Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God en Bose Magte

Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God en Bose Magte

Jesus se stryd teen die duiwel en hier­die bose magte, en veral sy oorwinning oor hulle, is dié voor­beeld van die koms van die ko­ninkryk van God. Geen ander faset van Jesus se aardse bediening word meer beklemtoon in die Evangelies as juis sy duiweluitdry­wing (eksorsisme) nie. En die betekenis wat Jesus daaraan heg, is nog belangriker as die blote feit dat dit gebeur het. Wanneer Jesus ‘n bose gees uit ‘n man dryf, verklaar Hy uitdruklik dat dit is hoe die koninkryk van God kom (Matt 12:28; Luk 11:20).

Daar word taamlik algemeen aanvaar dat die kern van Jesus se boodskap was dat die koninkryk van God naby is. Dit is ook sy “in­tree­preek”; dit is ook Johannes s’n (Matt 3:2; 4:17). Onder “koninkryk” kan ons “heerskappy” verstaan. Maar die feit dat Jesus aankondig dat God se heerskappy naby is, impliseer dat Hy nie op daardie stadium regeer het nie. Wat het dan met sy heerskappy gebeur?

Die Ou Testament is vol van die boodskap dat die Here ko­ning is, dat Hy oor alle volke koning is, dat alle volke voor Hom moet buig en dit inderdaad in die toekoms sal doen. Sy wêreldwye heer­skappy spreek alreeds uit die feit dat die Bybel nie met sy volk Israel begin nie, maar met die skepping van die hele wêreld. Dit plaas Hom dadelik in die unieke posisie van Skepper en Heerser oor almal en alles. Later beloof Hy aan Abraham dat alle volke in hom geseën sal wees, wat nogeens beteken dat sy gesag oor alle volke strek.

Dit is ‘n buitengewone gedagte vir daardie tyd omdat dit ‘n tyd was waarin elke volk sy eie god gehad het en gode binne se­kere grense gesag gehad het. Maar Israel was oortuig dat hulle God oor alle volke gesag het (Deut 32:8). God is koning oor die hele aarde (Ps 47:3, 8); daarom behoort alle volke aan Hom (Ps 87:4), moet alle volke Hom dien (Ps 72:11) en sal alle volke uit­eindelik na Jerusalem stroom om Hom daar te aanbid (Jes 2:2-5). Hy is selfs koning oor al die gode (Ps 95:3).

Met dit in gedagte is dit tog vreemd dat Johannes die Doper en Jesus albei aankondig dat die koninkryk (heerskappy) van God op hande is. Hy is dan koning. Alle volke behoort dan aan Hom. Waarom moet sy heerskappy nog kom?

Maar dan vergeet ons dat daar tussen die Ou en die Nuwe Tes­tament dinge gebeur het. Die apokaliptiese literatuur (*Apo­kaliptiek) het tydens en na die ballingskap na vore gekom met die oortuiging dat die bose magte op aarde oorgeneem het en be­sig is om die mense en die natuur te verwoes. Dit is in hierdie atmosfeer dat Jesus optree. Daarom is daar so dikwels sprake van bose magte in mense se lewens. Trouens, daar is geen ander faset van Jesus se aardse bediening wat soveel beklemtoon word as sy genesings deur eksorsisme nie. Dit beteken eenvoudig dat Hy die mensdom kom bevry het van die bose magte wat op aarde oorgeneem het en God se heerskappy verduister het. Jesus kom dan deur sy dui­weluitdrywing die heerskappy (koninkryk) van God herstel.

Hierdie perspektief is nie tot die Evangelies en tot Jesus se aard­se optrede beperk nie. Paulus interpreteer ook sy kruisiging en op­standing in hierdie terme. (*Versoening) God het deur die *kruis en *opstanding van Jesus die bose magte ontwapen en van hulle ‘n openbare spot gemaak (Kol 2:15). Deur die opstanding is Christus verhef hoog bo alle bose magte (Ef 1:21).

Dit beteken nie dat die duiwel en sy magte daarna geen invloed meer kon uitoefen nie.

In Handelinge gaan die apostels voort om wonderwerke te doen en bose magte uit mense te dryf (4:30; 5:12-16; 6:8; 16:16 ev). Hierdie stryd gaan voort. Die duiwel en sy magte bly gevaarlik. Die duiwel word voorgestel as ‘n honger leeu wat mense wil opvreet. Die ge­lowiges moet hom in die geloof teenstaan (1 Pet 5:8). Hulle het ‘n stryd wat nie teen mense is nie, maar teen die magte in die lug. Daarvoor het hulle die volle wapenrusting van God nodig om tot die einde toe sterk weerstand te kan bied (Ef 6:10 ev).

Dit beteken dat Jesus wel die duiwel oorwin het, maar dat hy nog nie vernietig is nie, en nog met sy verwoestingswerk in mense se lewens voortgaan. Maar Jesus se oorwinning beteken dat ons die duiwel in die Naam van Jesus kan teenstaan en oorwin. Sekere groepe Christene het nog altyd getuienisse van eksorsisme wat steeds voortgaan. Terwyl die duiwel nou reeds oorwin is, sal hy eers aan die einde volkome uitgeskakel word (Op 20:10). Só sal die koninkryk (heerskappy) van God in sy volheid aanbreek op die *nuwe aarde.

‘n Mens kan dus redeneer dat die koninkryk in ‘n sekere sin reeds gekom het, maar ook nog kom, en ook eers in die toekoms finaal sal kom. Maar ons kan ten ene male nie die koms van die koninkryk verstaan sonder die donker agtergrond van die duiwel en die bose magte nie.

 

Kan ons nog aan ‘n duiwel glo?

Dit maak die vraag na die dui­wel en die bose magte in ons dag baie belangrik. Kan ons regtig vandag nog aan dié vreemde fi­guur en sy trawante glo? Is die duiwel nie eenvoudig deel van ‘n verouderde wêreldbeskouing soos die drieverdieping-*wêreld­beeld nie?

Bepaalde voorstellings van die duiwel en die bose magte is se­kerlik nie meer sinvol nie. Maar oor die feit van ‘n bonatuurli­ke geestelike mag in baie vorme kan ons nie maklik twyfel nie. Dis ‘n byna universele godsdienstige oortuiging. En gedurende die af­gelope eeu het ons aaklige voorbeelde gehad van mense wat deur ideologie gedryf is tot wandade wat bomenslike proporsies aan­ge­neem het. Dink maar net aan Hitler, die Kommunisme en apart­heid. Is dit nie skrikwekkende voorbeelde van bomens­like magte wat mense in hul greep kry en tot absolute onmenslik­heid dryf nie? Is mense regtig uit hul eie tot sulke afgryslike wandade in staat? Mis­kien is dit na die twintigste eeu makliker as ooit tevore om te aanvaar dat daar bose magte is wat mense in hul greep kry.

Intussen is dit interessant om die wêreldbeeld en die duiwel met mekaar te vergelyk. Ons sien maklik af van die wêreldbeeld, maar ons hou vas aan die bestaan van die duiwel. Is dit konse­kwent? Waarom die een en nie die ander nie? Om twee redes. Eer­stens lê hulle op twee verskillende vlakke. Die wêreldbeeld lê op die vlak van die natuurwetenskappe, en hulle het kontroleer­bare bevindings wat die drieverdieping-wêreldbeeld ongeldig maak. Maar die bose magte werk nie op so ‘n vlak nie. Daar is nie sulke bevindings moontlik nie. Elke openbaring van die bose magte kan ook aan ander faktore toegeskryf word.

Tweedens hou die wêreldbeeld op geen manier verband met die hart van die evangelie nie. Ons verloor niks as ons dit prysgee nie. Dit het nie teologiese betekenis of verband met Jesus Christus nie. En dit is twee van die maatstawwe wat ons voorgestel het om te onderskei tussen dit wat wesenlik is in die Bybel, en dit wat randsake is. (*Gesag van die Bybel, *Kreasionisme) Daarteen­oor staan die bose magte in direkte verband met die hart van die evangelie, met Jesus se aardse optrede, die betekenis van sy kruis en opstanding, en die koms van die koninkryk wat die kern van sy boodskap is.

 

Skrywer: Prof Adrio König