Hoe het die vroegste Christene se Bybels gelyk? – Kobus Kok




Hoe bestudeer ek die Bybel? – Jan van der Watt

Elbe vra:

Ek wil die Bybel bestudeer van voor tot agter, kruis en dwars maar sistematies. Hoe kan ek dit doen?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar het onlangs ‘n artikel oor Bybelstudie op ons webblad verskyn. Hier is nog ‘n stukke wat daardie artikel aanvul.

Daar is verskillende maniere om die Bybel van voor tot agter te bestudeer. DIe heel eerste stap is om die Bybel sistematies deur te lees. Dit beteken nie dat mens By Genesis begin en by Openbaring eindig nie. DIe eerste paar boeke Genesis en Eksodus gaan oor die geskiedenis van die Jode, maar as mens by dele soos Levitikus is net ‘n klomp reels. As mens daar kom, verloor baie mense moed. Met die Nuwe Testament is die eerste drie Evangelies weer baie dieselfde (Matteus en Lukas het Markus as bron gebruik en lyk daarom so dieselfde). As jy dus met die Nuwe Testament begin lees jy dus basies drie maal dieselfde storie wat meestal dieselfde is (daar is natuurlik verskille ook). Dus, moet mens so bietjie afwissel. Daar is verskillende moontlikhede:

  1. a) Daar is leesprogramme wat mens help om die Bybel bv. in ‘n jaar deur te lees (gewoonlik is daar ‘n stukkie uit die Ou Testament en een uit die Nuwe Testament vir elke dag). Dit is gewoonlik redelik lang dele – mens kan dit oor twee jaar versprei deur die daaglikse leesprogram oor twee dae te lees. So ‘n leesrooster kan mens bv. agter in BYBEL A-Z kry. Die Bybelgenootskap het ook so rooster (op webblad: co.za). Kyk ook op Christianity.com, GOOGLE ‘reading the Bible’ of ‘lees die Bybel’.
  2. b) Mens kan begin met die Nuwe of Ou Testament (ek sou die Nuwe Testament aandbeveel). Die eerste deel van die Nuwe Testament is geskiedenis (Matt – Handelinge). Dan volg daar ‘n hele reeks briewe van Paulus, Petrus ens. Dit eindig met die profetiese boek Openbaring. Soos ek gese het, sal ek bv. net Matt eers lees (Markus en Lukas oorslaan) en dan van Johannes af verder lees (Johannes vertel ook die storie van Jesus maar op sy eie manier – dit is ook baie meer op die preke van Jesus gefokus). Mens kan dan bv. na Galasiers Markus lees en as mens met Hebreers klaar is, Lukas aanpak. Die Ou Testament se eerste deel is ook geskiedenis (slaan die lang dele met die lyste reels gerus uit). DIe geskiednis van Israel word vertel van Genesis af tot by Nehemia (Ester).  Van Job af kry mens boeke wat oor wysheid en Psalms gaan, Van Jesaja tot by Maleagi kry mens al die profete. Die profesiee is natuurlik in hulle eie omstandighede geskryf (hier sal  mens bietjie hulp moet kry oor wanneer hulle geskryf is en wat die doel was vir die skrywe – party is byvoorbeeld voor die ballingskap geskryf terwyl ander tydens of na die ballingskap geskryf is. 
  3. c) ‘n Mens kan ook ‘n kombinasie maak, byvoorbeeld, ‘n deel uit die Ou Testament lees, dit afwissel met ‘n boek uit die Nuwe Testament, soos mens dit interessant vind. So maak mens ‘n kombinasie wat vir jou self interessant is. As die geskiedenis van Israel byvoorbeeld vir jou interessant is, bly dit lees. As jy voel jy wil nou eers afwissel, lees van Paulus se briewe of ‘n Evangelie. Hou dit dus vir jousel finteressant. 

Belangrik is dat a) jy goed boekhou van jou vordering; b) jou gedagtes en wat jou tref aanteken (daar is Bybels met ‘tussenskote’, met ander woorde daar is oop bladsye in die Bybel waar jy aantekening kan maak. Kry vir jou so Bybel, of anders ‘n ‘werksbybel’ waarin jy kan onderstreep en in die kantlyn kan merk. 

Ek hoop dit help bietjie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Digitale Bybel – Francois Malan

Danie vra:

Waar kan ek n naslaan Bybel digitaal kry om af te laai?

Antwoord

 Prof Francois Malan antwoord:

Ek weet nie van ’n naslaan bybel nie, maar by You Version kan jy ’n 1983-vertaling, 1953-vertaling, Die Boodskap en Die Bybel vir Almal in Afrikaans kry as jy die You Version aflaai. Daarmee saam kry jy 53 Engelse vertalings.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die PWL-Bybel – Hermie van Zyl

Jaco vra:

Ek wil graag iets weet omtrent die PWL – “Pad van die Waarheid tot die Lewe”-Bybel, geskryf deur Gerrie Coetzee. 1. Is die Bybel ’n betroubare bron om mense te leer, aangesien die vertaler reken dit is die egste vertaling ooit. 2. Word die PWL-Bybel in die teologiese wêreld (Universiteite en Bybelskole) aanvaar as betroubaar? 3. Word die Bybel in Universiteite gebruik vir naslaan of prediking? 4. Wat is die gevare of waarskuwings rondom die vertaling (indien daar is)? Sal u antwoorde opreg waardeer.

Die rede waarom ek vra is dat ek van die mense wat dit lees en leer as baie verwarrend beskou, weens die taal en beskrywing. Dit is baie Joods gebaseer en iemand het gesê dit is ’n tipe “Hebrew root Movement”-sekte of geloof.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In my antwoord maak ek onder andere gebruik van die insiggewende akademiese artikel van prof Chris de Wet van Unisa se departement Bybelse en Antieke Studie, met die volgende titel: “ ’n ‘Oorspronklike’ Aramese Nuwe Testament? ’n Kritiese evaluasie van die Pesjitta-voorrangsteorie, Die Pad van Waarheid tot die Lewe-vertaling (Afrikaanse Lamsa-Bybel), en die kulturele aanloklikheid van oriëntalisme”, wat verskyn het in die internet-vaktydskrif, LitNet Akademies, Jaargang 13(2), 2016. Ons vraagsteller kan gerus die volledige artikel daar raadpleeg, hoewel dit nogal tegnies sal oorkom vir enigeen sonder ’n Bybelkundige agtergrond. Nietemin, die artikel bied ’n baie vollediger evaluering van die PWL-Bybel as wat ek hier kan gee. Hieronder konsentreer ek net op die kernaspekte van die PWL-Bybel.

Die PWL-Bybel (hierna PWL) is ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel deur Gerrie C Coetzee van Pretoria. Dit het oorspronklik in 2015 die lig gesien, met ’n heruitgawe in 2017. Daar is ’n webblad (www.padwlewe.ch) waar ’n mens meer oor die vertaling te wete kan kom en dit ook kan aflaai.

Dit is nie my doel om ’n volledige resensie te lewer van die PWL nie. Dan sou ’n mens opmerkings kon maak oor die volgende: Die gehalte van die vertaling; die manier waarop Bybelboeke en ander name weergegee word om die oorspronklike taal se spelling te behou; die rangskikking van veral die Ou-Testamentiese boeke om die volgorde van die Hebreeuse kanon te volg en nie soos dit in die meeste moderne Bybelvertalings voorkom nie; die verhouding tussen die PWL en die Engelse Lamsa-Bybel (kyk onder verder hieroor); ensovoorts. Ek wil slegs op een kenmerk van die PWL konsentreer, naamlik dat dit wat die Nuwe Testament (NT) betref vanuit die Aramese Nuwe Testament – die sogenaamde Peshitta – vertaal is. Volgens Coetzee is die Peshitta die oudste geskrif wat die NT bevat. Oor hierdie aanspraak kan ek onomwonde sê dat dit nie op die beste Bybelkundige navorsing berus nie, nie internasionaal nie en ook nie in Suid-Afrika nie. Laat ek verduidelik.

  • Coetzee se argument is dat die moedertaal van Jesus en sy eerste volgelinge Aramees was. Dit spreek dan vanself dat die eerste geskrifte van die NT ook in Aramees sou wees. En die bewys daarvoor, volgens Coetzee, is die bestaan van die Aramese Nuwe Testament, die Peshitta. Met ander woorde, as jy werklik die oorspronklike woorde van Jesus in die Evangelies en van die skrywers van die res van die Nuwe Testament wil hoor, dan moet jy die Peshitta lees en vertaal. Die akademiese wêreld wat die ou manuskripte oor eeue heen versamel en bestudeer het, vertel egter ’n ander, baie meer komplekse, prentjie as wat die PWL voorstel.
  • Op grond van die beskikbare manuskripte (’n manuskrip is ’n handgeskrewe dokument wat die hele NT, of ’n deel daarvan, bevat) is dit die oordeel van die akademiese gemeenskap wat hulle met die ontstaan van die NT besig hou dat die hele NT oorspronklik in Grieks geskryf is, nie in Aramees nie. Daar is byvoorbeeld nog nooit enige manuskrip (ms) ontdek van NT geskrifte in die Aramees van Jesus se tyd nie. Net Griekse manuskripte (mss) bestaan, meer as 5 500 van hulle. Die Peshitta is inderdaad ’n baie belangrike dokument as getuie vir die samestelling van die oorspronklike Griekse NT, maar nie soos die PWL dit wil hê nie. Die PWL stel dit so voor dat die Aramees wat in die Peshitta voorkom die oudste en oorspronklike taal van die NT is en dat die Griekse mss vertalings is van hierdie Aramees. Maar dis presies andersom: die Peshitta is ’n vertaling van Griekse mss. So gesien help die Peshitta ons baie om die oorspronklike Griekse teks van die NT daar te stel, want deur die Peshitta te vergelyk met die Griekse mss kan ons ’n beter oordeel vorm oor watter Griekse mss die mees oorspronklike bewoordings van die NT bevat. Maar die punt is: die NT is oorspronklik in Grieks geskryf – ál die boeke van die NT – en nie in Aramees nie. ’n Mens sou dink dat ’n afwyking van hierdie konsensus onder Bybelwetenskaplikes die PWL sou noop om ’n uitvoerige verduideliking te bied oor waarom hulle meen dat die Aramese NT die oorspronklike NT is. Maar mens soek tevergeefs daarna; daar word alleen die oortuiging gestel dat Aramees die oudste is, met die uitnodiging dat bewyse op versoek voorsien kan word. Maar dit is nie goed genoeg nie; so ’n groot afwyking van die konsensus vereis ’n uitvoerige beredenering in ’n vertaling wat ’n ander siening hierop nahou.
  • Selfs al sou ’n saak daarvoor uitgemaak kon word dat die NT oorspronklik in Aramees geskryf is, kan daar nie maar net kategories gestel word nie dat omdat Aramees Jesus se moedertaal was – wat inderdaad korrek is – die oudste geskrifte ook in Aramees moes gewees het, en dat die Peshitta die bewys daarvan is. Die situasie is veel ingewikkelder as dit. Ons moet ’n onderskeid tref tussen die Aramees in die Palestina van Jesus se tyd en die Aramees wat in die Peshitta voorkom. Eersgenoemde is deel van die Westers-Palestynse Aramees en laasgenoemde verteenwoordigend van die Oosterse Aramees wat in Sirië rondom die stad Edessa gepraat is. Hierdie Aramees word dan ook eintlik Siries genoem. En hoewel die twee dialekte van Aramees groot ooreenkomste vertoon, is hulle nie dieselfde taal nie – eerstens vanweë die dialektiese verskille en tweedens vanweë die tydsverloop tussen Jesus se tyd en die Siriese Aramees wat in die Peshitta voorkom (op sy minste ongeveer 350 jaar). Die punt is: die Aramees/Siries van die Peshitta is nie die Aramees wat Jesus en die ander Palestynse Jode gepraat het nie. Daar is geen reglynige ontwikkeling tussen die Palestynse Aramees van Jesus en die Siries wat in die Peshitta voorkom nie. Die volgende punt sal dit verder verduidelik.
  • Die Peshitta staan aan die einde van ’n lang ontwikkeling van Siriese vertalings, wat illustreer hoe daar geen kategoriese uitspraak gemaak kan word dat die Peshitta die oorspronklike NT bevat nie. Die oudste Siriese vertaling van die NT is die sogenaamde Diatessaron (beteken: “deur vier”), opgestel deur Tatianus in die tweede helfte van die 2e eeu nC. Dit staan bekend as ’n harmonie van die Evangelies. Tatianus het probeer om die vier Evangelies tot net een deurlopende Evangelie te reduseer (te “harmonieer”) sodat geen gebeure of uitspraak van Jesus herhaal word nie. Ons weet verder dat Tatianus eers ’n Diatessaron in Grieks gemaak het en dit toe in Siries vertaal het, wat weer eens wys dat die vroegste mss van die NT in Grieks was. Ná die Diatessaron is daar ’n verdere Siriese vertaling van die Griekse NT gemaak, waarskynlik in die laat 2e tot begin 3e eeu nC. Dit staan as die oud-Siriese vertaling bekend, wat in twee mss aan ons bekend is – die Curetoniaans-Siries en die Sinaïticus-Siries – en wat ook net die Evangelies bevat. Hierdie twee mss verskil in bewoording en omvang. Vanweë die “kompeterende” verhouding tussen dié twee mss het die behoefte aan slegs een standaard Siriese vertaling ontstaan. Dié het in die laat 4e, begin 5e eeu nC tot stand gekom, en is bekend as die Peshitta (letterlik: “eenvoudige weergawe”). Dit was nie ’n nuwe vertaling nie, maar ’n hersiening van die oud-Siries. Dit het net 22 van die huidige 27 NT boeke bevat (die sogenaamde betwiste boeke – 2 Petrus, 2 en 3 Johannes, Judas en Openbaring – is weggelaat). Wat ook kon bygedra het tot die ontstaan van die Peshitta was die behoefte om die Siries op een lyn te bring met latere standaard Griekse mss, laasgenoemde wat veral in Konstantinopel (later Istanbul), die sentrum van die kopiëring van Griekse mss, ontstaan het. Van die Peshitta het daar later ook hersiene uitgawes verskyn, die Filokseniese (begin 6e eeu nC) en Harklensiese (begin 7e eeu nC) edisies. Geleerdes is egter nie seker wat presies die verhouding tussen hulle is nie. Die Harklensiese Peshitta het ook die ontbrekende boeke – uit die Grieks! – vertaal, sodat vir die eerste keer hierdie boeke ook deel geword het van die Siriese kerk se kanon. Slotsom: bloot uit hierdie kort oorsig behoort dit duidelik te wees (a) dat die Peshitta ’n latere ontwikkeling in die Aramees/Siriese tradisie is, waarvan die oorsprong in die Griekse mss lê, en nie andersom nie, (b) dat die Siries vervat in die Peshitta nie direk herleibaar is na die Aramees van Jesus se tyd nie, en (c) dat vanweë die invloed van die Griekse mss die Peshitta ’n uitbreiding ondergaan het van 22 na 27 boeke.
  • Interessant is verder die inligting in die PWL dat hierdie vertaling naas die Gwilliams-Pinkerton 1920 kritiese uitgawe van die Peshitta ook gebruik gemaak het van die Khabouris-kodeks. (“Kodeks” beteken “boek”, en dit beteken maar net dat hierdie ms in boekvorm was, soos wat die meeste mss sedert die 2e eeu nC was. Voor die uitvinding van die boekdrukkuns in die 15e eeu kan “manuskrip” en “kodeks” dus as sinonieme gebruik word.) Die Khabouris is dus ’n manuskrip wat die Peshitta bevat. Hierdie kodeks het met sy ontdekking in 1966 groot aandag getrek in die VSA, omdat dit so voorgestel is dat die Khabouris-kodeks die oudste NT ms tot op datum was, ouer as enige Griekse ms. Die kodeks self dateer uit die 11e of 12e eeu nC, maar daar is glo ’n aantekening in die ms wat daarop dui dat dit van ’n tweede eeuse ms (164 nC) gekopieer is. Uiteraard versterk dit die aansprake van hulle wat meen dat die oorspronklike NT in Aramees geskryf is en nie in Grieks nie. Die probleem is egter dat hierdie inskrywing ten spyte van etlike ondersoeke nog nie deur streng akademiese ondersoeke bevestig kon word nie. Oor die egtheid van die inskrywing is daar dus geen sekerheid nie. Maar selfs al sou dit eg blyk te wees, bewys die Khabouris-kodeks nog steeds nie dat dit die Aramees bevat wat Jesus gepraat het nie. Hierbo is reeds gewys op die verskil tussen die Siries van die Peshitta en die Aramees wat Jesus gepraat het. Die Khabouris-kodeks, selfs al sou dit kom uit die 2e eeu nC, is dus hoogstens ’n voorbeeld van die Oos-Siries wat in Sirië gebesig is, min of meer in dieselfde tyd as wat die Diatessaron ontstaan het, en nie van die Palestynse Wes-Aramees wat Jesus meer as ’n eeu vroeër in Palestina gepraat het nie. Die Khabouris-kodeks, hoewel op sigself ’n interessante dokument as getuie van die Peshitta, is dus hoegenaamd geen bewys dat die NT oorspronklik in Aramees geskryf is nie. Die verdere lotgevalle van die Khabouris-kodeks is ook duister. Blykbaar is dit tans in private familiebesit. Die vraag is egter: indien hierdie ms so belangrik vir die ontstaan van die NT is, waarom het dit van die toneel van akademiese teksondersoek verdwyn? Dit bly dus ’n hoogs problematiese teks, en geen Bybelwetenskaplike van reputasie sal hierdie ms vandag gebruik as getuie in die samestelling van die oorspronklike Nuwe Testament nie.
  • Daar moet ook op die verwantskap tussen die sogenaamde Lamsa-Bybel en die PWL gewys word. In 1933 publiseer George M Lamsa sy The Holy Bible from Ancient Eastern Manuscripts. Lamsa is eweneens van mening dat die oorspronklike NT in Aramees verskyn het, nie in Grieks nie. Dit blyk egter dat ook hy die Peshitta as sy hoofbron vir die Lamsa-Bybel gebruik het, net soos die PWL. Die afkeer aan Grieks as die oerbron van die NT straal uit al Lamsa se geskrifte, net soos ons dit in die PWL aantref. ’n Mens kan dus konstateer dat die PWL uit dieselfde denkklimaat as die Lamsa-Bybel kom en waarskynlik deur laasgenoemde geïnspireer is, ’n denkklimaat wat Aramees as die moederbodem van die NT Bybelteks voorhou en bewustelik poog om Grieks as oorspronklike taal van die NT te minimaliseer en uit te rangeer. Nou, natuurlik is dit so dat die wêreld waarin Jesus, sy dissipels en die eerste kerk in Jerusalem gelewe het, ’n sterk Aramese en Hebreeus-Ou-Testamentiese onderbou gehad het. Niemand stry daaroor nie. Trouens, die afgelope 50 jaar was daar juis ’n doelbewuste poging onder Bybelkundiges om hierdie Joodse agtergrond van die Bybel te ontgin vir die verstaan en uitleg van die NT. Maar die feit van die saak is dat Grieks die kulturele taal van die destydse Mediterreense wêreld was, en dat volgens die beste getuienis tot ons beskikking die NT oorspronklik juis in Grieks geskryf is sodat dit die grootste impak op die destydse wêreld sou hê. Die meeste mense sou so direkte toegang tot die evangelieboodskap gehad het, selfs al was baie van hulle se moedertale nie Grieks nie. Dis maar baie soos Engels vandag. As jy met die “wêreld daar buite” wil kommunikeer, moet jy dit in Engels doen, of jy nou daarvan hou of nie. So was dit destyds ook met Grieks. Ja, die hartstaal van die eerste Christene in Palestina was Aramees, maar die groot kummunikasietaal was Grieks. Kyk byvoorbeeld die toneel wat deur Handelinge 21:40-22:2 geskets word. Paulus praat met sy Joodse volksgenote in Jerusalem. Hulle verwag eintlik dat hy Grieks sou praat, maar om hulle harte te probeer wen, gaan hy voort in “Hebreeus” (= Aramees). En toe kry hy hulle aandag. Daarom, die poging wat die Lamsa-Bybel en PWL aanwend om die Bybel vanuit die Aramese agtergrond te laat kommunikeer, is nie as sodanig af te wys nie. Maar dit hoef nie op ’n kwasi-wetenskaplike manier gedoen te word deur die Bybel – spesifiek die NT – vanuit ’n vermeende Aramese oermanuskrip te vertaal nie. Hulle sal beter doen deur eerder te aanvaar, soos die konsensus onder Bybelwetenskaplikes vandag is, dat die oorspronklik taal waarin die NT geskryf is, Grieks was. En dan kan jy in jou verstaan, uitleg van en kommentaar op die NT telkens op die Aramees-Joodse agtergronde wys, soos al die Bybelkommentare dit trouens vandag doen.

Ten slotte, om in die lig van bostaande uiteensetting op ons vraagsteller se spesifieke vrae te antwoord: Nee, die PWL is nie ’n betroubare manier om mense oor die oorspronklike taal van die NT in te lig nie; die PWL word nêrens in die teologiese wêreld as betroubaar aanvaar of gebruik as basis van die uitleg van die NT nie; en die gevare in die gebruik van die PWL is dat lesers mislei kan word oor hoe die NT ontstaan het. Hiermee spreek ek natuurlik geen oordeel uit oor die werk en lewe van enigeen wat by die vervaardiging van die PWL betrokke is of was nie. My oordeel is gewoon gegrond op my insigte as iemand wat ’n leeftyd van onderrig in die NT in die universiteitsomgewing agter die rug het, insigte wat ek deel met ander Bybelwetenskaplikes wat hulle op ’n streng akademiese manier met die ontstaan van die NT besig hou. Natuurlik, daar kan altyd nuwe ontdekkings gemaak word wat die hele appelkarretjie omkeer. Maar die teks- en manuskripgetuienis, versamel en bestudeer oor baie eeue, is oorweldigend ten gunste van die konsensusmening vandag dat die NT oorspronklik in Grieks geskryf is, nie in Aramees nie. En totdat die teendeel bewys word, bly ek by hierdie konsensussiening.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl