit gereël en almal uitgenooi van die dekane tot die rektor, om sy nuut gevonde teorie aan te hoor. By die simposium argumenteer hy oortuigend dat hy konkrete wetenskaplike bewys het dat sekere blouerige Bulle in die antieke tyd haaie wat op die land geloop het keer op keer (alweer) verslind het. Almal het hande geklap, opgestaan en ‘n groot prys aan hom oorhandig.

Enkele jare later het nog ‘n navorser (Piet) ‘n antieke dokument ontdek wat lui:

“Haaie verslind Blou Bulle in finaal”

Na deeglike navorsing het die navorser uiteindelik die deurbraak gemaak. Hy het besef dat hierdie tekste telkens uit ‘n bepaalde genre kom, naamlik koerantberigte, en telkens uit die sogenaamde sport afdeling. Kort voor lank het hy die kloutjie by die oor gebring en sy teorie ontwikkel dat Haaie en Bulle nie letterlik verstaan moet word nie, maar metafories. Die antieke mense het naamlik op metaforiese wyse so van hulle rugby spanne gepraat en dat die woord “verslind” eerder metafories as die oorwinning verstaan moet word van een span bo ‘n ander in die “finaal” wat in werklikheid na die Curriebeker verwys.

Ons wat in die jaar 2009 leef weet natuurlik sommer van die begin af dat Koos se teorie totaal van die merk af is omdat hy nie die konteks van die jaar 2009 verstaan nie. Verder weet ons dat die dokument wat Koos opgegrawe het nie letterlik verstaan moet word nie omdat dit uit die sport-deel van die koerant (genre) kom. Koos het dus ‘n reuse fout begaan deur sy eie teorie net so af te druk op die antieke teks. Navorser Piet het natuurlik iets daarvan verstaan en nader aan die waarheid gekom. Juis om hierdie rede is dit belangrik dat ons nie sommer ons eie teorieë en verstaan van die wêreld gaan afdruk op die antieke teks nie. Ons moet in die eerste plek sensitief wees om die konteks van die antieke wêreld te verstaan.

Dit is nie net die sogenaamde tydskloof en die kulturele kloof wat aansienlik verskil tussen ons die antieke wêreld waarin die Bybel geskryf is nie, maar ook die taal. Het u geweet dat die Ou Testament oorspronklik in Hebreeus geskryf is en dat die Nuwe Testament oorspronklik in Grieks geskryf was. Verder is dit belangrik om te verstaan dat die Grieks in die Bybel antieke Grieks is wat glad nie meer gepraat word vandag nie. Daar is letterlik ‘n handjie vol mense in die wêreld wat hierdie antieke tekste kan lees. Die probleem rondom taal is ook beduidend en moet telkens onsluit word. Neem maar net die voorbeeld in Afrikaans waar ons sou sê iemand is hoog in die takke. Indien ons in Amerika met iemand sou gesels en vir hulle verduidelik dat gisteraand se partytjie jolig was omdat soveel mense hoog in die takke was – gaan die arme Amerikaner nie verstaan wat ons bedoel as ons sê “They were high in the trees” nie. Die Amerikaner sal dit natuurlik letterlik verstaan en in sy gedagtes die partytjiegangers hoog in die boom langs die huis sien. Net so kan ons nie sommer net die Griekse teks letterlik vertaal nie, omdat dit tot misverstand sal lei en mense nie die ware betekenis sal kan verstaan nie. Juis om hierdie rede onderskei Bybelwetenskaplike geleerdes tussen letterlike vertalings en dinamies ekwivalente vertalings. Laasgenoemde vertalings (soos Die Boodskap) poog om die oorspronklike bedoeling van die teks aan die moderne leser weer te gee.

In hierdie studie/reeks gaan ons dus poog om die sleutels te gee wat die antieke wêreld beter vir ons kan oopsluit. Ons gaan veral kyk na die verskil tussen ons waardes en die van die antieke wêreld en dit telkens illustreer aan die hand van Bybelse tekste waar hierdie sake ter sprake is.

Outeur: Dr Kobus Kok