Paulus se blydskap

Cheap grace is that grace which we bestow on ourselves – Dietrich Bonhoeffer

Paulus se blydskap

Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet is ek bly daaroor, ja, is ek saam met julle bly. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees (Filippense 2:17 – 18)

Vier maal gebruik Paulus in net twee verse die woordjie bly. Blydskap is baie dieper as gelukkig wees, want gelukkig wees word deur my omstandighede bepaal. Paulus kan bly wees, want hy weet dat God se verlossingswerk voldoende was. Daarom kan hy hoop op die toekoms.

 

Onthou Paulus skryf hierdie brief uit die tronk uit. Om bly te wees te midde van lyding beteken dat hy besef dat hierdie tyd nie al is wat daar is nie – die huidige tyd het nie die finale sê nie. Jesus Christus, die Verlosser, sal weer kom. Dan is ons vir altyd by hom.

Kyk Sondag na die mense om jou by die erediens. Het jy al ooit so ‘n swaarmoedige klomp mense bymekaar gesien? Luister wat Paulus sê – vier keer in twee verse – wees bly.




Wees altyd bly in die Here!

“Flatter me, and I may not believe you. Criticize me, and I may not like you. Ignore me, and I may not forgive you. Encourage me, and I will not forget you.” ~William Arthur Ward

Wees altyd bly in die Here!

Hierdie teks kry ons in Filippense 4:4. Filippense is ‘n verbasende boek. Paulus sit in die tronk in Rome en tog is hy bly oor wat God vir hom gedoen het. In hierdie brief noem Paulus ‘n aantal blydskap-stelers. Kom ons kyk na ‘n paar:

 

  • Ontevredenheid – ons het elke nuwe produk of toestel nodig anders is ons ontevrede. Ons glo dat ons blydskap in persoonlike vervulling sal kry – deur reise, verhoudings, avonture, besittings, ens. Mense is ontevrede en soek voortdurend na die sin van die lewe en vrede. Maar ware  tevredenheid en blydskap  is net moontlik as ons Jesus Christus ken. Met ons sonde vergewe, ons toekoms seker, ons lewens onder God se beheer, kan ons tevrede wees … en bly. Blydskap is nie die gevolg van uiterlike omstandighede nie, maar van innerlike krag.
  • Selfsugtige en onsuiwere bedoelings (1:17). Later waarsku Paulus die Filippense teen selfsug en eersug: Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander  92:3 – 4).
  • Kla en teëpraat (2:14).
  • Net jou eie belange soek (2:21).
  • Genotsug: Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots, hulle is aardsgesind (3:19)
  • Vrees: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (4:6).
  • Slegte gedagtes: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (4:8)

Wat vir my verbasend is, is dat die Bybel net so van toepassing is vir ons as wat dit vir die Filippense was. As ons ‘n lysie moet maak van dinge wat ons blydskap steel, sal baie van die items op hierdie lysie van Paulus steeds daarop verskyn.