Is jy blind vir God se liefde?

Prayer and praise are the oars by which a man may row his boat into the deep waters of the knowledge of Christ. —C.H. Spurgeon

 

Is jy blind vir God se liefde?

Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien (2 Konings 6:17)

In 2 Konings 6 lees ons ‘n baie interessante verhaal. Die Arameërs was in ‘n oorlog met Israel gewikkel. Elisa waarsku elke keer die koning van Israel waarheen die Arameërs trek. Israel was dus voorbereid vir elke beweging van die Arameërs. Die Arameërs hoor dat Elisa in Dotan is. In die nag trek hulle op en omsingel die stad. Toe Elisa se slaaf die môre opstaan sien hy dat die Arameërs Dotan omsingel het. Na Elisa se gebed gaan die slaaf se oë oop en hy sien perde en strydwaens van vuur om die stad. Toe die Arameërs op Elisa afstorm, bid hy: Slaan tog hierdie mense met blindheid.

 Hier sien ons die probleem van gelowiges en ongelowiges – blindheid.

 

  • Die blindheid van die gelowige

Gelowiges is net so vatbaar vir geestelike blindheid as ongelowiges. Toe Elisa se slaaf die leër van die Arameërs om die stad sien, raak hy paniekerig. Hy sien glad nie die teenwoordigheid van God wat vir hom veg raak nie . Waarvoor hierdie slaaf blind was, was die goedheid van God. Hy mag vantevore gesê het dat God magtig is om te red, maar toe hy in die nood is, vergeet hy daarvan. In plaas daarvan dat Elisa vir krag bid, bid hy vir visie: Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur. Die slaaf sien die leër van God se liefde wat die moorddadige Arameërs omring.

 As jy bang is, het jy duideliker visie nodig. Dit is wat Paulus vir die Efesiërs bid: Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (Efesiërs 3:18 – 19). Die liefde van God is so oorweldigend dat Paulus dit nie kan begryp nie. Daarom bid hy dat God sy oë sal open sodat hy hierdie liefde van God kan raaksien – wyd, ver, hoog, diep.

 Hoe ver is God se liefde? So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Efesiërs 1:4). Daar was nooit ‘n tyd waar God jou nie geken en liefgehad het nie. Voor jy nog gebore is, het Hy bepaal dat Hy jou gaan liefhê. Hy het ons gekies nie omdat ons mooi en goed was nie – ons is goed en mooi omdat Hy ons gekies het.

Hoe hoog is God se liefde? Want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien (Psalm 103:11). Kyk net hoe ver is die sterre. Volgens astrofisici is die buiterand van die heelal 15,5 biljoen ligjare weg. Ons kan dit nie verstaan nie. God se liefde is hoog.

Hoe wyd is God se liefde?  Wyd genoeg om alles te beheer. Volgens die verhaal in 2 Konings 6 was die berge vol van God se engele.

Hoe diep is God se liefde. Diep genoeg om ons uit die diepste put te red.  Paulus sê dat ‘n mens nie sommer jou lewe prys nie – selfs nie vir ‘n regverdige mens nie. God wys sy liefde vir ons deurdat Christus gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:6 – 8)

Soms is dit moeilik om God se liefde te sien. Calvyn sê dat die kruis ons bril van geloof is – vae situasies kom in die skerp fokus van God se liefde.

 

  • Die blindheid van ongelowiges

Elisa bid dat die Aramese soldate met blindheid geslaan sal word. Alhoewel hulle blind is, gaan hulle voort. Hulle is totaal mislei. Hulle glo dat God hulle vyand is en as hulle net sy profeet kan vang, is al hulle probleme verby. Elisa lei hulle egter na waar hulle totaal kwesbaar is – binne-in Samaria, Israel se hoofstad. Dan gebeur iets verbasend – hy beveel dat die Israeliete vir hulle eet- en drinkgoed moet gee en daarna vrylaat. Hulle verwag oordeel en kry ‘n fees van genade.

 

Baie mense glo steeds dat God hulle vyand is; dat sy reëls sleg en beperkend is; dat Hy nie vir hulle omgee nie. Hulle dink hulle visie is 100%. Hulle sien nie dat God graag genade aan hulle wil bewys nie. Ons probeer ook sekere aardse dinge vasvang: werk, geld, verhoudings, ens. Soos die Aramese gaan ons net kry waarvoor ons soek as ons deur God gevange geneem word.

 Gelowiges en ongelowiges sien tekens van God se liefde. Mag God ons oë open sodat ons die genadefees wat Hy vir ons voorberei het, kan sien – ‘n fees van sy liggaam en bloed.