Vraag: Lesbenisme – Johann Voges

‘n Leser vra

Goeie more, ek lees tans die Bybel in praktyk.

Ek lees in Genesis 46:18 Dit is die seuns wat Sipla vir Jakob in die wereld gebring het. Laban het haar vir vir sy dogter Lea gegee. Ook in vers 25 lees ek …….Laban het haar vir sy dogter Ragel gegee. Die ander vertalings is egter heeltemal anders. Ek verstaan nie hoekom hulle melding maak dat n vroulike persoon aan n ander vroulike persoon gegee word nie.
Kan dit asseblief vir my verduidelik eerstens hoekom die vertalings so verskil en tweedens wat hier gese word.
Omdat ek in n huis bly waar lesbenisme aan die orde van die dag is val die tipe goed my op. Dankie

Antwoord

Dr Johann Voges antwoord,

Die gedeeltes waarna jy verwys het niks te doen met enige ‘seksuele oreientering van wie ookal nie … in beide teksverse (18 en 25) word vertel van hoedat Laban vir elkeen van sy dogters ‘n slavin gegee het en hoe beide Lea en Ragel hierdie slavinne vir Jakob, hulle man gee om kinders by hulle te verwek.

Ek stem saam met jou dat Bybelvertalings hiervan nogal misleidend kan wees …

In die Nuwe Lewende Vertaling van die Bybel in 2020 is hierdie twee teksverse egter korrek vertaal soos wat dit in die Hebreeuse teks voorkom …

Die seuns van Beria was Geber en Malkiël.

18Dit is die sestien afstammelinge wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Silpa vir sy dogter Lea as slavin gegee.

 

25Dit is die sewe seuns en kleinseuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel as slavin gegee.

 

Die Engelse Message vertaling (MSG) van 1993 het dit ook korrek vertaal…

18 These are the children that Zilpah, the maid that Laban gave to his daughter Leah, bore to Jacob—sixteen of them.

25 These are the children born to Jacob through Bilhah, the maid Laban had given to his daughter Rachel—seven.

 

As jy wil kan jy ook hierdie twee artikels lees wat so ‘n iets meer sê oor die twee teksverse in Genesis 46

  1. https://www.videobible.com/meaning/genesis-46-18

2.     https://www.videobible.com/meaning/genesis-46-25

Skrywer: Dr Johann Voges

 




Tydlyn van die Bybel – Jan van der Watt

JG VRA:

Ek is op soek na ‘n Afrikaanse tydlyn van die Bybel. My kinders het ‘n behoefte om te tydsverloop visueel te verstaan ter ondersteuning van die jong-aarde argument. Natuurlik kan baie gebeurtenisse nie akkuraat tot op die dag bepaal word nie, dis nie waarna ek soek nie. Ek is eerder op soek na iets wat die korrekte volgorde van gebeure aandui, met ‘n geskatte tydstip daarby. Skrifverwysings saam met die gebeure sal wonderlik wees! Bestaan so iets?

 Antwoord

 Prof Jan van der Watt antwoord:

In die Bybel A-Z is daar aan die begin van elke boek wat bespreek word ‘n tydlyn wat by die boek pas. Dit help om die geskiedenis met die betrokke boek te verbind. Ek is nie seker of die tydlyne presies is wat gesoek word nie. Verder weet ek nie van iets wat kan help nie. Ek wil net waarsku teen tydlyne wat op die internet geplaas word. Dit is dikwels nie korrek nie, is spekulasie en wil ‘n betrokke standpunt ondersteun. Gebruik die gegewens maar versigtig. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Bybel – Jan van der Watt

Jan vra:

Waarom word, Here op party plekke geskryf, en HERE op ander plekke?

Antwoord

Prof Jan van der Wat antwoord:

Di hoofletters HERE word net in die Ou Afrikaanse vertaling van 1933/53 gebruik en feitlik ook net in die Ou Testament (en nie eers oral in die Ou Testament nie). Die resente Afrikaanse vertalings gebruik Here. Die rede daarvoor hang saam met die naam van God  in die Ou Testament. Die mense van die Ou Testament wou uit respek en vrees dat hulle God (Jahweh) se naam ydelik mag gerbuik nie die naam van God (Jahweh) uitspreek of hardop gese nie. As hulle by die naam kom, het hulle ‘adonai’ gese, wat heer beteken (hulle het ook die klinkers van die woord ‘adonai’ by die letters JHWH gesit wat daartoe gelei het dat sommige vandag nog van Jehova praat). In die Ou 1933/53 vertaling wou die vertalers probeer aandui dat die woord JHWH wat met HEER vertaal die naam Jahweh weergee en onder andere daarom die hoofletters gebruik. Dit is dus ‘n besluit van die vertalers. In die jonger vertalings is besluit om die eervolle aanduiding (in hoofletters) nie meer te gebruik nie, maar eenvoudig Heer met ‘n hoofletter te skryf.. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Geen jota of Tittel nie – Francois Malan

Vraag

Staan daar in die Bybel? ” Geen jota of tittel sal bygevoeg word….sonder dat die Woord sal vergaan nie…..?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesus se bergrede (Matteus 5:17-18) sê Hy: 17 ‘Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. 18 Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is.’ Die jota is die kleinste letter van die Hebreeuse afabet en die tittel die kleinste vokaalteken. So staan dit in die oorspronklike Grieks (een iõta en een keraía), in die 1933 en 1953 en 2020 vertalings van die Afrikaanse Bybel, maar die 1983-vertaling het die betekenis daarvan gegee, nl. as ‘een letter of letterstrepie van die wet.’

Skrywer: Prof Francois Malan