Amos en Hosea – Jan van der Watt

Jaco vra:

 Verduidelik Amos 9 wie die heidene is in Hand 15:13-17 En Verduidelik Hosea 2 wie die heidene is in Rom 9:24-26 Handel die boek Amos en Hosea oor die nageslag van Jakob

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jaco se vraag raak ‘n baie belangrike probleem aan, naamlik, hoe moet Ou-Testamentiese profesieë in die Nuwe Testament verstaan word, veral as dit aangehaal word soos in die voorbeelde wat hy gee. Profesieë in die Bybel is nie so eenvoudig soos ons dit baie keer wil maak nie. ‘n Paar riglyne hieroor behoort ons te help.

Die profete van ouds, soos Amos of Hosea, het in die eerste plek vir die mense van hulle eie tyd geskryf (anders sou die boeke nie sin maak nie). Die mense vir wie hulle die boeke geskryf het, kon dit verstaan omdat dit op hulle situasies gemik was en hulle aangespreek het. Profesieë in die ou tyd was soos preke vandag, hoewel dit ook toekomstige implikasies gehad het. Kyk maar na die profesieë in Openbaring 2-3. Soos in ‘n goeie preek staan daar dat as die lesers hulle nie bekeer nie, sal hulle gestraf word – dit is ‘n profesie. Tog is daar ook ander profesieë oor die nuwe Jerusalem, byvoorbeeld, wat vertel wat in die toekoms verwag kan word.  

Die profete was spreekbuise van die God, die God wat altyd dieselfde is, vandag, gister en in die toekoms. Dit beteken dat as daar ‘n spesifieke situasie was (soos in Amos of Hosea se geval) waaroor hulle geprofeteer het, en ‘n soortgelyke situasie duik in die toekoms op, kan verwag word dat God soortgelyk sal optree. Profesieë is dus aanvanklik op een situasie gemik, maar kan van toepassing wees op soortgelyke situasies in die toekoms waar God by betrokke is.

Daar is baie voor beelde hiervan: In ‘n Joodse kommentaar wat rondom op Hosea gemaak is, word alles op die Romeine, wat op daardie tyd ‘n probleem was, toegepas, hoewel Hosea self, met die skryf van sy boek, die situasie honderde jare tevore (om en by met die val van die Noordelike Ryk van Israel – 760-720 voor Christus) in die oog gehad het toe Israel die Kanaänitiese afgode begin dien het. Die Romeine sou eers 600 jaar later op die toneel verskyn, maar omdat God altyd dieselfde is, kon die Romeine en die Jode van hulle tyd dieselfde behandeling verwag as wat in Hosea beskryf word.

Dieselfde geld vir Jesus. As daar in Jes 6 van Immanuel gepraat word, gaan dit om ‘n seuntjie wat in die tyd van Jesaja geleef het en van wie Jesaja gepraat het. Hy moes die mense herinner dat God by hulle is. As Jesus kom, herinner Hy mense ook dat God nou op ‘n besondere manier by hulle is. Omdat God altyd dieselfde is, is wat Jesaja gesê het, ook van Jesus waar, natuurlik op ‘n baie spesiale manier.

Om die vraag dus te beantwoord: Ja en nee. Oorspronklik het die Ou-Testamentiese dele nie na Handelinge of Romeine verwys nie en is ook nie in die eerste plek daarvoor geskryf nie. Tog, wat in die verlede oor God en sy optrede waar is, geld vandag ook nog as die situasies ooreenstem. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Amos(22) – Francois Malan

Amos 9 vers 13

9:13 ‘Kyk! daar kom dae,’ is die Godspraak van die HERE,
dat die een wat ploeg die (graan) snyer (2020: die een wat graan oes) sal inhaal,
en die een wat druiwe trap die een wat die saadsak van die saaier dra. (sonder ‘van die saaier’ in die 2020
vertaling)
Die berge sal drup van druiwesap en die heuwels sal in beweging raak (2020: sal golf van graan).

Met ’n nuwe inleiding verwys die Godspraak na die Messiaanse toekoms. Die resultaat van die HERE se herbou van die
gevalle hut van Dawid soos dit in die ou tyd was, word uitgespel: Die een wat kom ploeg (gewoonlik word in
September-Oktober die vore getrek waarin gesaai word) kry die een wat met die sekel graan oes (wat gewoonlik in
April begin) nog besig op die land, so groot is die oes. In September begin die druiwe-oes, en hulle is nog besig om die
druiwe te trap vir wyn wanneer die saaiers in November opdaag. Die berge is vol wingerd geplant en die heuwels
oortrek met graanlande.

’n Paradystoestand word geskilder vir die herstel van die koninkryk van Dawid, soos die HERE aan Moses die beloofde
land geskilder het. Dit sal ‘n land wees wat oorloop van melk en heuning (Eks 3:8,17), amper soos in Joël 3:18 en
Esegiël 47:12, wat opgeneem is in Openbaring 22:1-2 waar die boom van die lewe elke maand vrugte dra. Maar toe die
Israeliete weier om die land in te trek, het die HERE gesweer, nie een van hulle sal die land betree nie (Num 14:30, vgl.
Jos 5:6). In Levitikus 26:3-5 het die HERE belowe: as hulle sy voorskrifte nakom sal Hy reën gee op die regte tyd, die
lande sal oeste oplewer, en bome vrugte dra, hulle sal oorgenoeg kos hê en sonder sorge in die land woon met gereelde
oeste. Maar as hulle nie na Hom luister nie, sal hulle niks daarvan kry nie (Lev 26:18-20).

In Hosea 2:13-14; 3:5 verduidelik die HERE dat die ballingskap van Israel en Juda ’n tweede woestyntyd is waarin
hulle sal leer om die HERE weer lief te kry en om totaal van Hom afhanklik te lewe. En daarna sal Hy weer vir hulle
wingerde gee. Hy sal die Akorlaagte, waar Israel vir Akan moes stenig oor sy ongehoorsame diefstal in Jerigo met die
intog in die beloofde land, ’n poort na ’n nuwe toekoms maak. Maar ná hulle terugkeer uir ballingskap het hulle
oortredings en sonde gemaak dat die HERE Hom nie aan hulle steur nie (Jes 59:). Daarom gaan die HERE ’n nuwe
hemel en ’n nuwe aarde skep (Jes 65:17).

Die koningsheerskappy van Jesus Christus, die Gesalfde koning uit die geslag van Dawid (Matt 1:1), sal op alle maniere
gelukkig en geseënd wees, ook in die natuur, vir dié wat in Hom glo (vgl. Matt 5:3-10 – vers 5: ‘die sagmoediges sal die
aarde beërf’). Hy kom die nuwe hemel en die nuwe aarde skep met sy nederige diens wat uitloop op die ewige lewe vir
sy volgelinge. (Matt 25:34; Joh 17:2-3; 2 Petrus 3:13; Openb 21:1-8).

Amos 9 vers 14-15

9:14 ‘Ek sal die sondeskuldlas (2020:lot) van my volk Israel verander. Hulle sal die verwoeste stede herbou en
bewoon; hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink; hulle sal tuine plant en die vrugte daarvan eet.

Die vers is een van die grootste vertaalprobleme in Amos. Die Hebreeuse woord wat deur 2020 met ‘lot’ vertaal is,
verwys na die sondeskuld wat Israel as die HERE se volk by die HERE opgebou het met hulle sondige lewens. Daardie
skuldlas het die HERE op hulle gelê, want Hy spreek niemand sonder meer vry nie (Eks 34:7). Oor hulle verbreking
van hulle verbond met Hom het Hy hulle met die dood en ballingskap gestraf. Ps 126:4 gebruik dieselfde Hebreeuse
woord wat in die 2014-vertaling ook lui: ‘Verander weer ons lot HERE.’ Die belofte dat die HERE die skuldlas wat Hy
op sy volk gelê het, gaan ophef, beteken dat Hy hulle weer sal aanneem in ’n hernude lewensgemeenskap met Hom as
sy volk. Dit kan slegs gebeur deur die offerdood van Jesus Christus (Joh 1:29).

Die belofte van die HERE oor die toekoms van Israel word eers vervul met die koms van Jesus Christus wat vir die hele
mensheid hulle sondeskuld kom dra en so hulle verhouding met God regstel. Hy maak mense regverdig voor God.
Israeliete wat soos die heidene tot bekering moet kom om in Jesus Christus te glo wat al ons sonde op Hom neem, word
ook deel van die koninkryk van God. So het Jakobus Amos 9:11-12 aangehaal in Handelinge 15:16-18 as dinge wat van
lank gelede bekend is (vgl. Romeine 11:25: Daar het oor’n gedeelte van Israel ’n verharding gekom totdat die volle
getal van die heidene ingekom het; vgl. ook in Luk 21:24; Joh 10:16).

Met Israel se terugkoms ná die ballingskap het die HERE sy volk hulle woonplek en stede, vreugde en voedsel,
wingerde en tuine teruggegee. Volgens 5:11 is hulle juis daarvan ontneem weens hulle verdrukking van die armes.

9:15 ‘En Ek sal hulle plant in hulle grond en hulle sal nie weer uitgepluk word uit hulle grond wat Ek aan hulle
gegee het nie,’ het die HERE, jou God gesê.
(2020: hulle sal nie weer verwyder word van die grond…; LXX …sê die Here die Almagtige God.)

Die belofte dat Israel in die Messiaanse toekoms nie weer uitgepluk sal word nie, veronderstel dat hulle voor die koms
van die Messias, wel uitgepluk gaan word, soos gebeur het met hulle ballingskap na Assirië. Ná die ryke seëninge in die
plantewêreld (9:13-14) sal hulle self ook geplant word in die grond wat die HERE uit sy genade aan hulle gee. Maar die
volle vervulling van ‘nie weer uitgepluk word nie,’ kom eers in die verre toekoms.

Slegs die tweede maal verwys Amos vir Israel na die HERE as ‘jou God.’ In 4:12 het dit gegaan oor Israel wat hulle
moet regmaak om hulle God te ontmoet vir sy oordeel oor hulle lewe. Hier gaan dit oor die ryke seëninge wat hulle ná
die eindoordeel nie weer sal verloor nie. Voor daardie dag van die finale oordeel is hierdie profesie nie ten volle vervul
nie. Die ryk van Christus is die begin van die oprigting van die vervalle hut van Dawid. Van eeu tot eeu gaan God met
die bou aan die Godsryk voort. Maar die vervulling daarvan kom slegs met die wederkoms van Christus vir die finale
oordeel. Die woord van ‘jou God’ wat aan Amos geopenbaar is, is ’n vergesig oor die volkomenheid van die Godsryk.
Dit gaan oor die heil wat nie weer verlore kan gaan nie. Dit gaan God ten volle vervul op die nuwe aarde, met die finale
oordeel. Intussen is daar deur die eeue gemeentes van Christus met ’n verskeidenheid van kwaliteite waar elke gelowige
wag om Hom te ontmoet vir sy finale oordeel oor elkeen se lewe (Matt 25: 31-46; Eseg 34:12,17).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Amos(21) – Francois Malan

Amos 9 vers 9-10

9:9 Want kyk, Ek gee bevel, Ek skud onder al die nasies die huis van Israel, soos in ‘n sif rondgeskud word, en
nie ‘n klippie sal op die grond val nie.

Israel word opgeroep om goed te luister. Die HERE gee ’n bevel en Hy, wat alles nasies skud, skud die huis van Israel.
Die sprankie hoop waarmee vers 8b eindig dat die HERE die nageslag van Jakob nie heeltemal sal uitroei nie, moenie
’n valse hoop by Israel wek nie. Hoewel die HERE die tien stamme gaan uitroei deur die swaard, hulle in ballingskap
laat wegvoer en selfs daar met die swaard gaan bykom, bly Juda uit die nageslag van Jakob voorlopig nog oor, en ook
enkele Israeliete wat tog agterbly (2 Kron 30:1).

Die huis van Israel verwys hier na die tien stamme wat vernietig word, met uitsluiting van die stam van Juda. Die stam
van Simeon het in Juda opgegaan (Jos 19:1,9), en ’n deel van Benjamin is by Juda gevoeg. Benjamin se gebied lê tussen
dié van Juda en Josef, en Jerusalem val in die gebied van Benjamin (Jos 18:11,28). Onder die tien stamme tel Josef se
twee seuns: Efraim en Manasse as twee stamme.

Die beeld van die sif wat ’n boer gebruik om die klippies uit die koring uit te sif, sluit by vers 8a se voorspelling aan:
‘Ek gaan Israel van die aarde af wegvee.’ Terwyl die koring deur die sif val, bly die klippies in die sif agter. So sal die
HERE almal wat hulle rug op Hom gedraai het, in die sif opvang vir sy straf. In die HERE se sif word al die nasies
gesif. Vers 10 wys ook wie in die sif gaan agterbly, wat weggegooi gaan word om deur die HERE gestraf te word.

9:10 ‘Deur die swaard sal al die sondaars van my volk sterwe,
hulle wat sê: ‘Jy mag nie die onheil ons laat bereik en tot by ons laat kom nie.’
2020: hulle wat sê: ‘die onheil sal ons nie bereik en tot by ons kom nie.’

Die twee werkwoorde, ‘bereik’ en ‘kom’ word in die woordeboeke aktief en oorsaaklik aangebied. 2020 beskou dit as
aktief, dat Israel sê ‘die onheil, sal ons nie bereik nie…’ Met die werkwoorde wat die oorsaak aandui sê Israel vir Amos,
hy mag nie met sy boodskap die HERE se onheilsdag vir hulle nader bring nie. Hulle skuif daarmee die skuld op Amos.
Maar Amos se boodskap is dat húlle die dag van die HERE se oordeel nader bring met hulle sonde (6:3). Hulle verbied
hom ook om die onheil tot by hulle te bring, vlak voor hulle voete neer te sit. Daarmee versper hy hulle kans om te vlug
met sy uitsprake in 9:1-4, dat hulle nêrens die HERE kan ontvlug nie. So stapel hulle sonde op sonde. Hulle verwerp
daarmee die HERE se woord, sy oordeel oor hulle, dat al die sondaars van sy volk sal sterwe.

Hiermee eindig Amos se prediking van oordeel. Maar in verse 8,9 en 10 het hy die weg na heilsverkondiging geopen.
As die sondige koninkryk uitgewis is en die HERE sorg dat daar ’n oorblyfsel is (vers 8), as die siftingsproses
afgehandel is (vers 9) en die sondaars met die swaard afgemaai is (vers 10), breek ‘daardie dag’ van ’n beter toekoms
aan (vers 11).

Die herstel van Israel (Amos 9 vers 11-15)

Die slot van Amos bevat die positiewe heilsbelofte in twee Godsprake: 11-12 en 13-15. (Daar is baie vertaalprobleme
by dié laaste gedeelte).

9:11 ‘Op daardie dag sal Ek die vervalle hut (LXX tent) van Dawid oprig. Ek sal sy bresse toebou en die ruïnes
weer opbou om te wees soos in die dae van weleer,
9:12 sodat hulle besit kan neem (yiyeresjoe) van die oorblyfsel van Edom (’dm – ’ēdōm) en van al die nasies oor
wie my Naam uitgeroep is’ is die Godspraak van die HERE, wat dit doen.
LXX …dat die oorblyfsel van die mense (’dm -’ādām), en al die heidene oor wie my Naam genoem
word (my) ernstiglik sal soek (yideresjoe), sê die HERE wat al hierdie dinge doen.

Die beeld van die vervalle hut van Dawid word figuurlik gebruik vir die ryk van Dawid wat oor Juda en Israel regeer
het, en aan die verbrokkel was. Israel sal verstrooi wees in die land van die vyand. In 722 v.C. is Israel in die Assiriese
ryk verstrooi (2 Kon 17:6). In 612 v.C. kom die Assiriese ryk tot ’n val voor Babilonië. In 597 v.C. (2 Kon 24:14-16) en
587 v.C. (2 Kon 25:10-21) word Juda na Babel weggevoer. In 539 v.C. neem Kores die Pers die Babiloniese ryk oor. In
538 v.C. vaardig Kores die dekreet uit dat enigiemand wat aan die HERE se volk behoort na Jerusalem mag teruggaan
(2 Kron 36:22-23; Esra 1:1-4). Wat van Juda en Israel in die ballingskap oorgebly het gaan weer opgebou word en die
skeur tussen Juda en Israel herstel word. Serubbabel herbou die Jerusalemtempel in 520-515 v.C., Nehemia herbou die
mure van Jerusalem in 444-433 v.C.

Letterlik verwys die hut na ’n tydelike hut van takke langs die boord of wingerd waar gewerk word. Tydens die jaarlikse
huttefees ná die insameling van die vrugte-oes, is ook hutte opgerig ter herinnering aan Israel se woestynreis (Lev
23:43) Die HERE se belofte aan Dawid was egter dat Hy vir Dawid ’n koningshuis gaan vestig, ’n koningskap wat altyd
sal vasstaan en ‘n troon wat altyd sal voortbestaan tot in die verre toekoms (2 Sam 7:11,16,19). Amos voorsien ’n dag
waarop die grense van die nuwe Israel weer so sal wees soos in Dawid se tyd, toe hy ook Edom en die ander
omringende volke wat in Amos 1-2 genoem word, ingeneem het (2 Sam 8:13).

Die Godspraak van die HERE aan Amos oor die opbou van Dawid se gevalle heerskappy is ’n voorafskaduwee van
Christus se koningsheerskappy in die opbou van die koninkryk van God wat al die nasies insluit, en dat die Naam van
die HERE oor almal uitgeroep word (Matt 28:18-20). Jesus, afstammeling van Dawid, het met sy lewe, dood en
opstanding die koninkryk van God vir ewig kom oprig (Luk 6:20; 17:21; Joh 3:36; vgl. die visioen van Daniël 7:11).
Jakobus, die broer van Jesus en leier in die Jerusalemgemeente (Mark 6:3; Gal 2:9; Hand 21:18) haal dié twee tekste
van Amos aan as die skriftuurlike riglyn vir die opneem van die heidene in die kerk (Hand 15:16-18).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Amos(20) – Francois Malan

Amos 9 vers 5-6

9:5 Verse 5-6 is ’n lofprysing van die HERE wat verse 1- 4 se Alomteenwoordigheid van die HERE beklemtoon.

‘En my Heer, die HERE van die leërskare, raak die aarde aan en dit wankel (2020: sidder),
en almal wat daarop woon, sal treur. Dit sal in geheel opstyg soos die Nyl en sak soos die rivier van Egipte.

In vers 1 gaan die aarde se Heer die Bet-El-tempel en al die aanbidders met ’n aardbewing ombring, soos afgelei kan
word van die kosyne wat wankel en die dak wat instort. Hier word die aardbewing beskryf met die magtige Nyl wat
styg om sy walle te oorstroom, en dan weer sak. So lig die aarde op en val weer soos met ’n aardbewing. Hier tref die
aardbewing nie net vir Bet-El nie, maar die aarde, die hele Israel. Dit is beelde vir die totale uitwissing van Israel wat in
9:1-4 uitgespel is.

Wanneer my Heer slegs aan die aarde raak, skud die aarde so geweldig, dat die mense verskrik rondhardloop en treur as
hulle alles sien intuimel, dat die magtige aardbewing al hulle besittings vernietig. So sal die Assiriërs hulle land stroop
(2 Kon 17:20,23). Amos besing die grootheid van sy Heer se mag ook oor die natuurkragte. Hy kan die natuurkragte
aanwend soos Hy wil. In vers 4 het die Heer wat oor die hele aarde regeer, reeds oor Israel gesê: ‘Ek sal my oog op
hulle hou, ten kwade en nie ten goede nie.’

9:6 ‘Hy wat sy trappe/opgange in die hemel bou (LXX sy opgang; van Gelderen: oppersale; 2020: bokamer)
en sy hemelgewelf op die aarde vestig, wat die water van die see roep en dit op die gesig (2020: oppervlakte)
van die aarde uitgiet, HERE is sy Naam.

Wat die HERE in die hemel bou is nie duidelik uit die Hebreeuse woord wat hier gebruik word nie. Die woord word
ook gebruik as opskrif vir Ps 120-134 se ‘pelgrims’-liedere wat hulle op die trappe van die tempel gesing het. Hier is
dit moontlik oppersale in die hemel waarop die hemelgewelf rus. Die hemelgewelf wat Hy op die aarde gevestig het is
‘n beeld van die heelal wat die HERE geskep het en daagliks bestuur. Die antieke beeld van die heelal het gedink aan ’n
plat aarde met drie hemele: die boog van die wolkehemel wat oor die aarde gespan is, die gewelf as die sterrehemel bo
die boog van die wolkehemel, en die hoogste hemel waar God woon, bokant die sterrehemel (vgl. 2 Kor 12:2 vir die
derde hemel). Hierdie vers besing die lof van die HERE as die Skepper van hemel en aarde (Gen 1:1).

Vers 6b kom baie ooreen met 5:8b oor die HERE wat die heelal daagliks onderhou ook met reën maar ook die
natuurkragte kan gebruik om verwoesting te saai (9:5,8). Soos Hy destyds die sondvloed gebruik het om die
goddeloosheid van die mense uit te wis, kan Hy Israel ook uitwis. Dit is voor Hom wat Israel rekenskap moet gee
(4:12).

Die groep Godsprake in 9:7-10 is ’n onderbreking tussen die vyfde visioen met sy lofprysing aan die einde (1-6), en
11-15 se visioene van herstel.

Amos 9 vers 7-8

9:7 ‘Kinders van Israel! Is julle vir My dan nie soos die kinders van die Kussiete nie?’ is die Godspraak van die
HERE. Het Ek dan nie vir Israel gebring uit die land van Egipte, en die Filistyne uit Kaftor, en die
Arameërs uit Kir nie?’

LXX het ‘Ethiopiërs’ vir ‘Kussiete;’ ‘Kappadosië’ vir ‘Kaftor;’ en ‘Siriërs uit die diepte’ vir ‘Arameërs uit Kir.’

Ná die HERE se openbaring in die natuur (9:5-6) kom Amos by die HERE se openbaring in die geskiedenis. Hy beheer
ook die geskiedenis van volke. As Israel hulle losmaak van die HERE, wat maak hulle dan anders as die ander volke?
Hulle wil mos graag soos die ander volke wees, waar elke volk sy eie koning en sy eie God het (1 Sam 8:7). Daarmee
het hulle hulle roem tot niet gemaak, om die voorste nasie te wees omdat hulle die uitverkore volk van die HERE was
(6:1). Hulle word hier deur die HERE gelykgestel met die mees suidelike volk wat hulle ken, die Kussiete, suid van
Egipte, op wie hulle neergesien het – Num 12:1: Mirjam en Aäron spreek Moses aan oor sy Kussitiese vrou; Jeremia
13:23 verwys na die Kussiete se donker vel; Jer. 38:7-13 vertel van die Kussitiese slaaf Ebed-Melek (‘slaaf van die
koning’) wat vir Jeremia uit die put opgetrek het. Israel het vir die HERE soos hulle slawe uit Kus geword.

Israel se uniekheid verdwyn in die niet langs die HERE se geskiedenis met hulle bure wat Hy ook gelei het en rondom
Israel gevestig het. Israel se suidelike bure, die Filistyne, kom uit Kaftor in die omgewing van Kreta (In Eseg 25:16
word hulle Kretense genoem, Sef 2:5). Israel se noordelike bure, die Arameërs, het die HERE uit Kir gebring (Amos
1:5). Vanuit die omgewing van Mesopotamië het die HERE hulle in Sirië kom vestig met Damaskus as hulle hoofstad
(volgens 2 Kon 9 het Assirië die Arameërs later weggevoer, terug na Kir).

Die HERE het Israel ‘geken,’ sodat hulle Hom sou ‘ken’ (3:2). Maar omdat hulle die HERE nie waarlik ‘ken’ deur Hom
te vereer en te gehoorsaam, soos Hy hulle gelei en gewaarsku het nie, het hulle die voorreg verbeur om die HERE se
volk te wees.

9:8 ‘Kyk!(gee aandag). Die oë van my Heer, die HERE, is gerig teen (2020: op) die sondige (opstandige)
koninkryk en sê ‘Ek gaan dit uitroei van die aangesig/oppervlakte van die aarde af (Amos 2:9). Nogtans gaan
Ek nie die huis van Jakob heeltemal vernietig nie,’ is die Godspraak van die HERE.’

‘Die sondige koninkryk’ verwys in die eerste plek na die tien stamme van Israel, maar geld ook vir enige sondige
koninkryk, dat die oë van die HERE op hulle gerig is. In die vers beteken dit dat die HERE Israel se sondige opstand
(pesja‘) teen Hom baie goed ken en hulle daarom gaan uitroei (vgl. Deutr 6:15).

Nogtans gaan die HERE nie die huis van Jakob heeltemal vernietig nie. Die huis van Jakob sluit al twaalf die stamme
van Jakob se 12 seuns in. Sy verbond met Jakob sal Hy gestand doen (Gen 28:14 ‘in jou en jou nageslag sal al die volke
van die aarde geseën wees), en Hy sal sorg dat ‘seweduisend nie hulle knie voor Baäl buig nie,’ soos in Elia se tyd, 100
jaar voor Amos (1 Kon 19:18). Dié woord van die HERE aan Elia word deur Paulus aangehaal ten op sigte van die Jode
wat nie vir Jesus Christus verwerp nie (Rom 11:4). Die belofte van God aan Abraham oor alle volke, in Genesis 12:3
word in Jesus Christus vervul (Matt 1:1; 28:19).

Skrywer:  Prof Francois Malan