STABILITEIT

 

Unbelief about the existence and personality of Satan has often proved the first step to unbelief about God. —JC Ryle

 

Stabiliteit

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

George Smith het in 1960 ‘n klein boekie geskryf: The Apple Tree Community. Dit is ‘n aantal kortverhale wat die gemeenskap wat om ‘n ou appelboom op sy plaas vergader het, beskryf. Hy begin die boekie deur te vertel van die houtkapper wat op sy plaas aankom – byl in die hand. Hy bied toe aan om die appelboom af te kap. Die boer kon die stukke hout in sy kaggel gebruik en hy kon ‘n sterk, nuwe, regop appelboom in sy plek plant.

Smith weier die houtkapper se aanbod, want daar was meer aan hierdie boom as dit wat die houtkapper raakgesien het.

Hy sê dat hierdie boom ‘n heuningfabriek, ‘n hotel vir voëls, ‘n kafeteria in die somer, ‘n spens in die winter, ‘n konsertverhoog, ‘n plek waar eiers uitbroei, ‘n kleuterskool, ‘n skuiling, ‘n blommeuitstalling is. Maar dit is ook ‘n stukkie groen aarde waar allerhande blomme groei.

Hierdie boom kon vrugte dra en gasvryheid bied aan die applelboomgemeenskap, want dit staan al jare daar. Oor baie dekades het dit daar volwasse geword.  Om vrugte te dra, om gasvryheid te bewys, om ‘n groeiende gemeenskap te  onderhou, moet geloofsgemeenskappe diep gewortel en volwasse word in spesifieke plekke.  Die  goeie en oorvloedige lewe wat God vir sy skepping beplan, word onderhou deur die interafhanklikheid van God se skepsels. Hierdie interafhanklikheid, soos die appelboom bewys, groei ten beste as ons vir ‘n lang tyd op een plek vas staan.

Volgende keer gaan ons kyk na hoe God se roeping van versoening ontvou.