Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (3) – Adrio König

10.1.3 Jesus as Jahwe

Die eerste is die gebruik om uitsprake wat in die Ou Testament van Jahwe gegeld het, in die Nuwe op Jesus toe te pas. Dit is ’n algemene gebruik in die Nuwe Testament. Hier volg drie taamlik willekeurige voorbeelde.

 

  • Die vraag wie aan die Here (Jahwe) kan raadgee (Jes 40:13), word op Christus toegepas (1 Kor 2:16).
  • Die Here (Jahwe) het krygsgevangenes saamgeneem (Ps 68:19), maar in die Nuwe Testament geld dit van Christus (Ef 4:8).
  • Die “magtige heerlikheid” van die Here, waarvan die Ou Testament vol is, word in die Nuwe op Jesus toegepas (2 Tess 1:9).

Dit beteken ’n bepaalde vereenselwiging van Jesus met Jahwe. Wat van Jahwe in die Ou Testament geld, word in die Nuwe aan Jesus toegeskryf.

 

Die tweede is die geweldige uitspraak van Paulus in die lied in Filippense 2. Hier hou hy Jesus aan ons voor as voorbeeld van hoe ons ander hoër as onsself moet ag. Hy haal dan die lied aan waarin die vernedering van Jesus in besonderhede uitgespel word. En dan volg die keerpunt wanneer ons lees hoe God Jesus ná sy vernedering weer verhoog het. God het Hom

“tot die hoogste eer verhef

en aan Hom die Naam gegee

wat bo elke naam is,

sodat in die Naam van Jesus

elkeen wat in die hemel

en op die aarde

en onder die aarde is,

die knie sou buig,

en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!’

tot eer van God die Vader” (Fil 2:9-11).

 

Vir Jode en Christene is daar net een Naam wat bo elke naam is. God het dus ná Jesus se vernedering aan Hom die Naam Jahwe gegee. Daarom moet elke knie van alle lewende wesens voor Hom buig, wat net van Jahwe gegeld het, en daarom sal almal bely: Jesus is Kurios (Here, wat die LXX se vertaling van Jahwe is). As ons dan bely Jesus Christus is “Here” (kurios), kan dit net een ding beteken: Hy het dieselfde naam as die Vader: Jahwe. Waarlik, alle paaie lei na Jesus! Selfs die unieke naam van God, Jahwe, word ook Jesus se Naam.

 

’n Mens hoef nie eens daarop nadruk te lê nie dat dit alles vanselfsprekend ’n unieke verhouding tussen Jesus en die Vader veronderstel, ’n verhouding waarvan die kerk later bely het dat Hy aan die Vader gelyk is, en nog later dat Hy en die Gees saam met die Vader die een ware God is (die sg Drie-eenheidsleer).

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (2) – Adrio König

10.1.2 Die oorsprong en betekenis van die Eienaam Jahwe

Hierdie Naam vir God word op ’n dramatiese manier aan Moses in die woestyn bekend gemaak (Eks 3:14-15). Dit is interessant dat ons ’n bietjie later in Eksodus (6:2) uitdruklik lees dat die Here Hom nie vroeër onder hierdie naam aan die aartsvaders bekend gemaak het nie, maar wel onder die Naam El Shaddai. Dit klink na ’n vreemde opmerking omdat die aartsvaders al vrylik die Naam Jahwe (Here) gebruik het (Gen 15:8; 16:2). Dit staan trouens al oor en oor in Genesis 2.

Daar is verskillende maniere om dit te probeer verduidelik. Een daarvan is die volgende.

Ons moet onthou dat die geskiedenis wat ons in die eerste boeke van die Bybel het, nie in dieselfde tyd en volgorde opgeskryf  is as wat dit gebeur het nie. Dis nie noodwendig so dat die aartsvaderverhale opgeskryf is voor die verhale oor die uittog nie. Genesis 2 is byvoorbeeld waarskynlik ook ’n baie ouer verhaal as Genesis 1. Kyk by hoofstuk 4. Ons moet ook onthou dat daar waarskynlik verskillende dokumente bestaan het wat later eers saamgevoeg is om die eerste boeke van die Bybel te vorm. Verder kon ’n redakteur veranderings in die dokumente aangebring het toe hulle bymekaar gesit is in een boek soos byvoorbeeld Eksodus.

 

Dit alles beteken dat dit moontlik is dat Eksodus 6 oorspronklik vroeër geskryf is as die finale vorm van die aartsvaderverhale in Genesis. Die redakteur wat later hierdie dokumente saamgevoeg het, kon eenvoudig al self so bekend gewees het met die Naam Jahwe dat hy dit in die ouer dokumente ingeskryf het, en dus as ’t ware in die mond van die patriarge gelê het. Natuurlik kan dit vrae na vore bring oor die inspirasie en gesag van die Bybel. Daaraan het ons aandag gegee teen die einde van hoofstuk 8.

 

Die betekenis Die betekenis van Jahwe is besonder interessant. Dit hou direk verband met die vorm van die woord, én met die situasie waarin die naam bekend gemaak is. In reaksie op Moses se vraag wat sy Naam is, antwoord die Here: “Ek is wat Ek is,” en verder moet Moses dan vir Israel sê: “‘Ek is’ het my na julle gestuur.” Saam met die twee sinnetjies by die instelling van die nagmaal (“Dit is my liggaam/bloed”) is hierdie die kortste sinnetjies waaroor seker die meeste geskryf is in die Christelike kerk.

 

Allereers is dit duidelik dat dit nie ’n gewone bekendmaking van ’n naam is nie. Dit is nie sonder meer duidelik wat “Ek is wat Ek is” beteken nie. Verder is “Ek is” nie ’n gewone naam nie. En derdens is Jahwe eintlik net ’n woordspeling op “Ek is”. ’n Mens kan nie help om terug te dink aan Genesis 32 nie. Daar ontmoet Jakob ’n man van wie hy later bely dat dit God was. In ’n worsteling verander Hy Jakob se naam. Maar as Jakob sy naam vra, antwoord hy net: “Waarom vra jy my naam?” Ook hier is ’n duidelike terughoudendheid. En tog sê Eksodus 3:13-14 meer, en help dit ons inderdaad om iets wonderliks van God te verstaan.

 

Die Hebreeuse woordjie vir “Ek is”, waarvan Jahwe afgelei is, is ’n werkwoord. Dié werkwoord het te doen met dinge wat gebeur. Dit is die bekende manier waarop verhale in die Ou Testament ingelei word. In die eerste sin wat dien as inleiding van ’n verhaal, word hierdie werkwoord dikwels gebruik, en dit lui letterlik: “Dit het gebeur dat … ” (2 Sam 13:1; 21:1). Die laaste van hierdie twee verse moet eintlik vertaal word met: “In Dawid se tyd het dit gebeur dat daar ’n hongersnood was.”

 

Ook wanneer die Here met iemand gepraat het, staan daar eintlik: “Die woord van die Here het gebeur met … ” en dan word hierdie woord gebruik (1 Sam 15:10; 2 Sam 7:4). Dit word gewoonlik vertaal met: “Die woord van die Here het gekom tot … ” As God dan sy Naam bekend maak met ’n vorm van hierdie werkwoord, beteken dit dat Hy die een is wat dinge laat gebeur.

 

Hierdie betekenis klop ook met die situasie waarin dié Naam bekend gemaak is. Israel word wreed verdruk in Egipte. Die Here verskyn aan Moses en beloof Hy gaan hulle bevry. In Eksodus 3:7-10 en weer in 6:1-7 verduidelik Hy breedvoerig hoe Hy hulle nood gesien en hulle geroep gehoor het en hulle gaan bevry. Dit is dan ook met hierdie bevrydingsboodskap waarmee Hy Moses na die leiers van Israel stuur. Maar as die Here hulle wil bevry, sal daar dinge moet gebeur. En nou is dít juis wat sy Naam beteken. Waar “Ek is” teenwoordig is, bly dinge nie dieselfde nie! As God Homself openbaar as Jahwe, beteken dit iets soos: Ek is reddend teenwoordig om dinge te verander.

 

Dit is opvallend dat God Hom dan met presies die teenoorgestelde Naam in Hosea 1:9 bekend maak. Hier wil Hy Hom aan Israel onttrek weens hulle aanhoudende ontrou. Ongelukkig bring die Afrikaanse vertalings nie hierdie betekenis uit nie. Dit moet eintlik lees: Noem hom “Nie-my-volk-nie,” want julle is nie my volk nie en Ek is nie meer daar (reddend teenwoordig) vir julle nie. GN en NJB vertaal dit só.

Hier gebruik Hosea dan dieselfde woord as in Eksodus 3:14, maar nou in ’n ontkenning. Dit beteken dat die band wat hierdie woord in Eksodus tussen die Here en die volk lê, volgens Hosea deur hulle ontrou verbreek word. Die betekenis van “Jahwe” het dus meegebring dat die volk Hom in vertroue kon aanroep. Hierdie Naam het ’n band van vertroue tussen hulle en Hom gelê. Hulle het Hom as getroue Helper leer ken.

 

Die geskiedenis Maar nou iets van die geskiedenis van hierdie Naam daarna. Dit was iets van ’n lydensgeskiedenis. Die eerste deel van hierdie geskiedenis het begin by die feit dat die Jode gaandeweg hierdie Naam al minder gebruik het. Hulle het die derde gebod só verstaan dat hulle veiligheidshalwe glad nie meer dié Naam wou uitspreek nie, want sê nou hulle misbruik dit. Waar hulle in die Ou Testament hierdie Naam gekry het, het hulle Adonai (Heer, Gebieder, Beskikker) gelees, en dit ook in hulle gebede en gesprekke gebruik.

 

Intussen moet ons onthou dat hulle Bybel net medeklinkers gehad het. Hulle het nie klinkers geskryf nie. Hulle het hulle Bybel so goed geken dat hulle geweet het wat daar staan. Probeer gerus so iets. Skryf ’n deel uit die Bybel, maar haal al die klinkers uit. Dl kan dan doel of deel of dele of dal of dale beteken. Dit het beteken dat oor ’n baie lang tydperk waarin hulle nie meer God se Naam uitgespreek het nie, die nageslag nie meer geweet het hoe nie. In hulle Bybel het net die drie medeklinkers gestaan Jhw. Christene het toe later eenvoudig die klinkers van Adonai by Jhw geskryf, en Jehova gekry (Engels Jehovah). Latere navorsing het dit egter taamlik seker gemaak dat dit eerder iets soos Jahwe uitgespreek is. Hierdie Naam word eintlik Jagwe uitgespreek, met ’n sagte g.

 

Nou die tweede beweging in hierdie geskiedenis. Gedurende die tweede eeu voor Christus het die Jode ’n Griekse vertaling van die Ou Testament gemaak omdat baie Jode rondom die Middellandse See nie meer Hebreeus geken het nie. Dit is die Septuagint of die LXX genoem (wat 70 in Latyn is) omdat hulle geglo het dat 70 (eintlik 72) geleerdes die vertaling gedoen het, ses uit elke stam van Israel. Elders is meer besonderhede oor hierdie vertaling gegee (hoofstuk 8).

 

Behalwe ander kenmerke vertoon hierdie vertaling duidelik invloede van die Griekse filosofie. En om die werkwoordsvorm “Ek is” te vertaal, het hulle in Eksodus 3:14 ’n Griekse deelwoord gebruik (ho oon) wat soms in die Griekse filosofie as benaming vir God gebruik is. Dit kan vertaal word met iets soos “die syn”, “die bestaande”. Volgens hierdie vertaling het God dus vir Moses gesê: “Ek is ho oon,” en verder: “Ho oon het my na julle gestuur.” Ho oon het iets beteken soos die syn/synde. Die kerkvaders het hieruit afgelei dat God die ewige, onveranderlike, in-sigself-genoegsame syn/wese is, die God wat ’n afgetrokke wese is wat los van alle menslike emosie en lotgevalle staan en nie deur enigiets op aarde beïnvloed word nie – ’n betekenis wat min verband het met dit wat die Naam werklik beteken, en ook min met die wyse waarop God in die geskiedenis van Israel betrokke was. En in die volgende vers waar die eintlike naam Jahwe toe gebruik is, ’n Naam wat afgelei is van die Hebreeus vir “Ek is”, het hulle Kurios gebruik. Dit is die Grieks vir die benaming Adonai wat die Jode uitgespreek het in plaas van Jahwe. Dit het beteken dat die titel Heer/Gebieder toe amptelik in die plek van die eienaam Jahwe in hulle vertaling ingeskryf is. Dit was die tweede beweging in hierdie geskiedenis.

 

Die derde beweging het gekom toe die vroeë Christene hierdie Griekse vertaling bo die oorspronklike Hebreeus verkies het. Dit het hulle gehelp met hulle sendingwerk onder die heidene wat Griekssprekend was, én omdat daar sekere tendense in die LXX was wat hulle gepas het. Dit het beteken dat hulle van die begin af hierdie titel “Here” vir Jahwe gebruik het. Die Latynse Vulgaat het hulle hierin gevolg, en die Westerse vertalings het byna sonder uitsondering dieselfde gedoen sodat ons uiteindelik in Afrikaans ook met die titel “Here” in plaas van die eienaam “Jahwe” geëindig het. Dat dit baie jammer is, het ons alreeds gesê. Ons het daarmee in ’n groot mate die gevoel verloor dat God ’n eie, unieke Naam het.

 

Maar in die Nuwe Testament gebeur selfs baie meer. Trouens eintlik moet ons dadelik fyner onderskei oor wat regtig onder die vroeë Christene gebeur het. Ons moet duidelik onderskei tussen die Ou Testament en die Nuwe. Die skrywers van die Nuwe Testament het inderdaad aanvaar dat Jahwe in die Ou Testament met Kurios vertaal is. Hulle het dan ook die Ou Testament só aangehaal (Am 9:12 in Hand 15:17). Terwyl daar in die Hebreeuse teks in Amos “Jahwe” staan, het Jakobus in Handelinge “Kurios” (Here) in sy aanhaling gebruik, in navolging van die LXX. Ook die apostels en die vroeë Joodse Christene het dus nie Jahwe gebruik as hulle die Ou Testament in Grieks aangehaal het nie, maar Kurios (Here). En die gelowiges uit die heidendom het natuurlik vanselfsprekend Kurios gebruik soos die LXX dit het.

 

Maar nou moet ’n mens mooi dink. Wat hier bo staan, geld net wanneer hulle uit die Ou Testament aangehaal het. Maar wanneer hulle uit hulle eie van God en van Jesus gepraat/geskryf het, was dit anders. Hulle het byna sonder uitsondering na God die Vader, die Jahwe van die Ou Testament, verwys as Theos (God), soveel so dat Theos eintlik vir hulle die eienaam van God geword het. En net so het hulle byna sonder uitsondering na Jesus as kurios (Here) verwys.

 

En nou die “million dollar question”: Wat het kurios beteken toe dit in die Nuwe Testament vir Jesus gebruik is terwyl dit in die Ou Testament gebruik was as vertaling van Jahwe? Ons kan dit probeer aflei uit twee gegewens in die Nuwe Testament.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (1) – Adrio König

Hoofstuk 10

Die benamings van God

Ons moet van die begin af duidelik onderskei tussen twee groepe benamings. Die een is die Naam (eienaam) van God, en dit is Jahwe wat meestal as Here of HERE vertaal word. Dit is die enigste werklike Naam vir God in die sin van sy eienaam.

Die ander groep is ’n groot groep wat nie name (eiename) vir God is nie, maar benamings. Dit is woorde/titels (enkelwoorde of woordgroepe) wat na Hom verwys. Hieronder tel benamings soos God, Allerhoogste, Koning, die Here van die leërskare. Dit beteken dat “God” nie ’n Naam (eienaam) vir God is nie, maar ’n soortnaam. Daar was baie gode in die tyd van die Bybel, en vandag nog.

 

10.1 Jahwe (Here)

10.1.1 Die geskiedenis van God se Naam, Jahwe

Jahwe is die eienaam van God, ’n unieke Naam wat nie in enige ander godsdiens gebruik is nie. Vroeër is die Naam Jehova gespel (Engels: Jehovah). Vandag word taamlik algemeen aanvaar dat dit egter liewer Jahwe moet wees (Engels: Yahweh). Dit word gewoonlik met ’n sagte g uitgespreek: Jagwe.

 

Dit is baie jammer dat omtrent alle Westerse vertalings die Griekse vertaling van die Ou Testament, die LXX, gevolg het. Hierdie vertaling het die Griekse woord Kurios vir die Hebreeuse Naam Jahwe gebruik. Westerse vertalings het dit toe weergegee met Here (Engels: Lord, Duits: Herr). Die probleem is dat Kurios en Here nie eiename is soos Jahwe nie, maar titels. Dit beteken dat ons die gevoel verloor het dat God ’n eienaam het. Sommige van ons dink selfs dat “God” sy Naam is. Maar God is ’n soortnaam of ’n benaming. Dis nie ’n eienaam nie. Daar was baie gode in die Ou Testament en elkeen het sy eie naam gehad soos Baäl, Astarte, Nebo, Bel (Jes 46:1). En Israel se God se Naam was Jahwe.

 

Ons verstaan dus die tweede gebod beter as ons lees: “Jy mag nie jou God se Naam, Jahwe, misbruik nie.” Intussen is dit interessant om daarop te let dat sendelinge in Afrika die insig gehad het om inderdaad hierdie Naam in sommige Afrikavertalings te gebruik. Hulle het nog die ou weergawe gebruik, wat nog algemeen was in hulle tyd, Jehova. Dit het swart Christene in Afrika ’n sterker gevoel gegee as wat ons het dat God ’n spesifieke Naam het. Verder is daar onder die talle Westerse Bybelvertalings op my rak net die Engelse NJB wat Jahweh gebruik, en dis heerlik om te lees. Dit versterk net die belewing dat Israel se God, die Vader van Jesus, ’n Naam het.

 

Verskillende groepe buit die vertaling van Jahwe met “Here” uit. Hulle stel dan hulle trots daarin om die “regte” naam te gebruik, en selfs ook vir Jesus. Dié Naam “Jesus” word dan op verskillende en soms regtig vreemde maniere gespel (soos Jeshua, Yahüah). Natuurlik kan dit nooit verkeerd wees om die oorspronklike Name vir God en ook vir Jesus te gebruik nie:

  • Die Hebreeus vir God se Naam (Jahwe)
  • Die Grieks vir Jesus (Iysous, lees Jesoes) of selfs die oorspronklike Hebreeus (Jeshua of die langer vorm Jehoshua).

 

Maar dit kan darem nie regtig ’n onvergeeflike sonde wees om dit nie te gebruik nie. Trouens Paulus self en die vroeë Christene uit die heidendom, die wonderlike vrug van Paulus se sendingreise, het nie van Jahwe of Jeshua gepraat nie. Hulle het klaar in navolging van die LXX wat hulle “Bybel” was, die gebruik gevolg wat ons vandag het om van God as “Here” te praat (Kurios), en om die Griekse vertaling van Jesus se Naam te gebruik (Iysous), en nie die oorspronklike Hebreeus soos sy familie en eerste Joodse volgelinge nie.

 

As dit so gebiedend noodsaaklik was om juis die presiese Hebreeus te gebruik, sou Paulus mos hierdie Hebreeuse name in sy Briewe gebruik het. Maar hy gebruik deurgaans die Griekse vertalings omdat dit toeganklik was vir sy bekeerlinge uit die heidendom wat nie Hebreeus geken het nie.

 

In die volgende artikel gaan ons na die oorsprong en betekenis van Jahwe kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (11)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (11) – Adrio König

9.3.3 Jesus se eie uittog

Ons lees en hoor elke jaar die pragtige geboorteverhale van Jesus. Maar ons vergelyk hulle selde met mekaar. Selfs as ons preke daaroor hoor, is dit óf oor Matteus, óf oor Lukas se verhaal.  Kom ons vergelyk hulle ’n keer en kyk waar kom ons uit.

Volgens Matteus 1 en 2 verloop Matteus se verhaal kortliks soos volg. ’n Engel verskyn aan Josef, Jesus word in Betlehem gebore, die sterrekykers kry die kindjie in ’n huis (nie in ’n krip nie), Josef-hulle vlug na Egipte omdat Herodes alle seuntjies onder twee jaar laat doodmaak. Na sy dood keer hulle terug. Hulle is egter bang om weer in Judea (waar Jesus in Betlehem gebore is) te gaan bly. God lei hulle dan om na Galilea te gaan, en hulle besluit om Nasaret toe te trek.

 

Lukas se verhaal lyk baie anders (Luk 1, 2). Die verhaal begin in Nasaret, Maria se tuisdorp waarvan daar nie in Matteus sprake is nie. Skynbaar begin Matteus s’n eenvoudig in Betlehem. Daar verskyn ’n engel aan Maria. Daarna besoek sy vir Elisabet iewers in die bergstreek van Juda, en bly drie maande by haar.  Daarna word Johannes eers gebore. Dan volg die volkstelling waarvoor Josef en Maria na Betlehem gaan. Daar word Jesus gebore en in ’n krip neergelê. Die skaapwagters kry Hom nog in die krip. Daarna gaan hulle Jerusalem toe om Jesus in die tempel “tot beskikking van die Here te stel”. Simeon en Anna kry hulle daar. Daarna keer hulle terug “na hulle eie dorp, Nasaret”. Hierdie hele verhaal dek omtrent ses weke van die tog van Nasaret na Betlehem en terug Nasaret toe. Die reinigingstyd vir Maria was omtrent ses weke (Luk 2:22). Maar Matteus se verhaal dek ’n paar jaar. Immers Herodes laat al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak. En dié tyd het hy noukeurig by die sterrekykers uitgevind (Matt 2:16).

 

Kom ons vat dit kort saam.

Matteus: Betlehem, Egipte, Nasaret.

Lukas: Nasaret, Betlehem, Jerusalem, Nasaret.

Natuurlik is daar mense wat die twee verhale in harmonie met mekaar probeer bring, en dis meestal uit baie edel motiewe. Dit is mense wat die gesag van die Bybel baie hoog ag – terég – en nie kan aanvaar dat daar verskille is in die Bybel nie. Hulle meen dit bots met die volmaaktheid van God. Die beste harmoniëringspoging waarby ’n mens kan uitkom, is ongeveer die volgende.

 

Matteus noem eintlik net die geboorte terloops (2:1), en spring dan oor ’n paar jaar se geskiedenis tot by die sterrekykers. Immers die sterrekykers kom skynbaar eers omtrent twee jaar ná Jesus se geboorte in Jerusalem aan. As Herodes die kindertjies wil laat doodmaak, gebruik hy die inligting wat hy “noukeurig by die sterrekykers” gekry het: twee jaar (2:16). Dit alles sou egter lank na die verhaal van Lukas plaasgevind het, want Lukas se verhaal dek net omtrent ses weke (2:22, 39).

 

Die probleme wat deur hierdie harmoniëringspoging geskep word, is egter erger as die probleme wat dit probeer oplos. Josef en die gesinnetjie moes nou na omtrent twee jaar weer teruggegaan  het van Nasaret na Jerusalem, in ’n huis gaan bly het, die sterrekykers ontvang het, en toe eers na Egipte gevlug het. En by hulle terugkoms? Volgens Matteus kom hulle terug net om ’n nuwe koning wat net so vyandig is te trotseer. Dan besluit Josef om nie in Judea te bly nie, en hulle trek/verhuis dan Galilea toe. Daar aangekom, besluit hulle om in Nasaret te gaan woon (2:21- 23). Maar dit klop glad nie met Lukas se verhaal nie dat hulle na ’n paar weke teruggegaan het na hulle eie dorp, Nasaret (2:39).

 

Aan die ander kant is daar eenvoudig nie by Lukas plek vir ’n tydperk van omtrent twee jaar, en ’n tog na Egipte tussen die tempelbesoek en die terugkeer na Nasaret nie (2:39). Genoeg. Ons sal eenvoudig moet aanvaar dat dit, om die minste te sê, nie maklik is om Matteus en Lukas se geboorte- en kinderverhale te harmonieer nie.

 

Wat dan? Dit sou die maklikste wees om te sê ons weet nie. Maar dit is tog ook moontlik om te erken dat dit twee verskillende verhale is. En dan kan ons probeer om aan elkeen reg te laat geskied. Ons staan dus vir die derde keer voor die feit dat die Evangeliste taamlik vry kon omgaan met die kleiner besonderhede van die geskiedenis, solank dit hulle boodskap gedien het. En presies wat ons nou gesê het, is belangrik. Die verskille gaan oor kleiner besonderhede, nooit oor groot en sentrale sake in die evangelie nie. Dit is nie waar dat die evangeliste byvoorbeeld verskil oor die opstanding van Jesus sodat die een vertel dat Hy opgestaan het en die graf leeg was, maar die ander een vertel dat Hy net geestelik opgestaan het en sy liggaam eintlik in die graf bly lê het nie. Die een vertel nie dat Hy gekruisig is terwyl die ander een vertel dat Hy ’n natuurlike dood gesterf het nie. Oor die sentrale sake in die evangelie stem hulle saam. Dis oor kleiner besonderhede wat hulle verskil, en meestal om hulle boodskap des te duideliker en sterker te laat deurkom.

 

En juis dit wil Matteus met sy Egipte-verhaal doen. Matteus skryf vir Jode met die doel om hulle te oortuig dat Jesus hulle beloofde Messias is. Daarom put hy hom uit om te toon hoeveel profesieë in Jesus vervul is. In elk van die eerste paar hoofstukke is daar een of meer profesieë wat vervul word. Matteus is dan ook die Evangelis wat die meeste aandag gee aan Jesus se appèl op die Jode om Hom as Messias te aanvaar. Hy beklemtoon dat Jesus net vir Israel gekom het (10:5-6; 15:24). En dit is juis ook Matteus wat die duidelikste vertel hoe Jesus uiteindelik Israel verwerp en die dissipels direk na die heidene stuur (21:43; 22:8; 23:37-39, 28:19). Dit is in hierdie Evangelie dat ons nou die verhaal oor die vlug na Egipte en die terugkeer kry (2:13-15, 19-23). En soos in elkeen van die eerste hoofstukke word ook hier verwys na ’n profesie wat vervul is, Hosea 11:1: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep” (2:15). Kyk by 7.2.2.

 

Twee vrae:

  • Die eerste is dat die woorde in Hosea nie ’n profesie is nie, maar ’n stelling wat terugverwys na die uittog.
  • Die tweede is dat Matteus vertel van Josef-hulle se vlug na Egipte, maar sy aanhaling handel oor die tog uit Egipte.

Wat die eerste vraag betref, doen Matteus dit meer kere. Net ’n paar verse verder (2:18) haal hy weer ’n stelling aan wat na Israel se geskiedenis verwys, hierdie keer tydens die ballingskap, en gebruik dit dan as ’n profesie wat in Herodes se kindermoord vervul is (2:18). Kyk by 7.2.3.

 

Dit beteken dat dié van ons wat eerbied vir die Bybel het, daarmee vrede sal moet maak dat sommige Bybelskrywers taamlik vry met Bybelse stowwe omgegaan het solank dit hulle gehelp het om hulle boodskap tuis te bring. In Matteus se geval wil hy beklemtoon dat Jesus eintlik die nuwe verteenwoordiger of selfs die nuwe gestalte van Israel is.

 

Israel het nie beantwoord aan die roeping wat God vir hulle gehad het nie. Hulle het nie die nasies aangetrek Jerusalem toe nie. Daarom gaan die Here ’n nuwe begin maak. Soos Hy oorspronklik sy volk uit Egipte gebring het, gaan Hy nou vir Jesus, sy nuwe begin, ook uit Egipte bring. Dit is die betekenis van die vlug na Egipte: Jesus moet uit Egipte terugkom en só sy eie uittog hê. Dit is dan ook juis in die Evangelie volgens Matteus dat Jesus finaal aankondig dat Israel verwerp is uit die besondere posisie in die heilsplan van God (Matt 21:43; 22:8; 23:33-37). Paulus ontwikkel hierdie gedagtes van Israel se verwerping (1 Tess 2:16) en van Jesus as die nuwe vorm van Israel. Dink maar net aan sy stelling dat Jesus die eintlike nasaat van Abraham is (Gal 3:16, kyk by 1.2.1).

 

En dit is dan juis deur Jesus dat ons, Jode en heidene, saam “die Israel van God” vorm (Gal 6:16). Dit is ook presies die gedagtegang van Paulus in Romeine 11. Net soos al die ander temas lei die uittog ons dus ook na Jesus.

  • Hy het sy eie uittog.
  • Hy is ons nuwe Paaslam.
  • Hy is die rots wat saam met Israel deur die woestyn getrek het.
  • Hy is dus die begin van die nuwe vorm van Israel wat nou bestaan uit alle mense, Jode en heidene, wat aan Hom verbind is.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König