Sokrates en godsdiens

Calvyn

Sokrates en godsdiens

Die Christelike geloof word tans deur militante ateïste aangeval. Hoe hanteer ons dit? Petrus sê: Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe (1 Petrus 3:15). Die probleem is dat Christene dikwels nie die werklike vrae wat ongelowiges vra, antwoord nie. Die beste formaat om hierdie probleem te hanteer, is debat. Die probleem met so ‘n debat is dat hoflikheid maar skaars is in ons moderne samelewing. Daar is ook ‘n sinisisme oor die waarheid en rede. Baie mense glo vandag dat daar nie so iets soos die absolute waarheid is nie.

  

Sokrates het geglo dat die lewe wat nie ondersoek is nie, nie die moeite werd is om te leef nie. Sy model vir die soeke na die waarheid was gesonde, openbare debat. Hy het homself beskou as ‘n vroedvrou – sy vrae sou lei tot die geboorte van ‘n nuwe idee. Hy glo dat die sterk- en swakpunte van ‘n siening slegs na vore kom as dit krities ondersoek word. Hierdie is nie altyd ‘n aangename ondervinding nie – veral as jou oortuigings op vooroordele berus. Jy leer nederigheid as jy besef dat iemand anders se siening eintlik beter as jou eie is.

Daar is baie mense wat by so ‘n debat kan baat:

Ateïste – ten minste diegene wat bereid is om te luister.

Christene wat seker is in hulle geloof, maar graag beter antwoorde op die vrae van ongelowiges wil gee.

Christene met twyfel waarvoor hulle nie antwoorde het nie.

Mense wat hou van ‘n lewendige debat – maak nie saak wat hulle glo nie.

Die probleem is dat mense wat eenders dink, saam kom – hulle word nie blootgestel aan ander idees nie. Miskien moet ons weer kyk na Sokrates se model.