Hoofletters wanneer na Jesus verwys word,of nie?

Hoofletters wanneer na Jesus verwys word,of nie? – Herman Grobler

Wanneer ‘n Bybelvertaler besig is om die Bybel te vertaal, word hy telkens gekonfronteer met vrae wat op die oog af maklik vanuit ons gevoel beantwoord kan word. Maar wanneer ons ‘n bietjie dieper dink is dit nie so eenvoudig nie. Wanneer moet hy hoofletters gebruik, en wanneer nie?

Om hierdie vraag te antwoord moet ons die beginsel daaragter verstaan. Ek verduidelik dit met ‘n kontemporêre voorbeeld:

‘n Joernalis voer ‘n gesprek met iemand wat hy nie ken nie. Hier is wat gebeur het:

Eers ‘n ent in die gesprek in, besef die joernalis dat hy met ‘n predikant praat. “Ekskuus, dominee, ek het nie besef u is ‘n dominee nie, en ek het u sommer ‘gejy’ en ‘gejou’! Vergewe my asseblief.”

As ‘n verslaggewer nou ‘n berig oor hierdie gesprek moes voorberei, moet hy skryf: “Die joernalis vra die dominee toe: ‘meneer, waar het jy toe jou opleiding ontvang?’” Of moet die verslaggewer skryf: “Die joernalis vra die dominee toe: ‘Dominee, waar het u toe u opleiding ontvang?’”

Moet die verslaggewer die woorde van die joernalis aan die dominee by latere kennis terugskouend aanpas, of by die direkte werklike woorde bly wat gebruik was? Dit is die kern van ‘n belangrike probleem by die verstaan en vertaal van die Bybel.

Moet die vertaler die direkte woorde wat iemand sou gebruik het, aanpas omdat ons vandag besef met wie of van wie gepraat is?

Kyk na die vrou by die put. Aan die begin kon sy nie besef het wie Jesus was nie. Daarom sou sy Hom “gemeneer”, en “gejy” en “gejou” het. Maar terugskouend weet òns Wie dit is met Wie sy gepraat het! Moet ons haar woorde aanpas, of by die woorde bly wat sy werklik sou gebruik het?

Die Griekse woord “Kuriè” word gebruik as die gewone aanspreekvorm “meneer”, maar ook as “Here”. Destyds was daar ook geen hoofletters èn kleinletters om onderskeid tussen die twee te kon maak nie. Hoe sou die vrou by die put vir Jesus aangespreek het? Elke keer beleefd as “meneer”, of sou sy Hom erken het as “Here”? (Joh.4:11,15,19) Òns weet vandag dat die man met wie sy gepraat het, Jesus die Here was, maar sy kon dit tog nie geweet het nie! Wanneer ons nou hierdie verhaal vertaal, het ons ‘n probleem. Moet ons aanvaar dat die vrou geweet het dat Jesus “Here” is, soos in die 1933/53 – Ou Afrikaanse Vertaling gedoen is? “Die vrou sê vir Hom: ‘Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?’ ” Of moet ons eerder aanvaar dat sy hierdie, vir haar onbekende persoon, beleefd as “meneer” sou aanspreek? Die 1983 – Nuwe Afrikaanse Vertaling kies die tweede moontlikheid. “Die vrou sê toe vir Hom: ‘Meneer, jy het nie eens ‘n skepding nie en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry?’

Hoe sou jy dit vertaal het?

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Verskille in die Bybel

Verskille in die Bybel – Herman Grobler

 “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?

Daar is sekere waarhede wat ons letterlik na elke vers in die Bybel kan invoeg, soos “want sy goedertierenheid is tot in ewigheid” wat na elkeen van die 26 stellings van Ps. 136 aangetref word. Die oproep “…om die waarheid gehoorsaam te wees…” is ook so ‘n stelling. Dit kan na feitlik elke stelling in die Bybel ingevoeg word en nie as “verkeerd” of “vals” bestempel word nie. Maar is dit nodig om so ‘n stelling by meer plekke in te voeg as wat God dit laat neerskryf het?

Daar is ook verse wat op die oog af lyk of die tweede deel daarvan nie neergeskryf is nie, of dat dit dalk per ongeluk weggeval het. Vind mens dan ‘n paar verse verder ‘n stelling wat in sekere opsigte met hierdie “halwe stelling” ooreenstem, kan dit maklik gebeur dat iemand kon besluit om die “halwe stelling” aan te vul en so te “korregeer”. Is dit wat moontlik in die eerste vers van Galasiërs drie gebeur het?

Die sinsnede in donker kom nie in moderne vertalings voor nie:

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: “O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang!

Hierdie variasie is nie deur moderne vertalers van die Bybel geskep nie. Dit bestaan reeds eeue lank. Maar elke Bybelvertaler moet met erns probeer vasstel wat God oorspronklik deur Paulus laat neerskryf het. Kom ons ondersoek hierdie verskil tussen ouer en moderne vertalings en probeer verklaar hoe hierdie verskil kon ontstaan het. Dan het ons grond onder ons voete wanneer ons kies watter weergawe ons aanvaar.

Met nugtere denke gebruik ons die volgende drie objektiewe kriteria.

1. Eksterne getuienis:

Eerste kyk ons na die manuskripte self.

Die weergawe wat met die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling ooreenstem, kom voor in drie unsiale manuskripte:  Ephraeni Rescriptus (±450 n.C.), Athous Lavrensis (±890 n.C.) en Kodeks 0278 (±950 n.C.). Dit kom ook voor in die meeste Griekse minuskels wat almal later as ±900 n.C. ontstaan het.

Die Latynse 1592-Vulgaat wat tot vandag toe die amptelike Rooms Katolieke Teks is, het ook hierdie weergawe. Een Siriese vertaling (616 n.C.) en sekere manuskripte van Hieronymus (†420 n.C.) het ook hierdie weergawe.

Die weergawe wat ons in die 1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling aantref, stem weer ooreen met die unsiale manuskripte: Sinaïticus (±350 n.C.), Alexandrinus (±350 n.C.), Vaticanus (±350 n.C.), Claromontanus (±550 n.C.),  Augiensis (±850 n.C.) en Boernerianus (±850 n.C.). Dit stem ook ooreen met die minuskels (later as ±900 n.C.) bekend as: 33, 81, 630, 1739 en nog ‘n paar ander.

Wat antieke vertalings betref, stem hierdie weergawe ooreen met die grootste deel van die Latynse oorlewering en die ouer Vulgaatmanuskripte. So ook die Siriese Peshitta, (±350-650 n.C) die Koptiese teks (±350 n.C.) en die res van Hieronymus se manuskripte. Hy was vir die Latynse Vulgaat verantwoordelik.

Voor die jaar 800 n.C. het ons dus net een Griekse manuskrip met hierdie sinsnede in, terwyl vier daar sonder is. Die weergawe sonder die sinsnede word ook sterk deur die antieke vertalings ondersteun.

As mens suiwer na die manuskrip getuienis kyk, lyk dit of die weergawe sonder hierdie sinsnede in Gal 3:1, op baie sterker manuskrip – getuies staan.

2. Interne gegewens.

Ons tweede kriterium is om te kyk of daar iewers in die brief aan die Galasiërs self, ‘n moontlike aanleiding kon wees waarom ‘n kopieerder hierdie woorde sou weglaat uit vers een, of dit inderdaad daar sou ingevoeg het. Soos tot vandag toe het woorde wat “verlore raak” mense deur die eeue ontstel. Alleen op grond van uiters sterk gronde sou ‘n kopieerder dit waag om ‘n sinsnede uit die Skrif weg te laat. Maar woorde wat ingevoeg is, word geredelik maklik aanvaar, veral as dit ‘n algemene waarheid bevat. In Galasiërs vyf vers sewe vind ons ‘n sin wat sekere ooreenstemmings met die stelling van hoofstuk drie toon. “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” Hierdie sinsnede pas ideaal as tweede deel van Galasiërs drie vers een: “Wie het julle verstand benewel…” Dat iemand hierdie twee verse met mekaar wou laat harmonieer, deur die sinsnede in hoofstuk drie in te voeg is ‘n moontlikheid. Dis egter ondenkbaar dat iemand ‘n bestaande harmoniëring sou wou verbreek deur die sinsnede uit hoofstuk drie te verwyder!

Die oorspronklike weergawe sou dus eerder die een sonder die sinsnede in hoofstuk drie wees.

3. Intrinsieke gegewens.

Die derde kriterium wat ons gebruik is om na die konteks te kyk.

Aan die begin van Galasiërs drie hanteer Paulus die vraag of die Galasiërs die Heilige Gees ontvang het deur die wet te gehoorsaam, of deur Jesus te glo wat so duidelik aan hulle verkondig is dat hulle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang. Hy vra die Galasiërs wie dan hulle verstand benewel of betower het. Hulle was seker van die waarheid maar nou is hulle in die war! Hierdie sinsnede pas pragtig binne hierdie konteks.

In hoofstuk vyf verse een tot ses stel Paulus ook die ou bedeling van die wet en besnydenis teenoor die nuwe bedeling van vryheid en juis nie besnydenis nie. Hy maan die Galasiërs baie sterk daarteen dat hulle nie vanuit “geloof en liefde” hulle weer onder die “juk van diensbaarheid” te laat bring nie. Dan volg vers sewe: “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” Hier pas die oproep om die waarheid gehoorsaam te wees inderdaad omdat hier ook ‘n direkte teenstelling ter sprake is.

In albei hierdie dele pas hierdie stelling soos ‘n handskoen. Die intrinsieke gegewens help ons dus nie om ‘n keuse te maak nie.

Gevolgtrekking:

In beide hoofstukke drie en vyf pas hierdie sinsnede so goed soos Ps. 136 se refrein. Maar tog is daar die twee variasies. Albei kan tog nie waar wees nie. Een is ‘n verandering van wat God oorspronklik laat neerskryf het.  ‘n Keuse moet gemaak word.

Die meeste ou Griekse manuskripte asook die meeste antieke vertalings het nie hierdie sinsnede in hoofstuk drie nie. Dis ook ondenkbaar dat enige kopieerder hierdie sinsnede doelbewus daar uit sou verwyder. Dis ook baie aanvaarbaar dat iemand doelbewus hierdie sinsnede vanuit hoofstuk vyf hier kon inplaas.

Volgens hierdie feite, wat is u mening? Watter weergawe sou ooreenstem met wat God oorspronklik laat neerskryf het?

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Latere variasies in die Manuskripte.

Latere variasies in die Manuskripte. – Herman Grobler

In alle handgeskrewe kopieë kom daar variasies voor. Wanneer ons iets afskryf, maak ons toevallige foute. Toevallige variasies as gevolg van verkeerd sien, of verkeerd hoor in ‘n skriptorium, of iets wat herhaal of gewysig word vanuit die geheue van die kopieerder kom ook in die Nuwe Testamentiese manuskripte voor. Maar daar is ook doelbewuste veranderinge om as bevestiging te dien vir ‘n bepaalde kerklike gebruik of siening.

 

Soos wat baie van ons ook doen, het mense soms nota’s in die kantlyn van hul manuskripte geskryf. Wanneer ‘n kopieerder op ‘n latere stadium ‘n kopie van hierdie manuskrip maak, moes hy besluit of hierdie maar net ‘n toevallige nota is, of iets is wat per abuis uitgelaat was. Eerder as om iets verlore te laat gaan, is so ‘n nota dan op die gepaste plek in die teks geplaas. So ‘n invoeging noem ons ‘n glos.

 

Ons kyk na ‘n voorbeeld van ‘n glos.

Toe Desiderius Erasmus in 1516 die eerste Griekse teks van die Nuwe Testament laat druk het, het ‘n paar mense hom gekritiseer dat sy teks nie ooreenstem met die Latynse Vulgaat nie. Die woorde in donker gedruk ontbreek in 1 Johannes 5:7-8: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.” Erasmus kon nêrens ‘n Griekse manuskrip vind met die woorde in nie, maar het belowe om dit by te voeg sodra een gevind word. Vyf jaar later word ‘n splinternuwe manuskrip waarvan die ink seker nog nie droog was nie, aan hom oorhandig met hierdie woorde ingeskryf. Erasmus het woord gehou en sluit dit in sy derde uitgawe van 1622 in. Noudat ons feitlik alle manuskripte wat oor die wêreld versprei is, kan bestudeer, is gevind dat slegs een ander Griekse manuskrip, Nr.629 uit ongeveer 1350 n.C. wel hierdie uitbreiding oorspronklik in het. Maar dit is opmerklik dat dit ook nie voorkom in enige van die agt ou tale waarin die Nuwe Testament vertaal is nie. Dit kom net in Latynse manuskripte voor, die oudste ± 650 n.C. en dan verskeie eers ná 1100 n.C. Dit kom ook voor in ‘n laat uitgawe van die Vulgaat.

Die groot stryd om die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees te verstaan en te beskrywe, openbaar ‘n verdere interessante feit. Athanasius, (†373 n.C.) ‘n ortodokse teoloog wat aan die voorpunt was van die stryd teen die Arianisme wat Jesus se Godheid ontken het, het nie hierdie uitbreiding geken nie. Hy sou sekerlik daarvan gebruik gemaak het! Selfs Basilius die Grote, (†379 n.C.) biskop van Sisarea in Kappadosië het dit ook nie geken nie. Hy was die teoloog wat die Drie-Eenheid geformuleer het as een Wese, maar Drie Persone!

Uit al hierdie gegewens is dit duidelik dat hierdie woorde beslis nie deel van die oorspronklike outografie was wat God deur Johannes laat opteken het nie. Een of ander iemand moes dit as ‘n kantaantekening in sy Latynse manuskrip ingeskryf het, en so beland dit in die Vulgaat, en vandaar via Erasmus ook in ons Ou Afrikaanse Bybel!

 

In hierdie reeks gaan ons kyk na die variasies en die gronde waarop ‘n keuse gemaak word. Ek nooi lesers uit om vrae en teksverse wat hulle hanteer wil hê, aan my deur te gee sodat ek die feite op die tafel kan plaas.

Ek persoonlik verkies om werklike feite te beoordeel, en nie uitgelewer te wees aan die propaganda vir die een of ander vertaling nie.

Kom ons vat hande en bestudeer die feite objektief sodat ons in eerlikheid kan sê dat ons die eer van God soek.

Wat keuse van vertalings betref, is dit die beste om soveel moontlik vertalings te gebruik. Elke vertaling kan ‘n bepaalde siening of interpretasie na vore bring. Maar as algemene reël kan aanvaar word dat wanneer bepaalde woorde in die moderne vertalings ontbreek, of die vertalings drasties afwyk, daar grondige redes daarvoor bestaan. Aan die ander kant help die ouer vertalings ons meer wanneer studie gedoen word om die gebruik van ‘n spesifieke woord in die Bybel te bestudeer, omdat die ouer vertalings woorde vertaal, al maak dit nie sin nie. 

 

Skrywer: Herman Grobler




Die invoeg van ‘n sinsnede vanuit die geheue.

Die invoeg van ‘n sinsnede vanuit die geheue. – Herman Grobler

Wanneer ons iets kopieer wat in ‘n sekere mate ooreenstem met iets wat ons kort vantevore mee te doen gehad het, kan ons maklik uit die geheue iets byvoeg wat nie daar was nie. Dit gebeur ook wanneer iets baie bekend aan ons is. Dit is die verklaring vir sekere variasies wat ons in die Bybel aantref.

 

Kom ons kyk na so ‘n geval in Markus 10:21. Daar is “neem jou kruis op” ingevoeg.

Wou Jesus ‘n probleem in die ryk jongman aanspreek, of vir hom die eise vir volgelingskap uitspel? Het Jesus aan hom een vereiste gestel, of twee? Moes hy net van sy vertroue op sy aardse besittings en rykdom afsien, of het Jesus ook die eis gestel om die kruis op te neem?

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: “En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.”

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: “… en Jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.

Ons het drie kriteria wat ons kan help om objektief die variasies te evalueer sodat ons kan vasstel of die moderne vertalings iets uitlaat wat God laat neerskryf het.

Eksterne kriteria.

Die eerste kriterium waarna ons kyk, is die bewyse wat deur die manuskripte self na vore kom. Ons vergelyk manuskripte uit dieselfde ontstaanstydperk met mekaar. Dit is te verstane dat ouer manuskripte, wat nader aan die oorspronklike outografieë gekopieer is, vry sal wees van variasies wat met verloop van tyd ontstaan het, en so van kopie na kopie oorgedra is.

Ons besit ses Griekse manuskripte tot die jaar 500 n.C. wat hierdie hoofstuk bevat.  Vyf van hulle is sonder hierdie toevoeging. Net die Washington manuskrip het wel hierdie sinsnede in. Hierdie manuskrip met die evangelies het ‘n vreemde samestelling. Dit kom met geen ander manuskrip ooreen nie, en het selfs ‘n uitgebreide paragraaf wat in geen geskrif hoegenaamd gevind word nie. Dele van hierdie manuskrip stem met verskillende bekende manuskripte ooreen.  Die eerste deel van Markus tot by hoofstuk 5:30 stem meer met die Westerse tekste ooreen, terwyl die res van Markus weer meer met papirus 45 (± 220 n.C.) ooreenstem. Ongelukkig is Markus tien een van die dele wat nie in papirus 45 oorleef het nie. H.A. Sanders gaan van die standpunt uit dat die Washington kodeks moontlik gekopieer is van ‘n bronteks wat saamgestel is uit fragmente van verskillende manuskripte wat aanmekaar gelas is na die poging van Diocletianus (245-313 nC.) om die Christendom te vernietig deur hul heilige boeke te verbrand. Hoeveel waarde kan ons heg aan ‘n bepaalde variasie wat in so ‘n saamgestelde teks voorkom?

Eers ná die jaar 700 n.C. kom hierdie byvoeging meer algemeen in manuskripte voor. Van die elf verdere manuskripte tussen 501 en 900 n.C. tot ons beskikking, is vyf sonder hierdie sinsnede. Buiten vir kodeks Washington, lyk dit of die variasie met hierdie sinsnede in, eers baie laat ontstaan het. Die manuskripbewyse gee ‘n duidelike aanduiding dat hierdie betrokke variasie nie deel van die oorspronklike outografie was nie.

Interne kriteria.

Die tweede kriterium wat ons aanwend is om te probeer bepaal hoe so ‘n variasie kon ontstaan het, is deur te kyk na die tipiese werkswyse van kopieerders self. Een moontlikheid is dat hierdie sinsnede van elders af hier ingedra kon gewees het. Vroeër in Markus 8:34 lees ons: “En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Dit kan maklik gebeur dat ‘n kopieerder kon onthou wat hy vantevore neergeskryf het, en uit sy geheue hierdie woorde kon byvoeg.

Matteus en Lukas het albei van Markus gebruik gemaak toe hulle hul evangelies saamgestel het. In hulle weergawe van wat Markus in hoofstuk agt hanteer, haal beide hierdie woorde aan. Maar in hul weergawe van wat Markus in hoofstuk tien skrywe, haal nie een van die twee hierdie spesifieke sinsnede aan nie.  Waarom sou albei dan hierdie sinsnede uitlaat, terwyl hulle in die res van hierdie gebeure Markus feitlik woordeliks aanhaal? Daar is geen logiese grond waarom hulle juis hierdie sinsnede sou uitlaat nie. Dat beide Matteus én Lukas hierdie sinsnede nie bevat nie, is ‘n sterk aanduiding dat dit nie deel van Markus tien was toe hierdie evangeliste Markus benut het nie.

Intrinsieke kriteria.

Hier kyk ons na sake wat uit die teks en konteks self na vore kom.

Jesus sê dat die jongman een ding kortkom – waarom sou Hy dan ‘n tweede byvoeg?

Jesus het duidelik aan hierdie jongman openbaar waar sy persoonlike swakpunt lê, naamlik sy vertroue op sy aardse besittings en rykdom. Dít is wat hy moes opoffer. Om die kruis op te neem, draai die klem weg van die eintlike probleem wat Jesus in hierdie man aanspreek. Dit pas nie in hierdie konteks nie.

In Markus agt vanwaar hierdie sinsnede oorgeneem is, is dit van kardinale belang. Nadat Petrus bely het dat Jesus die gesalfde is, maak Jesus dit duidelik dat sy volgelinge, net soos Jesus self, ook vervolg sal word. Dáár pas die oproep om elke dag die kruis op te neem!

Al drie die kriteria, die eksterne, interne én die intrinsieke kriteria dui baie sterk daarop dat hierdie woorde nie aanvanklik deel van die oorspronklike outografie was nie.

Die effek van hierdie byvoeging.

Jesus wou die vertroue op besittings en rykdom in hierdie jongman se lewe aanspreek, nie voorwaardes gee om Hom te volg nie. Hierdie byvoeging kan mens die punt laat mis en Jesus se appèl sy krag laat verloor.

‘n Byvoeging vanuit ‘n ander deel en ander konteks van die Bybel kan die eintlike oproep of appèl verswak of selfs verberg.

 

Skrywer: Herman Grobler