Tweede aarde onder die duiwel se beheer?

Tweede aarde onder die duiwel se beheer? – Kobus Kok

Eddie vra: 

Na ‘n selgroep een aand het die gesprek om die skepping van die aarde gegaan. Daar is genoem dat toe God die aarde geskape het dit die tweede aarde was en dat die eerste aarde onder beheer van die duiwel was. Waar kan ek meer hieroor lees ?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord: 

Tweede aarde onder die duiwel se beheer? 

Dit is nou eintlik vreeslik moeilik om presies te weet waarna die persoon verwys, omdat Genesis dit baie duidelik maak dat God die skepper is van alles wat bestaan. Daar is wel twee skeppingsverhale in Genesis, en daaroor kan mens meer lees deur enige goeie kommentaar op Genesis te raadpleeg in standaard reekse soos Word Biblical Commentary, Anchor Bible Dictionary, Hermeneia, ens. ‘n Kommentaar bespreek vers vir vers die Bybel en lê dit uit, terwyl dit ook toepaslike agtergrondgeskiedenis verskaf.

Daar is in die antieke wêreld verskillende skeppingsverhale deur verskillende kulture vertel en geboekstaaf. So het die Jode verskil van die Babiloniërs, die Grieke van die Romeine, die Platoniste van die Neo-Platoniste en van die Gnostici. In sommige van die Heidense gelowe kan mens die idee kry dat daar ‘n minderwaardige god is wat in beheer van die skepping is, maar dit is geensins die gedagte wat mens in die Bybel sal vind nie. Lees maar net Openbaring 4:1-11 waar God op die troon sit. Lees sommer ook Kol 2:15 wat vertel hoe die duiwel in die triomftog van God meegesleur is, of Johannes 1:1-18 wat vertel dat God die bron van lewe is en alles geskep het.

Dit gaan baie energie neem om die antieke wêreld se verskillende idees oor die skepping te bestudeer. Die beste bron wat dit vergelykend doen is Kittel en andere se Theological Dictionary of the New Testament. Daarin kan mens die woord skepping/creation opsoek. Die boek sal dan vir jou die Griekse, Joods-Hellenistiese, Nuwe Testamentiese en na-Nuwe Testamentiese perspektiewe gee.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Geloofsvrae: Die aarde of die hemel

Geloofsvrae: Die aarde of die hemel – Adrio König

Die aarde of die hemel – waar is ons tuiste?

Die Bybel begin én eindig met die hemel en die aarde (Gen 1 en Open 21-22). Maar in beide dele gaan dit eintlik om die aarde, in Gen 1 om die oorspronklike aarde, en in Openbaring 21-22 om die nuutgemaakte aarde.

Dit het simboliese betekenis dat die Bybel só begin en eindig. Daar is bepaalde sentrale sake in die Bybel: God, die mense, en die aarde. As ons hulle in verband met mekaar wil dink, is dit: God in gemeenskap met die mense op die aarde. Wat is dit anders as die verbond, en hoe sou ons God se skeppingsdoel beter kon omskryf?

Maar wat dan van die hemel?

Daar is ‘n sin waarin hemel en aarde ‘n eenheid is (soos in Gen 1:1 en Open 21:1), maar daar is ‘n sin waarin hemel en aarde teenoor mekaar staan en ons tussen hulle moet kies. As ons klaar gekies het, kan ons terugkom en hul weer as ‘n eenheid aanvaar.

Hemel en aarde staan teenoor mekaar in die sin dat daar baie Christene is wat negatief teenoor die aarde staan en ‘n sterk verlange na die hemel het. Alles wat met die aarde en die `tydelike lewe’ te doen het, is minderwaardig. Dit gaan net om die geestelike dinge, en die vooruitsig om hemel toe te gaan. Hulle sleutelvraag aan ‘n ongelowige is: As jy vannag doodgaan, gaan jy hemel toe?

Daar is ‘n vroomheid en ‘n toewyding agter hierdie verlange na die hemel waaroor ‘n mens net dankbaar kan wees. Dit is meestal mense wat die Here regtig liefhet en ‘n hart het vir ander mense wat nie die Here ken nie. Maar dit beteken nog nie dat ons nie kan nadink en vrae vra oor hierdie oortuiging nie.

As hemel en aarde só teenoor mekaar geplaas word, wat moet ‘n Christen se keuse regtig wees? Gaan dit nie in die Bybel om die aarde nie? Het God nie die aarde gemaak om hier in gemeenskap met ons te leef nie? Kom God nie aarde toe as Hy gemeenskap met Adam en Eva wil hê nie? Kies Hy nie vir Abraham om in ‘n spesifieke land op aarde vir Hom ‘n volk te bou nie? Kom bly Hy nie in die tempel by hulle nie? Kom Hy nie in Jesus aarde toe om ons te verlos nie? Kom die Gees nie aarde toe om die verlossing van Jesus in ons lewe en in die wêreld in te dra nie? Red Hy ons nie om ons hier op aarde ‘n taak te gee nie? Bring Hy nie uiteindelik die nuwe Jerusalem na die nuwe aarde toe nie? En kom woon Hy nie dan finaal by ons op die nuwe aarde nie?

As dit alles waar is, beteken dit net dat God getrou is, dat Hy sy oorspronklike doel met sy skepping nie laat vaar nie: om ‘n aarde te maak waar Hy in gemeenskap met ons wil leef.

En die hemel? Daar is ‘n sin waarin die hemel ‘n bietjie buite die wêreld van mense lê. ‘n Mens lees selfs in die Psalms: `Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy vir die mense gegee’ (Ps 115:16). In die OT is dit dan ook die uitsondering as iemand hemel toe gaan (Henog, Elia). In die grootste deel van die OT is daar min sprake van ‘n hemelverlange of selfs van ‘n verwagting van lewe na die dood. Mense se vrees is dat hulle gemeenskap met God hier op aarde verbreek sal word. Hulle juig as God hulle van die dood red sodat hulle verder op aarde kan leef en die gemeenskap met God kan geniet. Hiskia is die klassieke voorbeeld (Jes 38), maar die Psalms is vol daarvan (Ps 6:5-6; 13:4-6; 18:5-7; 23:3-6; 30:3-6, en nog baie verder aan). Hulle geluk lê in ‘n `vol’ (lang en voorspoedige) lewe in gemeenskap met God op aarde, en as hulle hierdie voorreg geniet het, sterf hulle tevrede. Dink maar aan Abraham (Gen 25:7-8), Dawid (1 Kon 2), Job (Job 42:17) (9.1).

En dit klop met heelwat lyne in die Bybel. Allereers het ons reeds gekyk na wat ‘n mens die eerste eenrigtingstraat in die geskiedenis sou kon noem: die voortdurende beweging van God na die mense op die aarde. Die aarde as die plek waar God met mense werk. Verder is daar ‘n sterk verband tussen die mens en die grond. Die mens word nie net gevorm uit grond nie, maar die woord `adam’ het ook verband met `grond.’ ‘n Mens dink ook nog aan die merkwaardige rol wat die land speel as deel van God se verbond met Abraham, ‘n nadruk wat behou word in die NT as die landsbelofte uitgebrei word na al die kinders van God en na die hele aarde: `Geseënd is die sagmoediges want hulle sal die nuwe aarde ontvang’ (Mat 5:5). In lyn hiermee kry ons ‘n aantal beloftes wat direk die toekoms van die aarde raak soos die merkwaardige profesie oor die groot vrede op aarde (Jes 11:1-10).

En dan kan ‘n mens nie die merkwaardige einde van die laaste boek in die Bybel vergeet nie waar daar in besonderhede ingegaan word oor die eindbestemming van die mense in God se teenwoordigheid: ‘n nuwe (nuutgemaakte) aarde, die nuwe Jerusalem, die strate, poorte, geboue, die groot rivier met die bome, en die volke wat daarheen stroom. Dit is ‘n aardse prentjie van idilliese vrede en geluk wat ingelui word deur die belofte van alle beloftes: `Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God’ (Open 21:3).

Aan die einde kom God op aarde by sy kinders woon. En die hemel? Maar is die hemel dan nie juis waar Hy is nie? As Hy na ons toe kom, kom die hemel seker saam. Dan is ons op die aarde in die hemel. Dan sal dit regtig `hemel op aarde’ wees. Dít is ‘n gesonde hemelverlange.

Dit alles beteken dat die aarde ‘n sentrale rol in die omgang van God met die mense speel. Ons het op aarde ‘n roeping, en hier moet ons die Here verheerlik, nou, en tot in alle ewigheid.

Dit is jammer dat daar soorte teologie en vroomheid is wat mense vervreem van hul woonplek. ‘n Joodse teoloog het die Christene beskuldig van verraad teen die aarde. En die ander beskuldiging dat dit by uitstek Christene en Christelike oortuigings is wat lei tot die uitputting van die aarde se hulpbronne en tot die besoedeling van lug en water, is ongelukkig nie van alle waarheid ontbloot nie.

Dit moet vandag as een van die hoogste roepings van die kerk beskou word om met alle mag mee te werk aan die beskerming van ons omgewing vir die nageslag. Die `oplossing’ van die probleem wat deur sekere Christengroepe voorgestel word, dat die ekologiese krisis net nóg ‘n teken van die einde is en dat Jesus juis die aarde sal verwoes as Hy weer kom – en les bes, dat ons in elk geval nie soveel belang by die aarde het nie omdat ons hemel toe gaan – is net nóg ‘n voorbeeld van dié soort oortuiging wat agterna – as dit te laat is! – net stil verdwyn sonder dat iemand verder verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

God het vir ons ‘n skoon aarde gegee. Dit is deel van ons heiligmaking dat dit binne-in ons, en rondom ons, sal skoon wees.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König