Moet ons belasting betaal?

C. S. Lewis

Moet ons belasting betaal?

Jesus is in Jerusalem. ‘n Skare drom saam om te hoor wat Hy te sê het. Onder die skare was daar ook Fariseërs en Herodiane – vyande van Jesus. Hulle wil Hom voor die skare vastrek met ‘n strikvraag: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?

Hulle was oortuig dat hulle vir Jesus in ‘n hoek vasgedruk het. Sê Hy ja sou dit beteken dat die Jode ‘n korrupte en gehate regering – die Romeine – wat hulle en hulle godsdiens onderdruk het, moet steun. Sê Hy nee sou die Romeine sy kop eis.

Jesus sê dat hulle die muntstuk waarmee die belasting betaal word vir Hom moet bring. Hulle bring vir Hom die muntstuk. Hier bewys Jesus onmiddellik sy vyande se valsheid. Die denarius se gebruik is deur die tempel verbied, want op die denarius staan die keiser se godslasterlike aanspraak dat hy god is. Die Esseners het selfs geweier om na die muntstuk te kyk, maar hierdie “godsdienstige” persoon dra die geldstuk in sy sak.

Jesus vra toe wie se kop en naam op die muntstuk verskyn. Natuurlik is dit die keiser s’n. Juis dit maak dit ‘n verbode muntstuk. Die Jode mag nie beelde gemaak het nie – beslis nie een van die keiser wat beweer dat hy god is nie. As jy die muntstuk gebruik eer jy in werklikheid die keiser. Nou volg Jesus se antwoord: Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.

Wat beteken dit? Ek het nog altyd geglo dit beteken dat jy jou belasting moet betaal en ook vir die kerk gee. Is dit al? Vraag: Op wat/wie het God sy beeld afgedruk? Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld (Genesis 1:26). Daarom moet ons ons lewens aan Hom offer; ons is sy handewerk; vir ons hele bestaan is ons aan Hom verskuldig. Omdat ons sy beeld dra, is hy ons eienaar. Die keiser was nie god nie, so hy kan sy muntstukke kry, maar God het sy seël op ons afgedruk. Daarom moet ons Hom alleen dien.