Sonde: Wat is die aard van sonde?

 

Those who have left the deepest impression on this sin-cursed earth have been men and women of prayer. —D.L. Moody

 

Sonde: Wat is die aard van sonde?

Ek gaan ‘n aantal blogs gebruik om oor sonde te skryf. Ek gaan, waar toepaslik, van die Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gebruik maak.

 

In die Skrif word ‘n groot aantal beelde vir sonde gebruik. Kom ons kyk na die belangrikste van hierdie beelde.

  1. Wetteloosheid

Dit beteken ons gehoorsaam nie God se opdragte nie. Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid (1 Johannes 3:4). Ons het hier met ‘n doelbewuste verbreking van God se wet te doen.

 

  1. Oortreding

Dit is tog die wet wat toorn meebring; maar waar daar geen wet is nie, is daar ook geen oortreding nie (Romeine 4:15). En Adam is nie verlei nie, maar die vrou is verlei en het ‘n oortreder geword (1 Timoteus 2:14). Dit beteken dat ‘n grens of ‘n gevestigde perk oorskry word. Hierdie mense tart God openlik uit.

 

  1. Opstand en ongehoorsaamheid

Julle was dood deur die oortredinge en sondes waarin julle vantevore geleef het volgens die bose lewenswyse van hierdie wêreld – volgens die heerser wat mag uitoefen in die lug – die gees wat nou aan die werk is onder die kinders van die ongehoorsaamheid (Efesiërs 2:1 – 2) Ongehoorsaamheid beteken ‘n doelbewuste wegstap van God – ‘n begeerte om los van God te lewe. In hierdie gevalle word God se ontwerp vir die mensdom doelbewus verwerp.

 

  1. Ontaarding

Sodat julle blaamloos en onskuldig kan wees, kinders van God, onbesproke te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die Hemel (Filippense 2:15). Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle bly en julle verdra? (Lukas 9:41). Hier word verwys na iets wat reguit is wat skeefgetrek word; na iets wat oorspronklik goed was, maar nou sleg gemaak is.

 

  1. Mis die teiken

Was my heeltemal skoon van my skuld en reinig my van my sonde (Psalm 51:4). As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, geld dit vir hom as sonde (Jakobus 4:17).

Sonde is ‘n doelbewuste besluit. Ons mis die teiken – God se volmaakte standaard. Sy standaard sluit in sy volmaakte liefde en wet.

 

Opstand teen God se gebooie kry ons vroeg reeds in die verhaal van die Bybel (Genesis 3:1 – 7). Paulus maak uitgebreid gebruik van Adam se val in sy konstruksie van die leer van die sonde. Die Nuwe Testament aanvaar drie basiese eienskappe van sonde:

  • Die wêreld is inherent sondig.
  • Sonde is die mens se opstandige gesindheid teenoor God se wil.
  • Verlossing bestaan uit vergifnis van sonde, versoening met God en vrymaak van die mag van sonde deur die werk van Jesus Christus.

Sonde is ‘n poging om God te onttroon; om vry van sy gesag te wees; om nie aan Hom aanspreeklik te wees nie.

 

Om mense vandag te oortuig dat hulle sondaars is en dat hulle deur hulle sonde van God geskei word, is moeilik en raak al hoe moeiliker.

 

Volgende keer gaan ons na die gevolge van sonde kyk.