Die apokriewe boeke – Hermie van Zyl

Edna vra

Ek het onlangs die boek Apokriewe: Ou en Nuwe Testament (deur Jan van der Watt en Francois Tolmie) begin lees.
Ek wil graag klarigheid oor die volgende twee punte kry:

  1. Hoekom is die apokriewe boeke nooit in die Bybel soos ons die Bybel vandag ken, opgeneem nie? Of dele daarvan? Want gedeeltes in die apokriewe boeke word tog bevestig deur ’n Skrifgedeelte in die Bybel.
  2. Die apokriewe boek “Die Evangelie van Nikodemus” handel hoofsaaklik oor die handelinge van Pilatus en Christus se besoek aan die doderyk. In hoofstuk 22 van dié boek lees ek die volgende:

Christus vang vir Satan en laat hom vasbind. Doderyk het dadelik uitgeroep: “Ons is verslaan, arme ons! Maar wie is U wat so baie gesag en krag het? Wie is U wat hierheen gekom het sonder enige sonde – U wat klein lyk, maar groot dinge doen, wat nederig én verhewe is, slaaf en heerser, soldaat en koning, wat gesag het oor dié wat dood is en oor dié wat lewe? U is aan die kruis vasgespyker en in ’n graf neergelê, maar nou is U vry en het al ons mag vernietig! Is U Jesus – die Jesus waarvan Satan die hoofleier vir ons vertel het en gesê het dat U deur die kruis en die dood die hele wêreld sou bekom?”

Toe het die Groot Koning vir Satan, die hoofleier, aan sy kop gegryp en hom aan die engele oorhandig. Hy het vir hulle gesê : “Bind sy hande en sy voete en sy nek en sy mond met ysterkettings vas!” Toe gee Hy hom vir Doderyk en sê: “Vat hom en sorg dat hy hier vasgebind bly totdat Ek die tweede keer kom.”

My vraag: Jesus gee opdrag aan die engele om Satan vas te bind. Hy sê Satan sal vasgebind wees tot en met Jesus se wederkoms. Maar, dan lees ek in die Bybel (1 Petrus 5:8) dat ons moet nugter en wakker wees want die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu. Loop die duiwel rond of is hy vasgebind?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Wat die eerste vraag betref, kan ons soos volg antwoord: Ons moet onderskei tussen Ou-Testamentiese (OT) en Nuwe-Testamentiese (NT) apokriewe. Onder die OT apokriewe word gewoonlik gelys: Tobit, Judit, Barug, die Brief van Jeremia, Toevoegings tot Ester, Toevoegings tot Daniël, die Wysheid van Ben Sirag, die Wysheid van Salomo, en 1 en 2 Makkabeërs. Hulle het almal in die periode 300 – 100 vC ontstaan, enkeles dalk eers so laat as in die twee eeue direk voor en na Christus se geboorte. Van die boeke is vermoedelik oorspronklik in Hebreeus geskryf (Ben Sirag beslis), maar hierdie Hebreeuse kopieë het verlore geraak met die gevolg dat die apokriewe van vroeg af slegs in Grieks beskikbaar was. Ander is weer oorspronklik in Grieks geskryf (bv Wysheid van Salomo).

Toe die Joodse kanon (ons huidige Ou Testament) sy afsluiting in ongeveer 100 nC gehad het, is bogenoemde boeke nie deur die Jode ingesluit nie. Die redes daarvoor was waarskynlike die volgende: die Jode het net boeke wat in Hebreeus geskryf is of beskikbaar was, ingesluit; baie van hierdie boeke vertoon sinkretistiese trekke (vermenging van godsdienstige sienings, veral vanuit die Griekse kultuur) wat nie vir die Jode aanvaarbaar was nie; en hulle gewildheid onder die Christene van die eerste twee eeue het veroorsaak dat die Jode ’n kanon verkies het wat nie sulke boeke insluit nie. Op dié manier het die Jode hulle van die vroeë Christene afgegrens. Baie Christelike kerkvaders het immers hierdie boeke as gesaghebbende geskifte aangehaal, met die gevolg dat die OT apokriewe deel van die Christelike OT kanon geword en gebly het tot en met die aanbreek van die kerklike Reformasie in die 16e eeu nC. Eers toe het die reformatore verkies om wat die OT betref terug te keer na die Joodse kanon, sodat die Protestantse kanon vandag nie die OT apokriewe bevat nie. Maar in die Rooms-Katolieke Kerk is hulle steeds amptelik deel van die OT kanon. Die Roomse Kerk verkies egter om na hulle as die deutero-kanonieke boeke te verwys, dit beteken: die tweede kanonieke boeke. Die res van die OT is dan die proto-kanonieke boeke, dit wil sê: die eerste kanonieke boeke. Op hierdie manier tref ook die Roomse Kerk ’n onderskeid tussen die twee kategorieë boeke in die OT.

Daar is ook ’n ander groep boeke wat bekend staan as die pseudepigrafiese literatuur. Die naam beteken “vals opskrifte” omdat baie van die boeke voorgegee het om deur ’n Bybelse figuur geskryf te gewees het, maar wat in werklikheid nie die geval was nie. Die pseudepigrawe is boeke soos Die brief van Aristeas, 3 en 4 Makkabeërs, 1 en 2 Henog, Testament van die Twaalf Patriarge, Psalms van Salomo; en nog ander. Hierdie boeke dateer min of meer uit dieselfde tyd as die OT apokriewe, sommige ’n bietjie later, en is ook wyd gelees deur die Jode en vroeë Christene. Maar anders as die OT apokriewe is hulle nie opgeneem as deel van die Christelike kanon nie.

Waarom het die reformatore teruggekeer na die Joodse OT kanon? Daar is ’n paar redes hiervoor: a. die algemene tydsgees van die tyd, b. die manier waarop die OT apokriewe deel geword het van die kanon, en c. die stryd met Rome.

  1. Die tydsgees van die Reformasie is gekenmerk deur ’n terugkeer na die oorspronklike bronne van die Christendom, om so die outentieke Christelike leer en lewe weer te ontdek, teenoor die dwalinge wat in die Roomse Kerk van die tyd voorgekom het. Dit het ’n hernude belangstelling in Hebreeus en Grieks, die oorspronklike tale waarin die Bybel opgeteken is, tot gevolg gehad. Die amptelike taal van die Bybel in die Middeleeue was Latyn, en die reformatore het ’n beweging op tou gesit om die Bybel uit die oorspronklike tale, Hebreeus en Grieks, in die volkstale van daardie tyd te vertaal. Die OT apokriewe was weliswaar in Grieks beskikbaar, maar Grieks is deur sommige as die “sekondêre” taal van die apokriewe beskou omdat van hierdie boeke oorspronklik in Hebreeus geskryf is. Die oorspronklike Hebreeuse manuskripte het egter verlore geraak. Om hierdie rede is die apokriewe met ’n mate van agterdog bejeën. Dit was presies ook die rede waarom die Jode aan die einde van die eerste eeu nC hierdie boeke nie ingesluit het in die Joodse kanon nie. Daarby was dit ook bekend dat Hieronimus, die groot Bybelvertaler uit die vierde en vyfde eeu nC wat aan die kerk van die daaropvolgende eeue die sogenaamde Vulgaat-vertaling (Latynse vertaling) van die Bybel gelewer het, ook bedenkinge oor die OT apokriewe geopper het, waarskynlik omdat hy hulle nie in Hebreeus beskikbaar kon kry nie. (Hy het die OT uit die oorspronklike Hebreeus in Latyn vertaal, en nie uit die Septuagint, die Griekse OT, nie.)
  2. Verder, tot op die tyd van die Reformasie was daar nog nooit regtig in die kerk debat gevoer oor die status van die OT apokriewe nie. Geen kerklike vergadering het ooit amptelike uitsprake gemaak oor die gesaghebbendheid, al dan nie, van die OT apokriewe nie. Hulle is gewoon “aanvaar” as deel van die Christelike kanon, op sterkte van die gewildheid van hierdie boeke in die vroeë kerk en die uitsprake van sekere kerkvaders wat die waarde en gesag daarvan hoog geag het. ’n Pseudepigrafiese boek soos 1 Henog 1:9 word selfs in die NT aangehaal (Judas v14-15), wat ’n aanduiding is van die gewildheid van die apokriewe en pseudepigrawe in die vroeë kerk. Weens die kerk se “stilswye” oor die status van die apokriewe het daar dus nog altyd ’n skaduwee van onsekerheid oor hierdie boeke gehang.
  3. Daarby het die reformatore in hulle stryd met Rome nie vrede gehad met dwaalleringe wat na hulle mening in die apokriewe voorgekom het nie, soos bv die Roomse leer oor die vagevuur (waarvolgens mense eers ’n tyd lank gesuiwer moet word voor hulle toegelaat word in die hemel). Laasgenoemde leer sou dan in ’n boek soos 2 Makkabeërs (12:45) voorgekom het.

Die Reformasie het nou al hierdie sluimerende tendense en bedenkinge rondom die OT apokriewe na vore gebring. Martin Luther het gevolglik die standpunt gehuldig dat hierdie boeke wel gelees kan word vir die algemeen informerende en selfs opbouende aard daarvan, maar dat geen kerkleerstuk daarop gebou mag word nie. Luther se weerstand teen die apokriewe het gou deel van die Protestantse tradisie van Bybelvertaling geword met die gevolg dat die apokriewe nie meer by Protestantse Bybelvertalings ingesluit is nie.

Oor die Nuwe-Testamentiese apokriewe kan ons korter wees. Dit is boeke wat ontstaan het om veral ontbrekende inligting te probeer voorsien oor Jesus en die apostels. Byvoorbeeld, die NT gee baie min inligting oor Jesus se kinderjare. En uiteraard was gelowiges nuuskierig hieroor, en oor ander dinge. Wat het Jesus as kind alles gedoen? Hoe is Petrus en Paulus dood? Wat het in die doderyk gebeur toe Jesus daar gaan preek het? Hoe lyk dit in die hemel en die hel? Verskeie NT apokriewe gee uitvoerige inligting oor hierdie sake. Maar dit was van die begin af vir die kerk duidelik dat dit nie outentieke, gesaghebbende inligting is waarop mens jou geloof kan bou nie. Dit was eerder “vrome duimsuiery” wat meer daarop gemik was om die nuuskierigheid van mense te bevredig as wat dit die egte evangelie bevat en die geloof opgebou het. By die lees van hierdie boeke kom mens gou agter dat dit ’n heel ander toonaard adem as die boeke van die NT kanon. Daarom was hierdie boeke van die begin af nooit deel van die NT kanon nie. Tog is hulle wyd gelees in die vroeë kerk – om verstaanbare redes – en het hulle om daardie rede behoue gebly. Maar al kan ons hulle vandag nie ernstig neem vir ons Christelike leer en lewe nie, gee hulle nogtans vir ons waardevolle godsdienshistoriese inligting oor die kerk van die eerste paar eeue, dit wil sê, inligting oor hoe NT gelowiges in daardie tye gedink het, waarin hulle geïnteresseerd was, en watter godsdienstige konsepte vir hulle belangrik was.

Oor die tweede vraag – of die duiwel los rondloop en of hy vasgebind is – kan ons kort wees. Beide stellings is waar. Met die eerste koms van Christus lees ons dat hy soos ’n weerligstraal uit die hemel geval het (Lukas 10:18) en dat die sterk man (Jesus) die duiwel uitgedryf en gebind het (Matteus 12:25-29). En indien ons die binding van Satan in Openbaring 20:2 as die huidige tyd van die kerk op aarde interpreteer, dan leef ons inderdaad ná Jesus se eerste koms in die tyd waar die duiwel gebind is. Hy kan nie doen wat hy wil nie; hy kan slegs doen wat hy toegelaat word om te doen. Maar laasgenoemde is ongelukkig nog skrikwekkend baie, en dis die perspektief wat ’n teks soos 1 Petrus 5:8 bied. Hierdie teks, soos baie ander, is realisties daaroor dat hoewel die mag van Satan met Christus se eerste koms gebreek is, hy nog listig rondloop en soek wie hy kan verslind. Ons moet daarom op ons hoede wees en op die regte manier weerstand bied (Efesiërs 6:13-20), want, soos Efesiërs 6:12 sê, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug. Dis eers met die wederkoms van Christus dat die duiwel en sy engele finaal vernietig sal word (Openbaring 20:9-10).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Apokriewe Boeke (15)

Die Apokriewe Boeke (15) – Jan van der Watt

Die invloed van die apokriewe boeke moet nie onderskat word nie. Die Christendom is nou min of meer 2000 jaar oud en vir verreweg die langste deel hiervan – tot ongeveer 1500/1600 nC – was die Ou-Testamentiese apokriewe deel van die Bybel. Daarna is dit deur die Protestante uit hulle Bybel uitgehaal, maar dit het nog steeds deel van die Rooms-Katolieke Bybel gebly. ‘n Mens kan dieselfde van baie Nuwe-Testamentiese apokriewe sê. Alhoewel die amptelike standpunt van die kerk was dat hulle nie deel van die Bybel is nie, het sommige Christene nog steeds van hierdie boeke bly lees.

ʼn Klompie voorbeeld uit die verlede

Hier is ‘n paar voorbeelde van die invloed wat die apokriewe in die loop van die geskiedenis gehad het:

  • Kenners van Shakespeare se werke het byvoorbeeld nie minder nie as 80 sinspelings op die Ou-Testamentiese apokriewe in sy werke aangetoon. Dit kan dalk toevallig wees, maar twee van sy dogters het selfs name van twee heldinne uit die apokriewe gehad – Judit en Susanna.
  • Die apokriewe het ook ‘n invloed op die skilderkuns uitgeoefen. Gedurende die Renaissance en daarna het skilders gereeld skilderye gemaak met tonele uit die apokriewe. Veral Judit, Tobit en Susanna was gewild.
  • In die musiek het die apokriewe ook ‘n invloed uitgeoefen. Händel het byvoorbeeld twee oratoria geskryf wat handel oor temas uit die apokriewe, naamlik oor Susanna en Judas Makkabeus (van wie ons in die Makkabeërboeke lees).
  • Die bekende lied “Kom dank nou almal God” wat in 1636 deur Martin Rinkart geskryf is en wat tot vandag toe nog in baie kerke gesing word, is gebaseer op woorde in die apokriewe boek Ben Sirag (50:22-24).
  • Die apokriewe het selfs vir Christopher Columbus gehelp in sy soektog na ‘n nuwe pad na die Ooste. Hy het ‘n gedeelte in 1 Esdras 4:41 (verkeerd) verstaan en daaruit afgelei dat net een sewende van die aarde se oppervlak uit land bestaan en dat die orige ses sewendes see moet wees. Daaruit het hy afgelei dat die oseaan tussen Europa en Asië (soos hulle gedink het) oorgesteek kan word. Hy het hierdie gedeelte ook aangehaal in sy pogings om die regeerders van Spanje oor te haal om hul finansieel te ondersteun.
  • Baie van die populêre voorstellings wat nou nog in die Christendom leef, is gebaseer op gegewens in die apokriewe. ‘n Paar voorbeelde: Die prentjies wat ons so gereeld op Kerskaartjies van Jesus se geboorte kry met ‘n os en ‘n donkie daarop is gebaseer op gedagtes wat in die apokriewe voorkom. Die quo vadis-legende, waarvolgens Christus vir die vlugtende Petrus vra waarheen hy gaan as hy uit Rome vlug, asook die voorstelling dat Petrus onderstebo gekruisig is, kom ook uit die apokriewe. Die gedagte dat Christus presies op middernag gebore is, is gebaseer op ‘n (verkeerde) interpretasie van ‘n gedeelte uit die Wysheid van Salomo (18:14-15).
  • Van die leerstellings van die Rooms-Katolieke kerk wat vir Protestante snaaks klink, kom uit die Ou Testament-apokriewe, byvoorbeeld dat vir mense wat klaar dood is, gebid kan word, of dat heiliges vir ʼn mens kan intree.
  • Van die feesdae van die Jode sou ons nie geken het as dit nie vir die apokriewe boeke was nie. Daarin word die geskiedenis vertel van waar die dae vandaan kom.

Daar word selfs vandag beweer dat die apokriewe boeke vir ons die venster oopmaak om die verskeidenheid van die Christendom in die eerste eeue te waardeer. Van die groepe, soos die Gnostici, wat hulleself ook as Christene gesien het, is deur die “algemene kerk” as dwaalleraars verklaar. Hulle het natuurlik ook geskryf (by Nag Hammadi is ʼn groot biblioteek van hulle in die vorige eeu ontdek) en ons kan dus sien wat hulle alles gesê het.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Apokriewe Boeke (14)

Die Apokriewe Boeke (14) – Jan van der Watt

Die eerste brief van Klemens is nie ʼn apokriewe boek nie, maar ʼn vroeg-Christelike geskrif. Hy was die biskop van Rome (die pous soos ons hom vandag ken). Hierdie brief is aan die gemeente in Korinte gerig.

Ons wonder dikwels of die boeke wat ons in die Nuwe Testament kry van die vroegste tye af deur die Christene as gesagvol gesien is. Hier is ʼn uittreksel uit 1 Klemens 36 (ongeveer in die jaar 95 nC geskryf) wat wys hoe die boeke wat ons as die Nuwe Testament ken reeds deur die Christene gesagvol aangehaal is, selfs saam met die Ou Testament.

1) Geliefdes, hierdie is die pad waarop ons ons heil gevind het: Jesus Christus die Hoëpriester, bied ons gawes aan. Hy is die Een wat ons ondersteun en help met ons swakhede. 2) Deur Hom kyk ons op na die hoë hemele. Deur Hom sien ons soos in ʼn spieël sy aangesig wat perfek en verhewe is. Deur Hom word die oë van ons harte  oopgemaak. Deur Hom straal die lig ons gees binne wat in donkerheid vasgevang is en niks weet nie. Deur Hom wil die Here ons graag laat proe aan die kennis wat nooit vergaan nie: ‘die glansvolle grootheid van sy majesteit troon sover bo die engele uit, as wat sy Naam bo hulle name uittroon.’ (Hebreërs 1:3-4). 3) Want die Skrif sê: ‘Hy maak sy engele tot winde en sy dienaars tot vuurvlamme.’ (Hebreërs 1:7). 4) Maar van sy Seun het die Here dit gesê: ‘Jy is my Seun. Op hierdie dag het Ek jou gegenereer. Vra van My en Ek sal vir jou die nasies as jou erfdeel gee en die wye wêreld as jou besitting.’ (Psalm 3:7-8). 5) En weer het Hy vir Hom gesê: ‘Sit hier aan My regterhand tot Ek vir jou ʼn voetstoel van jou vyande gemaak het.’ (Psalm 110:1; Hebreërs 1:13). 6) Wie is nou die vyande? Die slegte mense wat teen God se wil optree.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Apokriewe Boeke (13)

Die Apokriewe Boeke (13) – Jan van der Watt

2 Makkabeërs 2:4-8.

Wat het van die ark van God geword?

4) In dieselfde verslae lees ons van die profeet wat ʼn openbaring van God af gekry het. Op grond daarvan het hy gevra dat die tabernakeltent en die ark agter hom aangedra moes word toe hy na die berg toe is waarteen Moses uitgeklim het om die land te sien wat God vir sy mense wou gee. 5) Daar gekom kry hy ʼn grot. Hy steek toe die tabernakeltent, die ark, asook die altaar waarop die wierook gebrand is, daar weg. Hy het die ingang toegemaak en versteek. 6) Van dié wat saam was het probeer om die pad te onthou, maar hulle kon dit nie weer kry nie. 7) Toe Jeremia hoor wat hulle wou doen, het hy hulle erg kwalik geneem: hierdie plek moet onbekend bly tot God sy volk weer bymekaar bring en vir hulle goed is bo wat hulle verdien. 8) Dan sal die Here vir hulle wys waar dit weggesteek is. Die glorie van die Here, selfs die wolk, sal dan verskyn net soos dit in die tyd van Moses verskyn het; of toe Salomo gebid het dat die Plek op ʼn buitengewone manier vir God afgesonder moes word.

 

2 Makkabeërs 1:18 – 35

Toe die tempel in Jerusalem vernietig is, het die ballinge die vuur waarmee hulle die offeraltaar aan die brand gehou het, saamgeneem. Lees hier wat gebeur het.

18 Ons sal op 25 Kuslew (November tot Desember) die reiniging van die tempel herdenk. Ons het gedink dit is reg om julle daarvan te sê sodat julle ook die Huttefees vier, asook die Fees van die Vuur wat ons laat terugdink aan die vuur van die offers van Nehemia, wat die tempel en die altaar herbou het.

19) Dit is die agtergrond: Toe ons voorvaders as gevangenis Persië toe gevat is, het toegewyde priesters van die vuur van die altaar saamgevat. Daar gekom het hulle dit stilletjies in ʼn holte in ʼn droë put weggesteek. Hulle het doodseker gemaak dat niemand anders van die plek weet nie. 20) Baie jare het verbygegaan. Toe die tyd volgens God ryp was, het die koning van Persië Nehemia na Israel toe teruggestuur. Nehemia het toe die nakomelinge van die priesters wat die vuur weggesteek het, gevra om daarvoor te gaan soek. Hulle het kom rapporteer dat hulle dit nie kon kry nie. Al wat daar was, was dik modderige water. Nehemia sê toe vir hulle om van daardie water te gaan haal. 21) Hulle het die offers reggemaak. Toe sê Nehemia vir die priesters om van die modderige water op die hout en offer wat op die altaar gelê het, te gooi. 22) Skaars het hulle dit gedoen of die son het tussen die wolke deurgebreek. Toe dit gebeur het die hout en offer aan die brand geslaan. Almal was stom van verbasing. 23) Terwyl die offer gebrand het, het die priesters begin bid; almal het sommer saam gebid. Jonatan het die gebed gelei en die res van die mense het saam met Nehemia hardop saam gebid waar hulle moes.

30) Die priesters het toe liedere begin sing om die Here groot te maak.

31) Toe die offer heeltemal verbrand was, het Nehemia gesê dat die res van die modderige water op groot klippe uitgegooi moes word. 32) Hulle het dit gedoen en dadelik het ʼn vuur daar aan die brand geslaan. In die helder glans van die altaar het dit na niks gelyk nie. 33) Die nuus het gou versprei. Die mense het selfs vir Persiese koning alles gaan vertel: dat presies op die plek waar die priesters (wat gevang was) die vuur weggesteek het daar ʼn soort vloeistof verskyn het; en dat Nehemia en sy mense dit gebruik het om die offers mee aan die brand te steek. 34) Die koning het dit laat ondersoek en agtergekom dat alles waar is. Hy het ʼn muur om die plek laat bou en dit heilig verklaar. 35) Die koning het van die mense gehou. Daarom het hy vir hulle die pragtigste geskenke gegee.  Nehemia en sy mense het hierdie modderige water Neftar genoem (dit beteken om rein te maak). Die gewone mense het sommer Neftai gepraat.

Outeur: Prof Jan van der Watt