Is ons aanspreeklik teenoor God?

What we call Man’s power over Nature turns out to be a power exercised by some men over other men with Nature as its instrument.” ― C.S. Lewis

Is ons aanspreeklik teenoor God?

Jesus Christus het vir ons sondes gesterf. Dit is waarskynlik die sin wat jy die meeste in die kerk gaan hoor. Maar sonde is nou nie juis iets waarvan ons moderne wêreld praat nie. Net so staan aanspreeklikheid ook sentraal in ons interaksie met God. Oor aanspreeklikheid praat ons nog minder. Wat vereis ons verhouding met God van ons?

 

‘n Goeie plek om te begin is by Miga 6. God is hier in ‘n hofsaak met sy volk gewikkel en Hy roep die hele skepping op as getuies – God kla Israel aan: Wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak? Dit is nie God wat iets verkeerd gedoen het nie, maar sy mense. Daarna herinner God hulle aan wat Hy alles vir hulle in die verlede gedoen het (vers 4 – 5).

In vers 6 – 7 is dit nie meer God wat praat nie, maar die mens. Die mens vra ‘n vraag: Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Onmiddellik dink hy aan offers, olie en selfs sy eersgeborene. Ons soek altyd groot gebeure wat alles moet regstel. God soek iets eenvoudig … maar moeiliker. God vra dat ons dag na dag in aanspreeklikheid tot Hom sal lewe.

Vers 8 sê dat God verwag dat ons respek vir Hom sal hê en hierdie respek aan ander sal oordra: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. God se probleem is nie offers nie, maar die mens se bereidwilligheid om ander uit te buit.

Vers 9 – 12 klink nogal baie soos wat ons vandag in ons koerante lees. Ons leef nou nie so dat vir God vreugde gee nie. Lees ons die res van hierdie boek, sien ons dat God ons daarvoor aanspreeklik hou. Die basis van ons verhouding met God is ons aanspreeklikheid teenoor Hom.

Vers 13 – 16 beskryf God se reaksie op die hofsaak: Daarom het Ek jou begin straf; Ek het jou begin verwoes oor jou sondes. Dit is baie duidelik dat God nie sommer sonde ignoreer nie.

Soms oordeel God onmiddellik; soms wag God voor Hy reageer, maar ons bly aanspreeklik teenoor Hom.

Hoekom sou God dan omgee hoe ons leef? Lees weer Genesis 1:26 – 28: Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld sodat hy kan heers … God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Beeld en verteenwoordiger van God – dit geld net vir die mens. God gee aan die mens die hele skepping om te bestuur. Maar ons rol in “bestuur” maak ons nie onafhanklik van God nie.

Daar is baie mense wat leef asof God nie bestaan nie – hulle wil hulle eie ding doen. Ons is gemaak om ’n verhouding met ons Skepper te hê. Dit impliseer aanspreeklikheid teenoor Hom.




Aanspreeklikheid

Aanspreeklikheid

Hoe ontwikkel jy aanspreeklikheid?

  • Vir ‘n leier wat gereeld en getrou sy Bybel bestudeer, sal God deur die Heilige Gees gebiede wat verandering benodig, blootlê. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God (1 Korintiërs 2:10).
  • Aanspreeklikheid kom in die vorm van mentors en eweknieë. Jy moet aan hierdie mense toestemming gee om te vra of jy nie dalk van koers afdwaal nie. Yster slyp yster, vriende vorm mekaar (Spreuke 27:17).
  • Aanspreeklikheid vereis dat jy bereid moet wees om te leer. Baie leiers verontagsaam die waarskuwings van mense om hulle. Gee jou aandag aan ‘n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ‘n regverdige, en sy kennis vermeerder (Spreuke 9:9).

Aanspreeklikheid is vandag ‘n probleem, want mense wil nie aanspreeklikheid vir wat hulle doen, aanvaar nie. Dit is egter nie iets wat ons kan verontagsaam nie: almal van ons is vir iets aanspreeklik. Aanvaar dit.