Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Ek luister uit die hemel uit

“We are not cisterns made for hoarding, we are channels made for sharing.” – Billy Graham

Bybelverse wat verkeerd gebruik word:  Ek luister uit die hemel uit

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

 En my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel uit en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel (2 Kronieke 7:14)

As ons die Skrif reg wil interpreteer, moet ons nie net die literêre konteks nie, maar ook die historiese konteks oorweeg. Baie van wat in die Bybel beskryf word, het in antieke bevolkings gebeur. Intussen het taal, leefstyl, regeringstelsels en kultuurwaardes van tyd tot tyd verander.

Die stories in die Bybel het met werklike mense wat eeue gelede in kulture wat drasties van ons s’n verskil geleef het, te doen. Hierdie vers word dikwels gebruik in gebedsbyeenkomste, want dit bevat ‘n dramatiese belofte. Daar is groot geestelike waarhede in hierdie teks – die nodigheid van nederigheid, gebed, berou, vra God se wil. Die vers beloof dat  God luister, vergewe en  genees.

Salomo was die koning en hy  bou ‘n ongelooflike tempel vir God. By die inwyding van die tempel bid hy. Toe hy klaar gebid het, kom daar vuur uit die hemel en verteer die offers – en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul. Israeliete kniel – oorweldig deur die gebeure – en aanbid God met sang, offers en feeste wat nog ‘n week duur. Hulle keer met vreugde in hulle harte na hulle huise terug. Jare gaan verby en nou  verskyn die Here privaat aan Salomo. Wat volg is God se reaksie op die openbare gebed van Salomo by die inwyding van die tempel jare vantevore. Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word. As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel  (7:12 – 14).

Hierdie reaksie is spesifiek aan Salomo gegee – die koning wat God se mense verteenwoordig en lei. Die plek waarna die Here verwys is die tempel. Hierdie belofte is aan hierdie koning en hierdie mense op hierdie tyd op hierdie plek gegee. Dit is nie ‘n algemene belofte nie. God se Naam is oor geen ander nasie uitgeroep nie; geen volk het ‘n tempel waar die lewende God bly nie.

God aanvaar sy volk gaan sonde doen en Hy gaan hulle straf – droogte, hongersnood, sprinkane peste. Hierdie oordeel sal van korte duur wees as God se mense berou het, bid en omdraai. God doen dan ‘n verbasende ding – nie alleen vergewe Hy hulle sonde nie, maar laat die land herstel.

Ons ruk dikwels hierdie teks uit konteks. Hierdie is ‘n bindende belofte vir ander mense van ‘n ander tyd en ander plek. Die herstel waarna hier verwys word, is die herstel van die fisiese land.

Volgende keer kyk ons na Kolossense 1:15.




Bybelverse wat verkeerd gebruik word: God laat alles ten goede meewerk.

“Suffering is part of the human condition, and it comes to us all. The key is how we react to it, either turning away from God in anger and bitterness or growing closer to Him in trust and confidence.” – Billy Graham

 Bybelverse wat verkeerd gebruik word: God laat alles ten goede meewerk.

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28)

As ek sê God is goed, wat sê ek? God se hart is waar, sy liefde suiwer – ons sien dit in die goedheid en genade wat Hy in oorvloed gee: U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae (Psalm 23:6)

Hierdie idee van God is goed, word in moeilike tye getoets – dan dink ons aan ons teks. Alles werk mee ten goede. Wat beteken dit? Beteken dit dat maak nie saak wat gebeur in die lewe nie alles tog reg sal uitwerk? Ongeneeslike kanker? Werk verloor? Is hierdie vers nou ‘n belofte wat nie nagekom word nie of is dit ‘n leuen? Of verstaan ons nie wat Paulus hier sê nie? Kom ons kyk na die konteks.

Paulus praat hier met gelowiges wat op Jesus Christus vir hulle verlossing vertrou het en die gawe van die inwonende Heilige Gees ontvang het. Ons het pas gelees dat God ons as sy kinders sal aanneem (8:23) en dat ons hoop het wat ons swaarkry in perspektief plaas. Paulus sê dat die lyding wat ons in hierdie lewe ondervind niks in vergelyking met die toekomstige heerlikheid wat op gelowiges wag, is nie. Ons en die skepping sug in die pyne van verwagting. Ons verlang na die tyd van Jesus Christus  se terugkeer. Tot daardie dag vertrou ons op die Heilige Gees – Die Gees staan ons ook in ons swakheid by (8:26). Die Heilige Gees pleit volgens die wil van God vir die gelowiges.

Al weet ons nie altyd hoe om ons alledaagse swaarkry te interpreteer nie – selfs nie eers weet  hoe om vir hierdie dinge te bid nie. As gevolg van ons menslike beperkings weet ons wel: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28)

Daar is baie wat ons nie weet nie, maar daar is een groot ding wat ons wel weet: alle dinge werk mee ten goede. Vir wie? Paulus is baie spesifiek – vir gelowiges. Nie almal kan aanspraak maak op hierdie belofte nie. Wat beteken dit om te sê dat alle dinge ten goede meewerk? Is goed nou gesondheid, finansiële sekuriteit, persoonlike geluk. Maar die lewe, selfs vir gelowiges, is soms vol tragedies. Wat is die goed waarvan Paulus hier praat? Ons kry die antwoord in vers 29: Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is. Die goed beteken ons word meer en  meer soos Jesus Christus. Ons definisie van goed moet verander  na gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. Alle dinge wat in ‘n Christen se lewe gebeur, is vir hierdie doel ontwerp – verheerlik God, bevorder sy koninkryk, maak ons heiliger deur ons met liefde te vul, bring nederigheid, ontwikkel geduld ….  God gebruik ons omstandighede om ons geestelik te laat groei om meer soos Hy te word.

Slegte dinge gebeur, maar God gebruik dit ten goede – so gaan Jesus Christus kruis toe ten goede van mense. Onthou: God is agter die skerms aan die werk. God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Filippense 1:6)

Volgende keer gaan ons na 2 Kronieke 7:14 kyk.




Bybelverse wat verkeerd gebruik word: God doen alles wat ons vra

“I have failed many times, and I would do many things differently. For one thing, I would speak less and study more, and I would spend more time with my family.” – Billy Graham

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: God doen alles wat ons vra

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

 Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen (Johannes 14:13 – 14).

Waar het jy geleer om te bid? Ouers/skool/oupa/ouma/glad nie Almal moet iewers begin. Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het (Lukas 1:1)

Hulle was gretig om te leer. Jesus leer sy volgelinge een ding spesifiek – vra die Vader in my Naam. Wat beteken dit? Gebruik Jesus Chistus se Naam en gee ekstra krag aan gebed? Geheime formule wat dien as waarborg? As ons nie hierdie woorde gebruik nie is ons gebed onwettig?

Bid in sy Naam word in ‘n aantal kontekste gebruik. En wie so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My (Matt 18:5); Want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle (Matt 18:20); Want daar is niemand wat ‘n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal praat nie (Mark9:39); en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees stuur, sal Hy julle alles leer (Johannes 14:26). As Jesus Christus van in my Naam praat, dink Hy aan meer as gebed. Dit beteken ons doen dinge op ‘n manier wat met wie Jesus Christus is ooreenstem – ook met wat Hy geleer het en waarvoor Hy staan. Dit beteken om dinge te doen volgens God se wil en vir sy heerlikheid.

Ons moet by vers 12 begin: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Daarna volg verse13 – 14. Jesus praat met sy dissipels by hulle laaste maaltyd saam. Hier maak Hy hierdie stellings. Hy begin: diegene wat in Hom glo sal al die werke wat Hy doen ook doen – selfs groter dinge. Wat beteken dit? Met sy terugkeer na die Vader toe sal hulle die gawe van die Heilige Gees ontvang – dit hou groot implikasies vir hulle bediening in. Want die Heilige Gees sal hulle bediening bemagtig. In hierdie nuwe tyd van bediening belowe Jesus Christus hulp (verse 13 – 14). Hulle kragtige bediening sal deur gebed versterk word. Die sleutel: vra in sy Naam wat beteken  bid op ‘n manier wat ooreenstem met wie God is, wat Hy geleer het en waarvoor Hy staan – sy koninkryksdoelwitte. Bid in ooreenstemming met God se wil sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As hulle in sy Naam bid en met daardie motiewe in gedagte, sal hulle weet hulle gebede sal beantwoord word.

Ons gebede verander nou van ‘n selfsugtige fokus na ‘n God gesentreerd fokus wat God verheerlik. Dit is belofte van 1 Johannes 5:14 – 15 :En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En omdat ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra. Probleem: ons bid op manier wat ons dink reg is en volgens resultate wat ons verlang. Ons bid vir ons omstandighede om te verander. Gebed moet vertroue in en afhanklikheid van God wys – ons moet nederig sy soewereine plan vir ons lewens aanvaar.

 Natuurlik kan ons vra wat ons begeer wetende dat as sy antwoord nee of nog nie is dat Hy voldoende krag sal gee om hierdie uitdaging te hanteer. Om in sy Naam te bid is nie bloot meganies om te verseker dat Hy ons versoeke gaan toestaan nie – ons forseer nie God se hand nie.

Volgende keer gaan ons na Romeine 8:28 kyk




Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Waar twee of drie in my Naam saam is

“The thing we need to know more than anything else is that we are forgiven. That’s what Christ can do.”- Billy Graham

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Waar twee of drie in my Naam saam is

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle (Matteus 18:20)

Waar is God? Hoekom kan ek Hom nie sien nie? Vrae wat kinders dikwels vra. Die Bybel sê Hy is oral teenwoordig. Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas (Psalm 139:7 – 10).

Die psalmis glo dat God oral is – jy kan nie sy teenwoordigheid ontsnap nie.

Die mees dramatiese wyse waarop God sy teenwoordigheid geopenbaar het, is deur Jesus Christus  – deur Hom  betree God die menslike geskiedenis. Hy word mens om diegene wat in Hom glo te verlos. Die Heilige Gees woon ook in die harte van gelowiges wat op Jesus Christus vir hulle verlossing vertrou. Ons ondervind God so op ‘n persoonlike wyse.

Jesus praat hier oor kerkdissipline. Hy leer die dissipels, en almal wat Hom volg, hoe om situasies van interpersoonlike sonde en konflik te hanteer. Hierdie deel volg onmiddellik na die gelykenis oor die verlore skaap (herstel van iemand wat afgedwaal het) en net voor die gelykenis van die ondankbare dienaar (onwillig om uitstaande skuld te kanselleer en te vergewe). Die temas wat in hierdie gedeelte bespreek word, is vergifnis, herstel en versoening met ‘n broer en suster wat teen jou gesondig het of afgedwaal het. Jesus noem ‘n hele aantal praktiese stappe om gebroke verhoudings te herstel. Die eerste stap is privaat – wys hom tereg waar julle alleen is. Moenie interpersoonlike sonde en konflik ignoreer nie. Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp (Galasiërs 6:1) – ons kan nie sonde net ignoreer nie. Die doel van hierdie eerste gesprek is vergifnis en die herstel van die verhouding. Daarom word dit in liefde en nederigheid gedoen. Soms kan dinge nie op hierdie vlak opgeklaar word nie en dan moet twee of drie ander saamgeneem word. As dit nie werk nie, word dit vir die gemeente gesê. Sonde wat nie bely word nie, is ernstige saak. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie (1 Korintiërs 5:6). Dit gaan oor versoening en nie straf nie. Hierdie is die ideaal maar dit werk nie altyd nie. Werk dit nie is die opdrag dat ons die oortreder as heiden en ‘n tollenaar moet behandel. Dit gaan oor ‘n man wat sy hart verhard en weier om sy sonde te erken en daarvan weg te draai.

Nadat Jesus die kerk se gesag bevestig het, beloof Hy sy teenwoordigheid op unieke wyse in verse 19 – 20: Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle. Waar die kerk betrokke is by die versoeningsproses met iemand wat nie sy sondes bely het nie, weet die kerk dat God se seën op hulle pogings rus. As die kerk besluite neem oor wat reg en wat verkeerd is gebaseer op die waarheid van God se woord, moet hulle vertroue hê dat hulle die regte ding doen en dat Christus daar by hulle is. Hy is immers die God van versoening. Waar twee of drie bymekaar is gaan oor God se teenwoordigheid in dissiplinêre sake.

Natuurlik is God teenwoordig waar twee of drie teenwoordig is – ook as ek alleen is of 1000 teenwoordig is. Om sake van sonde te hanteer, is ‘n uitdaging. As jy getrou aan God is in die hantering van sulke mense kan jy seker wees van God se unieke teenwoordigheid om ons pogings te seën. Ons is God se agente vir versoening en vergifnis.