Voorwoord: Die Eerste Brief van Johannes

Jesus die mens is die enigste Seun van God, die bron van gemeenskap (1:1-4)

 1:1 ‘n Tipiese Griekse brief begin met die naam van die skrywer, die geadresseerdes en ‘n groet, soos in Paulus se briewe en in 2 Johannes. Die skrywer begin hier egter met die hoofsaak van die brief en spel die waarheid uit om alle dwalings by die wortel af te sny. Verse 1-3 is oorspronklik een sin, wat die uitdrukking ‘Woord van die lewe’ verduidelik. Die een ding wat sy gedagtes beheers, is: Jesus Christus is die Woord van die lewe!’ Die drie verse kan saamgevat word as: ons getuig en verkondig aan julle die Woord van die lewe, sodat julle met ons gemeenskap kan hê, en julle saam met ons gemeenskap kan hê met die Vader en die Seun. Ons skrywe hierdie dinge sodat die gemeenskap van die gelowiges, as kinders van God, met sy vreugde vervul sal wees. 

             ‘Wat van die begin af was’ verwys waarskynlik na die begin van alle dinge, die begin van die wêreld (Genesis 1:1), vóór alle tye  (soos in Johannes 1:1).Johannes wil baie duidelik sê dat die Woord, dat Jesus, van ewigheid af, vóór alle tyd, bestaan. Dit stel hy voorop in sy boodskap aan die gemeentes.

            Die skrywer is deel van ‘n groep mense, sy mede-dissipels, volgelinge van Jesus tydens sy aardse omwandelings, van wie hierdie getuienis uitgaan; ‘n groep wat, as oor- en ooggetuies, eerstehandse kennis het van dit wat hier oor Jesus geskrywe word. Hy wat van ewigheid af bestaan, het ‘n konkrete mens geword. Ons het sy prediking ‘gehoor,’ sy optrede ‘gesien,’ Hom ‘aandagtig bekyk,’ ‘met ons hande aangeraak.’ Die ewige God was konkreet liggaamlik by ons – dit teenoor die dwaalleraars wat òf Jesus se godheid misken, òf sy mensheid.

‘Aangaande die Woord van die lewe’ – sommige sien hierin slegs die lewende evangeliewoord wat lewe wek. Ander sien hierin die Woord van Jn 1:1,4 wat self God is, in wie die ewige lewe is, en wat ‘n swakke mens geword het (Jn 1:14). Die twee betekenisse kan altwee aanvaar word, want Jesus wat self die lewe is en dit verkondig, gee ook die lewe (Jn1:4, 12; 3:36). Alle lewe kom van God af. Die mens wat in Jesus, die Woord van die lewe glo, word verbind aan die bron van alle lewe.

1:2 Hierdie tussensin, tussen verse 1 en 3, verklaar die ‘lewe’ van vers 1 verder: ‘en die lewe is geopenbaar, en ons het gesien en getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.’ Die ‘lewe’ wat geopenbaar is aan die dissipels is sowel Jesus wat die lewe is, en die ewige lewe wat Hy aan sy dissipels meedeel, nl. lewe in gemeenskap met Hom wat ewig lewe. Ons kry deel van die ewige lewe as God se kinders deurdat ons aan die Seun van God, wat die ewige lewe is, verbind is.

Sy goddelike lewe was in die  geskiedenis sigbaar gemaak met die koms van Jesus na die wêreld. In Jesus, as die Woord van God, word die wese van God geopenbaar. Die persoonlike ontmoeting met die lewende historiese Woord van God, moet uitloop op die gelowige se getuienis oor die Woord. Onder die leiding van die Heilige Gees lei dit tot die verkondiging van die evangelie deur woord en daad.

Die ‘lewe’ word verklaar as die ewige lewe wat by die Vader was. Die klem lê nie op die tydsaspek van die ewige lewe nie, maar op die kwaliteit van die lewe. Dit is ‘n lewe in gemeenskap met die Vader, die ewige God, die bron van alle lewe. Dit is die lewe wat aan ons geopenbaar  is met die koms van die Woord van God, in wie die lewe is, en wat mens geword het.

1:3 Vers 3 herhaal vers 1 se ‘ons het gesien’ en ‘ons het gehoor’ om dit te beklemtoon. Vers 2 het die ‘lewe’ van vers 1 verduidelik as ‘ewige lewe.’ In vers 3 sê Johannes: die manier om die ewige lewe te verkry, wat God deur Jesus gee, is om Jesus te ken. Ons het Jesus geken deurdat ons die Woord, wat mens geword het, met ons oë gesien het en met ons ore gehoor het – teenoor die dwaalleraars wat party sy Godheid loën en ander sy mensheid. Ons is boodskappers wat ons kennis van Jesus, in opdrag van Hom, ook aan julle aankondig. Al het julle Hom nie gehoor of gesien nie, is die koms van die goddelike ewige Lewe in die mens Jesus ook vir julle bedoel (Jn 20:29).

            ‘Sodat ook julle met ons gemeenskap kan hê, en dié gemeenskap van ons (saam met julle) is met die Vader en met sy Seun Jesus Christus.’ Die eerste doel van die verkondiging is ons gemeenskap en verbondenheid aan God en daarmee ook met mekaar as sy kinders wat aan sy Seun verbind is – gemeenskap met God en sy kinders, wat die ganse lewe omvat, is ‘n meer omvattende begrip as net verlossing om hemel toe te kan gaan, .

Die aard van die Christelike gemeenkap word bepaal deur God. Hy is die oorsprong daarvan,  en Hy bewerk dit onder ons. God neem ons op in die gemeenskap tussen die Vader en die Seun, waardeur  gelowiges ook aan mekaar verbind word as hulle Johannes se getuienis oor Jesus glo. Sonder die onderlinge liefdesgemeenskap van gelowiges is daar ook nie sprake van gemeenskap met God nie (1 Jn 4:20).

1:4 Johannes skryf namens hulle apostels om vas te lê wat in die hele brief geskryf word. Die unieke gemeenskap met God en met mekaar is die bron van ‘ons volkome blydskap’ – bly om deel te wees van God se gesin van liefde.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die eerste Brief van Johannes: Inleiding

Die brief is ‘n dringende oproep tot gelowiges en gemeentes (i) om te volhard in die geloof in Jesus Christus, die Seun van God, wat egte mens geword het om met ons te identifiseer, en as God die straf vir ons sondes aan die kruis gedra het; (ii) om as kinders van die God van lig en liefde, te lewe in sy lig en in sy liefde, deur mekaar lief te hê.

Die brief word waarskynlik ná die Evangelie van Johannes geskryf deur die ‘ouderling/oudste’ (presbuteros), die skrywer van 2 en 3 Johannes. Volgens 1 Jn 1:1 was die skrywer ‘n volgeling van Jesus tydens sy aardse onwandelings. Die kerklike tradisie  het, volgens die skrywers uit die 2e eeu n.C., aanvaar dat die apostel Johannes die skrywer is. Die brief is waarskynlik neergeskryf deur van Johannes se volgelinge. Die brief bevestig en brei uit op die Evangelie van Johannes, en daar sal telkens na die Evangelie verwys word om die agtergrond in te vul.

Die Evangelie volgens Johannes was voor 1 Johannes geskryf aan die huisgemeentes in en om Efese ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam  kan hê’  (Jn 20:31). Daarby is die Evangelie ook ‘n oproep om twee groepe in die gemeentes te versoen. Die Joodse Christene het hulle toewyding aan die mens Jesus bely, maar het dit moeilik gevind om Jesus se Messiaskap en sy Godheid te aanvaar, en het ‘n belangrike plek gegee aan die onderhouding van die Joodse wet om  verlossing te verkry. Die Griekse Christene (en ‘n paar van die Hellenistiese Joodse Christene) het nie ‘n probleem met Jesus se godheid gehad nie – die Griekse kultuur  het baie gode gehad. Maar hulle was nog onder die invloed van die Hellenistiese verlossingskema, dat die mens se siel juis uit die tronk van sy liggaam verlos moet word, en hulle het dit moeilik gevind om  te glo dat Christus werklik liggaamlik mens geword het. Daarteenoor het die Evangelie die klem gelê op Jesus se Godheid én sy mensheid. Dié Evangelie wou die Joodse gelowiges, wat Jesus minder as God beskou het, oortuig van sy Godheid, en die Griekse gelowiges, wat Christus nie as ‘n egte mens beskou het nie, van sy mensheid oortuig – die Woord van God, self God, wat vlees/swakke mens geword het (Jn1:1-3,14); vgl. Tomas se belydenis nadat hy die merke aan Jesus se hande gesien het: my Here en my God (Jn 20:28). Daarby beklemtoon die Evangelie wedersydse liefde (13:34-35; 15:12,17) en kerkeenheid (17:11,21-23) .

Later het die spanning in die gemeentes groter geword, soos uit 1 Johannes blyk, en het daar, benewens die middelgroep wat die boodskap van die Evangelie aanvaar het, aan die twee sykante verharding ingetree. Die Joodse systroom het dit al meer beklemtoon dat die wet onontbeerlik is vir verlossing, en die Hellenistiese aanhangers het al minder erg gehad aan ‘n lewenswyse volgens die wet en die eise van die liefde. Daar was ook ‘n vierde groep, wat op die punt gestaan het om van die gemeentes en van Christus los te breek, of reeds weggebreek het (1 Jn 2:18-19), òf oor die wet van onderlinge liefde (Helleniste), òf  oor Jesus se godheid en die vryheid wat die geloof bring (Jode).

[Die geskrifte van Ireneus en Eusebius sê dat die Hellenistiese Jood Serinthus, ‘n tydgenoot van Johannes  in Efese, verkondig het dat Jesus gebore is uit Josef en Maria (nie maagdelik nie), en dat die Christus met sy doop op Jesus neergedaal het in die vorm van ‘n duif. Van toe af het hy die onbekende Vader verkondig en wonders gedoen. Op die end het die geestelike Christus die liggaam van Jesus verlaat, die mens Jesus het gesterf en dit is Christus wat opgestaan het. So het Christus as ‘n geestelike wese sonder lyding gebly. Daarby was ‘n morele lewe vir Serinthus nie van belang nie, en was hy arrogant liefdeloos teenoor ander.  Daarteenoor beklemtoon 1 Johannes  geloof in Jesus as die Christus wat mens geword het, gehoorsaamheid aan die woord van God, en onderlinge liefde onder gelowiges.]

1 Johannes is in die eerste plek ‘n oproep tot die getroues in die gemeentes, om hulle geloof te versterk, om te bly by die evangelie wat hulle ontvang het, deur te volhard in die geloof in Jesus Christus as die Seun van God, en om in die lig te lewe as kinders van God wat in sy liefde bly en mekaar liefhet. Daarby wil 1 Jn. beskouings regstel, wat afwyk of die evangelie verdraai. Hy wys die dwaling dat Jesus nie ‘n egte mens geword het nie, af, in 1:1; 2:22-23; 3:16; 4:1-3; 5:6. Dat Jesus God is, blyk uit die hele boek (vgl. bv. 1:3; 2:1,22-24 3:8,23; 4:9,14-15; 5:1,5,9-13 en veral 5:20).  So wil hy eenheid in die gemeentes bewaar (2:26; 3:7; 4:1). Met hierdie oproep tot die gemeentes bied die skrywer van 1 Jn. ‘n lewende alternatief vir ‘n verstokte Judaisme en vir die Hellenistiese oorskatting van die menslike rede. As mens het Jesus Homself geïdentifiseer met ons versoekings, sonde, lyding en dood, en omdat Hy ook God is, kon Hy die straf op die sonde van die hele wêreld dra, ons van die mag van die sonde bevry, en die dood ‘n poort na die hemel maak.

1 Johannes gaan hoofsaaklik oor ware Christen dissipelskap. Die twee hoofafdelings van die brief verduidelik die vereistes daarvan en spoor die lesers aan om te lewe in die lig (1:5-2:27) as kinders van God (2:28-5:13).

Skrywer:  Prof Francois Malan