Bose geeste in jou huis – Francois Malan

Jackie vra:

Ek wonder al so lank oor die vraag. Kan geeste of bose geeste in jou huis wees? Kan hulle met jou praat of jou aanraak? My mense glo daaraan maar ek self het dit nog nooit beleef/ervaar nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Paulus waarsku in Efesiërs 6:10-12 teen die listige aanslae van die duiwel. ‘Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.’

In Efesiërs 2:2 verwys hy na die gemeentelede se heidense verlede: ‘Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.’

Jesus waarsku in Lukas 11:24-26; vgl. Matteus 12:43-45): Wanneer ’n bose gees uit ’n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na ’n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so ’n man slegter daaraan toe as aan die begin.

Die Bybel weet van die werking van bose geeste wat ons probeer wegkry van die Here af en weg van die Here se riglyne vir ons lewe. Sekere mense raak bewus van die werking van die bose geeste, wat gewoonlik nie hoorbaar met jou praat nie, maar jou probeer bang maak. Hulle raak bewus van sy teenwoordigheid, dikwels deur iets wat hulle aanvoel. Maar almal van ons ken versoekings wat ons wil lok en aandryf om verkeerde dinge te doen.

Jesus sê byvoorbeeld: die duiwel is ’n leuenaar en die vader van die leuen (Joh 8:44). As ons verkeerd gedoen het probeer ons dikwels eerste om die verkeerde te bedek met ’n leuen om ons los te lieg. Dan roep ons eintlik die duiwel om ons vry te maak. Terwyl Jesus sê die waarheid sal ons vrymaak (Joh 8:31). As ons die waarheid praat staan Hy ons by, want Hy is die weg die waarheid en die lewe (Joh 14:6).

In Efesiërs 6:10-18 wys Paulus die pad aan vir die gelowiges hoe om die duiwel se teenwoordigheid en sy werking teen te staan:

Soek julle krag in die Here en in sy groot mag (want Hy het die duiwel oorwin. Ons kan by die Almagtige God skuil). Die Here se pad wat Paulus aanwys word verduidelik met die beeld van die soldaat in uniform, wat vir Paulus oppas (Hand 28:16). Ons moet die volle wapenrusting van God aantrek en so lewe, gereed vir die stryd teen die bose geeste. Die wapenrusting bestaan uit:

1 die waarheid soos die gordel wat die soldaat se los klere om sy heupe vasmaak sodat hy vryelik kan werk en veg. So ken ons Jesus as die waarheid wat ons vryelik laat lewe deur die waarheid met mense te praat en daarin te bly. Dan kan die duiwel, vader van die leuen, ons nie vir sy doel gebruik nie.

2 geregtigheid soos die borsharnas van die soldaat, wat sy hart beskerm teen die pyle en spiese van die vyand. Geregtigheid is om in die regte verhouding met God te lewe as sy kinders vir wie Hy sorg. Die regte verhouding kry ons van God af omdat Jesus reeds vir al ons sondes met sy lewe betaal het en ons vrygespreek het. Daarom kan die duiwel ons nie aankla nie, en sy bose geeste kan ons nie uit ons Vader se hand ruk nie (vgl. Joh 10:28-29).

3 bereidheid vir die evangelie van vrede soos die sandale aan die soldaat se voete wat hom oor klippe en dorings vryelik laat beweeg. So kan ons praat en getuig oor die wonderlike evangelie, die goeie boodskap, dat ons deur en saam met die Seun van God beskou word as God se kinders. Dan kan die duiwel ons nie gebruik vir geweld en valse stories oor ander mense nie.

4 geloof in die Here Jesus, is soos die groot skild wat die soldaat se voorkant heeltemal bedek om die brandende pyle, met tou om wat met pik gesmeer is, af te weer. So kan geloof in die Here Jesus die vurige pyle van die Bose se aanvalle en versoekings afweer. As daar bose geeste in jou huis sou inkom kan jy hulle in die Naam van die Here Jesus bestraf en vra dat Hy hulle uitjaag.

5 verlossing soos die helm om die soldaat se kop te beskerm. So verlos Jesus ons van die sondeskuld van ons verlede, en verlos ons uit versoekings van die Bose deur by ons te staan in alle omstandighede. As ons in ons koppe seker is van ons verlossing deur Jesus, kan ons die duiwel en sy versoekings oorwin, en sal die bose geeste ons ook nie probeer aanval nie.

6 die woord van God is die swaard van die Gees. Die soldaat val aan en beskerm homself met sy swaard. So is die woord van God wat ons in die Bybel lees en ons lewens daarvolgens inrig, ons aanvalswapen en ons beskerming teen die Bose. Met die woord van God het Jesus die versoekings van die duiwel suksesvol teengestaan (lees Matteus 4:4,7,10).

7 daarby kom gebed waarmee ons met ons Vader praat nadat Hy met ons deur sy woord gepraat het. Met gebed dank ons Hom vir alles wat Hy elke dag vir ons doen, en bid ons elke dag dat Hy ons sal lei om sy wil vir ons lewe te doen.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Spoke, geeste en towery

Spoke, geeste en towery – Jan van der Watt

Shawn vra:

Ek is 32 jaar oud & is van kleins af grootgemaak met ‘n groot liefde vir ons Here Jesus. My ouers het my onderrig & ook laat onderrig in die Woord. My vraag is die volgende: Ek wil weet wat julle opinie ontrent spoke, geeste & goëlery in huise ens is?? Ek is nie heeltemal oortuig dat spokery in huise & of besigheids persele noodwendig die werk van demone is nie. So ook nie gedaantes wat gereeld op dieselfde plek gesien word deur menigde mense nie. Ek het al met tè veel mense te doen gehad om sommer net te aanvaar dat sulke gebeurtenisse nie gebeur met doodgoeie onskuldige Christen mense nie. Vir die afgelope amper twee jaar probeer ek mense help & bystaan wat sulke gebeure ervaar. Maar wil graag weet dat ek nie die enigste Christen is wat glo in spokery ens nie. Ek is baie bewus van demoniese magte wat daagliks probeer om ons aan te val, maar is glad nie geintimideerd daardeur nie. Nie omdat ek so goed of sterk is nie, maar omdat die Bloed van Christus my, my huis & my familie beskerm. Ek voel wel ook dat daar iets bo-natuurliks maar anders as demone is wat mense kan pla. Ek sal regtig baie graag in verbinding wil tree met iemand wat meer geletterd is in die veld om sodoende my kennis op te skerp & sodoende instaat te wees om mense wat geteister word deur die tipe ervarings te kan help!!

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is heelwat materiaal op Bybelkennis.co.za beskikbaar oor demone en geeste. Die Bybel gaan daarvan uit dat demone en geeste bestaan. Spoke is eintlik ook maar net ‘n ander naam vir geeste van mense wat dood is. Die Bybel wil egter nie dat ons ons met sulke dinge ophou nie, omdat ons die Heilige Gees het. Ons het eintlik niks nodig van ander geeste nie. As ons egter gepla word deur sulke geeste is die Heilige Gees die een wat ons kan help en beskerm. Ek dink ook nie dat ons daarvan moet uitgaan dat alle geeste sleg is nie. Daar is Shawn heeltemal reg.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Bose Geeste

Bose Geeste – Jan van der Watt

Percy vra:

Iemand het vir my ‘n vraag gevra, wat nog nie kan antwoord nie, nl. as ‘n sekere persoon nie glo nie, maar doen goeie werk en dade (sy woonplek is skoon) sal daar nie later bosegeeste intrek nie? Die persoon is n nie gelowige.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel sê dat ons deur geloof gered word (Joh 3:16). Goeie dade is die resultaat van ons geloofsverhouding met God en nie die omgekeerde nie. Laat ek dit met ‘n voorbeeld illustreer: As ek nie ‘n polisieman is nie en ek trek ‘n roekelose bestuurder van die pad af (‘n goeie daad) gaan dit my net in die moeilikheid bring, want ek het nie die status van ‘n polisieman nie (ek het nie die ‘papiere’) nie. As ek egter presies dieselfde doen omdat ek ‘n polisieman is dan gaan die roekelose bestuurder moeilikheid kry. Met ander woorde, dit is die status wat die verskil maak. As ek in Jesus glo, word ek ‘n kind van God. Wat ek dan doen, doen ek omdat ek sy kind is en nie omdat ek iets daardeur wil of kan verdien nie.

Die Heilige Gees woon in die gelowige (1 Kor 3:16). Daarom is daar nie plek vir bose geeste nie. Hulle kan jou wel probeer aanval, maar sal jou nooit kan oorneem nie (Ef 6:10 en verder). Dit sal die Heilige Gees nie toelaat nie.  Die ongelowige het egter nie die Heilige Gees in hom of haar nie. Die kans bestaan dus altyd dat ‘n bose gees daar plek kan maak, al doen die persoon die regte dinge. Dit is nie die regte dade wat die bose geeste gaan uithou nie, maar die Heilige Gees. Die veiligste is dus om Jesus jou vriend te maak en naby Hom te leef.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt