Ongesuurde brood in antieke Israel

Ongesuurde brood in antieke Israel – Coen Slabber

Vraag:

Susan Barnard vra:

Ek wil graag ‘n brood resep hê wat hulle in die Bybel se tyd gebruik het vir ongesuurde brood. Kan julle my dalk help asseblief.

Antwoord:

Coen Slabber antwoord:

Die stapelvoedsel van die ou Israeliete was brood. Dit was so ‘n belangrike deel van elke maaltyd dat die Hebreeuse woord vir brood ook na voedsel in die algemeen kan verwys. Om die belang van brood verder te beklemtoon, het Bybelse Hebreeus ten minste twaalf verskillende woorde vir brood. Brood is by feitlik elke maaltyd geëet en het in tussen 50 en 70% van die gewone mense se kalorie inname  voorsien.

 

Die Israeliete het veral koring, gars en soms sorghum verbou. Dit is gewoonlik in die vorm van ‘n platbrood of roosterkoeke gemaak. Fyn gemaalde meel was ‘n luukse wat net die rykes kon bekostig. Gars was die gewildste graansoort in die antieke Midde-Ooste. Gars word vroeër as koring ryp en is ook meer bestand teen droogtetoestande. Ons lees dat Jesus die seuntjie se vyf garsbroodjies vermeerder het om 5 000 mans en hulle gesinne te voed (Johannes 6:9 – 13).

 

Die hele proses van brood maak, is begin deur die graan te dors. Die primitiefste manier was om die are met die hand uit te vryf – iets wat Jesus se dissipels gedoen het (Lukas 6:1). Later is die gerwe met stokke geslaan of osse is oor die gerwe gejaag om die korrels van die kaf te skei.

 

Daarna is die graangewas gemaal.’n Harde klip is gebruik om die koring op die meulsteen te maal. Later is ‘n stamper en vysel gebruik.  Hier is ‘n voorbeeld van so ‘n meulsteen.

 

 brood

 

Hierdie was ‘n moeilike en tydrowende proses. Elke huis het sy eie graan gestoor. Dit word bereken dat omtrent drie uur elke dag nodig was om genoeg meel vir ‘n gesin van vyf  te maal. Na die meel verkry is, is dit met water gemeng en geknie in ‘n groot bak. Gewoonlik is suurdeeg gebruik. Die suurdeeg is verkry deur  ‘n klein deeltjie van die deeg wat vir die vorige baksel gebruik is, te hou.

 

Hierdie deeg is op verskillende maniere gebak. Aanvanklik is die deeg direk op warm klippe geplaas. Later is ‘n bakpan of bakplaat gemaak van klei of yster gebruik (Levitikus 7:9).

 

Die eindresultaat van al hierdie metodes was dun brode. Daarom die gebruik om brood te breek en nie te sny nie. Hierdie brood is ook gebruik om in souse te doop. Soms is die brood in ‘n wynsous gedoop (Rut 2:14); soms is dit in olyfolie gedoop.  Brood is soms verryk deur  boontjies, lensies, sorghum en spelt by te voeg (Esegiël 4:9).

 

Wat dan nou van ongesuurde brood? Ons lees van die gebruik van ongesuurde brood by die instelling van die paasfees (Eksodus 12). Reeds op die eerste dag van die fees moes alle suurdeeg uit die huis verwyder word. Vir sewe dae lank kon net ongesuurde brood geëet word. Hierdie was ‘n opdrag van God en indien iemand dit nie gehoorsaam nie, moes hy van Israel afgesny word. Die eet van ongesuurde brood hang dikwels saam met Joodse godsdiensfeeste.

 

Hoekom ongesuurde brood? In die Bybel word suurdeeg gewoonlik met die bose verbind. Die gisting wat plaasvind simboliseer verrotting of ontbinding. Jesus waarsku sy dissipels: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs (Matteus 16:6). Paulus gebruik ook die beeld van suurdeeg in ‘n negatiewe betekenis: Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? Verwyder dan die ou suurdeeg dat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees … Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid (1 Korintiërs 5:6 – 8). Daar is egter ‘n uitsondering op hierdie reël. Jesus vertel ‘n gelykenis en sê dat die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was (Matteus 13:33).

 

Ongelukkig kon ek geen resep kry nie.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Die Ons Vader-gebed: Gee ons vandag ons daaglikse brood

Religion tells you to go and change; the gospel changes you on the spot – Tim Keller

 

Die Ons Vader-gebed:  Gee ons vandag ons daaglikse brood

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

God wil hê dat ons nie net oor sy sake – sy Naam, sy koninkryk en sy wil – bekommerd moet wees nie, maar ook ons menslike behoeftes. Hoekom sou Jesus nou brood voor vergifnis plaas?

Iemand met ‘n leë maag filosofeer nie oor skuld en vergifnis nie! [Dit is interessant dat Jesus se eerste versoeking in die woestyn ook met brood te doen het.]

 

Maar waarna verwys brood in hierdie versoek? Is dit ‘n simbool van alle noodsaaklike kos? In die Bybel gaan dit gewoonlik gepaard met water, klere, olie en wyn. Luther het gesê dat brood verwys na alles wat nodig is vir die behoud van lewe – kos, ‘n gesonde liggaam, ‘n huis, vrou, kinders, ‘n goeie regering en vrede. Die Heidelbergse Kategismus (Vraag 125) antwoord soos volg: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel. Hierdie gebed vir brood mag uitdrukking gee aan ‘n groot verskeidenheid behoeftes – ‘n werk, ‘n regverdige salaris, gesondheidsorg, godsdiensvryheid, politieke regte, ens.

 

Reeds baie vroeg het die kerk hierdie versoek vergeestelik. Brood sou dan na die woord van God as die brood van die lewe of na die brood wat tydens Nagmaal gebruik word, verwys. Hierdie siening is verkeerd as ons aanvaar dat brood slegs na geestelike sake verwys. Primêr verwys dit na ons liggaamlike behoeftes. Daar mag wel ‘n sekondêre geestelike interpretasie wees. Gewone brood is die oorspronklike betekenis; geestelike brood is sekondêr. Vir Jesus staan aardse brood en die brood van die lewe nie teenoor mekaar nie.

 

Paulus berispe die ryk Christene in Korinte oor onreëlmatighede by die Nagmaal – party ly honger en ander drink te veel. Hy verwys na hierdie optrede as ‘n gebrek aan eerbied vir die gemeente van God (1 Korintiërs 11:22). Ons kan nie mense toegang tot basiese hulpbronne soos kos weier en steeds dink dat ons toegang tot die liggaam en bloed van Jesus – die Nagmaal – het nie.

 

Sterk taal. Sekerlik, maar luister na Jesaja (1:10 – 23). Jesaja sê dat die volk getrou is met die bring van hulle offers – hulle bid, vas, brand wierook en woon gereeld die seremonies by die tempel by. Terselfdertyd verwaarloos hulle hulle plig teenoor hulle medeburgers. Hieroor weier God om hulle aanbidding te aanvaar: Moenie  langer julle nuttelose offergawes bring nie … selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie. Weereens is daar ‘n verband tussen ons aanbidding van God en geregtigheid teenoor mense.

 

Ons kry hierdie verband ook in Jesus se profetiese rede (Matteus 25:31 – 46). Jesus skei die skape en die bokke. Diegene wat God se koninkryk as erfenis in besit sal neem, is diegene wat vir die geringstes van hierdie broers van My iets te ete, iets om te drink en klere gegee het; wat hulle verpleeg het en in die tronk besoek het.

 

Mense wat argumenteer dat hierdie siening van brood verkeerd is, gaan terug na Jesus se versoeking. As Jesus die eerste versoeking – verander hierdie klippe in brood – antwoord, sê Hy: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom (Matteus 4:4). Beteken dit nie dat ons materiële behoeftes nie so belangrik is as wat ons dink nie? Dat God se woord ons brood is? Ja, Jesus het gesê dat die mens nie van brood alleen kan leef nie, maar Hy het dit nooit vir honger mense gesê nie. Vir hulle het Hy gevoed. Die brood waarvoor ons in hierdie gebed bid, word gekwalifiseer: dit is ons brood; ons vra dat God dit vandag vir ons gee; dit is ons daaglikse brood. Dit gaan hier oor brood wat vir oorlewing benodig word.

 

Maar wat beteken hierdie gebed vir ons. Ten minste twee dinge:

  • Ons kan nie sommer al die dinge wat ons het, aanvaar asof ons ‘n reg daarop het nie. Ons bekommernis is gewoonlik wat ons môre gaan eet en aantrek – nie of ons iets het om te eet nie.
  • Dit plaas ‘n verantwoordelikheid op ons wat het om die minderbevoorregtes te help.

 

Miskien help hierdie gebed uit Latyns-Amerika ons:  “O God, to those who have hunger, give bread; and to us who have bread give the hunger for justice.