Die ontstaan van variasies.

Die ontstaan van variasies. – Herman Grobler

In ‘n vorige plasing het ons gesien dat variasies in Bybels ontstaan hoofsaaklik vanweë drie redes: 1. Die ontvangertaal ontwikkel en verander. 2. In plaas van ‘n meer direkte vertaling, kan die vertaling gebaseer wees op ‘n dinamies ekwivalentevertaling waar eerder gedagte vir gedagte vertaal word, tot selfs ‘n parafrase waar vry vertaal word. 3. Die derde rede is dat ‘n ander Griekse bronteks gebruik word.

Dit sou darem lekker gewees het as iemand destyds doodeenvoudig die oorspronklike outografieë vir ons iewers veilig gebêre het sodat ons nie vandag hoef te wonder wat die presiese woorde is wat God vir ons laat neerskryf het nie. Maar so het dit nie gebeur nie. Om te begryp hoedat variasies in die manuskripte kon ontstaan, moet ons die ontstaan van die Nuwe Testament self verstaan.

 

Hoe het die Nuwe Testament ontstaan?

Aan die begin het die apostels die evangelie uitgedra in die verwagting dat Jesus letterlik enige tyd, nog binne hul leeftyd sou terugkeer. Hulle het kerke gestig en ‘n ouderling aangestel om leiding te neem terwyl hulle na die volgende dorp toe gaan om daar ook die blye boodskap te verkondig.

Maar natuurlik het die leiers in die gemeentes vrae gehad en leiding gesoek. Soms het hulle in ‘n brief hul vrae aan die apostels gerig, soms het hulle selfs ‘n afvaardiging daarheen gestuur om antwoorde te kry.

 

Deur die Heilige Gees in hul binneste gedryf, het die apostels (Paulus, Jakobus, Petrus en Johannes) biddend hierdie vrae skriftelik geantwoord. Die briewe verduidelik die Christelike leer.  Soos hoe die Ou Testament nuut verstaan, geïnterpreteer en toegepas moes word in die Christelike kerk. Hoe Jesus die vervulling van die beloftes van die Ou Testament is. Verder verduidelik hulle hoe die gemeente georganiseer moet word en die sakramente asook die wette in die Nuwe Testamentiese kerk hanteer moet word. Hulle gee ook leiding oor hoe die praktiese lewe van ampsdraers asook lidmate uitgeleef moet word as getuienis van hul verlossing in Christus. So het die briewe heel eerste ontstaan. (±50-64 n.C.)

Maar Jesus het nie gou teruggekom nie, en die ooggetuies van Jesus se lewe op aarde het begin uitsterf, of is doodgemartel. Die gelowiges het ‘n skriftelike weergawe van hulle getuienis nodig gehad, en so ontstaan die Sinoptiese Evangelies. (±70-75 n.C.)

Vervolgens skryf Lukas die geskiedenis van die verspreiding van die Evangelie tot in Rome, die hoofstad van die destydse beskaafde wêreld neer. (±80 n.C.)

Teen ±85 volg Hebreërs, en laastens die Evangelie van Johannes en die Openbaring. (±90-95 n.C.) Die enigste van die boeke van die Nuwe Testament wat ‘n opdrag van die Here het om dit neer te skryf, is Openbaring. Dit is o.a. waarom ek glo in organiese inspirasie waardeur die HG van binne uit, die Bybelskrywers geïnspireer het, en hulle nie bloot “skryfmasjiene” was nie. Elkeen se eie styl, voorkeur vir woorde en uitdrukkings en selfs nuanses in die interpretasie van die Ou Testament kom duidelik in hul geskrifte na vore. Vergelyk Paulus en Jakobus t.o.v. wet en geloof, waar dieselfde kern tog ‘n bepaalde “nuanse-verskil” het.

 

Duplisering van geskrifte.

Omdat hierdie geskrifte vir elke gemeente van waarde was, is baie gou afskrifte daarvan deur elke gemeente vir eie gebruik gemaak. Paulus gee ook direk opdrag dat die briewe wedersyds in gemeentes gelees moes word. (Kol.4:16) Ek kan my goed voorstel dat as iemand bv. vir Paulus in Rome of vir Johannes op Patmos besoek het, hy graag ‘n afskrif sou maak van al die geskrifte wat daar beskikbaar sou wees. So is die oorspronklike outografieë gedupliseer. In die geskrifte self is daar nie ‘n aanduiding dat dit as “Woord van God” beskou moes word nie. Van die begin af was daar ook valse leraars wat hul geskrifte geskrywe het. Eers heelwat later het die gelowiges uit die magdom geskrifte en vervalsings in omloop, besluit watter as riglyn of kànon vir die geestelike lewe erken kon word. Wanneer Paulus vir Timoteus versoek “As jy kom, moet jy die reismantel bring wat ek by Carpus in Troas laat bly het, en die boeke, veral die perkamente”, verwys hy na alle waarskynlikheid na sy afskrifte van dele uit die Griekse vertaling van die OT, die Septuagint. Hul eie geskrifte sou feitlik verseker nie op die uiters duur perkament gedoen wees nie, maar op die algemene skryfmateriaal, nl. papirus.

 

Ontstaan van aanvanklike variasies.

Voordat die NT-geskrifte as kànon aanvaar is, sou kopieerders sekerlik geringe regstellings wat hulle nodig geag het, kon doen sonder om te huiwer. So was daar onsekerheid oor die naam van die dorp waar Jesus vir Legio, die duiwel besetene genees het. Was die dorp se naam Gadara, Gergésa of Gerasa? (Vergelyk Mat.8:28, Mk.5:1 en Luk.8:26) Waar dit ook al was, dit maak geen verskil aan die korrektheid van die inhoud van die gebeurtenis nie. Het Jesus sewentig of twee en sewentig mense twee-twee uitgestuur? (Luk 10:1, 17) So kom daar grammatikale variasies of die spelling van name voor. In 170 n.C het die Sirier Tatianus, ‘n aaneenlopende verhaal uit die vier evangelies saamgestel, die Diatessaron genoem. Die feit dat hierdie geskrif wyd deur die destydse kerk aanvaar, gedupliseer en versprei is, is ‘n verdere bewys dat die Evangelies op daardie stadium deur baie nog nie as “onaantasbare” kànon gesien is nie. Latere kerkleiers het hierdie Diatessaron met wortel en tak probeer uitroei. Nogtans het heelwat variasies, soos harmoniërings as gevolg hiervan ontstaan.

 

Ons let op ‘n tipiese voorbeeld van die invloed van die Diatessaron.

In die Ou Afrikaanse Vertaling het ons in Markus 9:43-48 die weergawe wat met die Diatessaron ooreenstem: “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

45: En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

47: En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, 48: waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.”

Tot die jaar 500 n.C. vind ons hierdie weergawe in twee Griekse manuskripte asook in die Vulgaat en drie ander antieke vertalings.

Die 1983-Bybel se weergawe is sonder die eerste twee herhalings van die woorde in donker gedruk. Tot 500 n.C. word dit ondersteun deur vier Griekse manuskripte, asook sewe verskillende antieke vertalings.

Maar wat van groter belang is, is dat beide Matteus en Lukas wat van Markus gebruik het in die samestelling van hul evangelies, ook die weergawe sonder hierdie herhalings het.  Dit is ‘n baie sterk aanduiding dat Markus nie hierdie woorde in verse 44 en 46 geskryf het nie. Die duidelikste verklaring is dat dit via Tatianus se Diatessaron ingevoeg is.

 

Skrywer: Herman Grobler

 




“Weer gebore” of “van Bo gebore”?

“Weer gebore” of “van Bo gebore”? – Herman Grobler

Ons het verlede week na die drie hoofredes gekyk waarom Bybelvertalings van mekaar verskil. Kom ons kyk na ‘n spesifieke geval waar die verskil nie baie opsigtelik is nie, maar tog van belang.

 

 

Somtyds het ‘n woord meer as een betekenis-klemtoon. In Johannes 3:3 sê Jesus dat iemand wat nie aan ‘n bepaalde voorwaarde voldoen nie, nie die Koninkryk van God sal “sien” nie. Jesus bedoel dit natuurlik nie visueel nie, maar dat so iemand nie sal “ingaan” nie. In Afrikaans dra die woord “sien” hier ook die selfde betekenis as in Grieks. Ons verstaan presies dieselfde as wat die eerste lesers in die Grieks sou verstaan het.

Maar dit is nie altyd die geval nie. Die voorwaarde waaraan ‘n mens moet voldoen, is juis so ‘n geval. Die Griekse woord “anōthen” wat daar gebruik word, dra twee klemtone wat nie in Afrikaans met een woord herhaal kan word nie. Dit kan verstaan word as: “Weer gebore” of “van Bo gebore”. In so ‘n geval is die vertaler genoodsaak om ‘n keuse te maak.

Wat het Jesus bedoel? Moet ‘n mens “weer gebore” word, of “van Bo gebore” word om die Koninkryk van God binne te gaan?

 

Ons kyk eers na die manier wat sommige Afrikaanse vertalings Joh. 3:3 vertaal:

 

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

 

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

 

Die Bybel vir almal: “…weer gebore…”

 

NLV: “…Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie…”

 

Interliniêr: “Amen, amen, Ek sê vir jou: as iemand nie van bo gebore word nie…”

 

Die Boodskap: “…nog ‘n keer gebore…”

 

Die eerste gebruik van die woord “anōthen” het met posisie te doen. Dit dra dan die betekenis “van bo af”, wat eintlik na die Hemelse verwys. Dit bring ‘n vertikale rigting van bo na onder mee.

Joh. 3:31: “Hy wat van bo kom, is bo almal;

Joh. 19:11: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.”

Jak.1:17: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer

Jak. 3:15: “Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie

Jak. 3:17: “Maar die wysheid van bo is ten eerste rein,”

Dit kan ook net “van die bokant af” beteken.

Mat. 27:51 en Mark. 15:38: “En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.

Joh. 19:23: “…maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe.

 

Die tweede gebruik van “anōthen” het met tyd te doen. Dit dui die verband met ‘n vroeër toestand of gebeurtenis aan, en dui ‘n horisontale beweging in tyd, van toe tot nou aan.

Luk. 1:3: “… nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het,”

Hand. 26:5: “…omdat hulle my van dié tyd af geken het,”

Gal. 4:9: “…hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?

 

Die vraag voor ons is om te bepaal of  “anōthen” in Joh. 3:3 en vers 7 verstaan moet word in verhouding tot posisie, of tyd.

Grammatikaal kan dit verwys na posisie, met die gevolg dat dit ‘n vertikale beweging van Bo, of van God af na onder, na die sondaar sou aandui.

Maar net so wel kan dit verwys na ‘n vroeëre gebeurtenis, nl. die menslike geboorte. Dit sou dan verstaan word as ‘n horisontale beweging in tyd, van die natuurlike geboorte na die geestelike geboorte van die sondaar in die huidige tyd.

Albei moontlikhede sal ‘n legitieme vertaling van  “anōthen” verteenwoordig.

Gevolglik moet ons uit die konteks probeer vasstel watter die beste vertaling sou wees.

 

In sy gesprek met Nikodemus kom Jesus onmiddelik by die kern uit nl. die sien of ingaan in die Koninkryk van God, en stel dit dat ‘n totale nuwe entiteit geskep moet word. Dit beskryf Hy na analogie van die geboorte.

Nikodemus het onmiddelik verstaan dat Jesus na die natuurlike geboorte verwys, vandaar sy verwysing na die onmoontlikheid vir ‘n volwasse man om weer die moederskoot binne te gaan. Soos Nikodemus dit verstaan het, lyk dit of “anōthen” eerder in terme van tyd verstaan moet word. Gevolglik sou “weer gebore” die beste in vers 3 pas.

Hierop antwoord Jesus dat ‘n mens uit “water en gees” gebore moet word, want “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” In vers 7 is dit duidelik dat Jesus na die geestelike geboorte verwys, en sou “anōthen” eerder na posisie verwys. Hier sou “van Bo gebore” beter pas.

Maar dit sou nie logiese sin maak indien die vertaler in vers 3 “anōthen” in sy tydsbetekenis “weer gebore”vertaal, en dieselfde woord enkele verse verder, in vers 7, in sy ruimtelike betekenis “van Bo gebore” vertaal nie. Die vertaler is genoodsaak om ‘n keuse te maak!

 

‘n Christen moet van God gebore wees. Word dit die beste beskryf as “weer gebore” of as “van Bo gebore”?

 

Indien dit jou taak was om hierdie deel te vertaal, wat sou jou keuse wees?

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Waarom Bybels verskil

Waarom Bybels verskil – Herman Grobler

Vir mense vanuit die Gereformeerde tradisie is die “Sola Scriptura”, alleenlik die Skrif, ‘n beginsel van groot belang. Die volle Woord, niks bygevoeg nie, maar ook niks weggelaat nie!

Wanneer ons egter na die Bybel kyk, sien ons soms ingrypende verskille tussen ouer vertalings van die Bybelgenootskap, soos die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling, teenoor moderne vertalings soos die 1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling en die Bybel vir Almal. Ons kan dieselfde verwag met die komende 2016 Die Bybel: ‘n direkte vertaling (BDV).

Onafhanklike vertalings soos die Nuwe Lewende Vertaling, die Interliniêre Bybel en die Boodskap toon dieselfde tendens. Meeste van hierdie verskille kom ook in ander tale voor. Die Bybelvertalers self is hoog bekwame en edel kinders van die Here. Daarom is die verskille nie toevallig nie, maar het ‘n logiese verklaring.

In hierdie reeks artikels gaan ons kyk hoe hierdie verskille in die Nuwe Testament kon ontstaan het, en hoe ons die bewoording van die oorspronklike manuskripte kan vasstel. Ek het reeds sowat 100 verskille intensief bestudeer. Na my opinie kan ons die oorsake onder die volgende kategorieë indeel:

1. Taalontwikkeling. Die 1933-Ou Afrikaanse Vertaling is ‘n skamele 5 jaar na die erkenning van Afrikaans gepubliseer. Daarin word sekere woorde gebruik wat ons nie in die algemene spreektaal gebruik nie. Vir mense wat gereeld die Ou Vertaling gebruik, klink dit bekend maar oor die presiese betekenis is daar onsekerheid. Het jy al ooit “goedertierenheid” in ‘n gewone gesprek gebruik, of iemand anders dit hoor gebruik? Wat sou dit beteken? Uit die 154 verse in die Ou Afrikaanse Vertaling waar dit voorkom, haal ek Ps.5:7 aan: “Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan…” Die 1983 vertaling het dit vertaal met “groot liefde”. Op ander plekke vind ons in plaas van “goedertierenheid”, troue liefde, My trou, getrouheid, goedheid en so meer.

In ander gevalle het die Ou Vertaling sinsnedes wat vir my onverstaanbaar is. Kyk na die donker gedeelte in 2 Kor.2:17: “Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.” Ek verstaan hierdie sin werklik nie. God wil tog ondubbelsinnig met ons kommunikeer, sonder dat ons hoef te twyfel oor wat Hy bedoel, of iemand hoef by te roep om dit vir ons te kom verduidelik, nie waar nie?

2. Vertalingsbenadering. Omdat tale verskil, en grammatika nie dieselfde is nie, is ‘n absoluut woord vir woord vertaling onmoontlik. Kyk gerus in die Interliniêre Bybel na Joh. 3:16 en mens besef dat ‘n woord vir woord vertaling onverstaanbaar is. Ek haal aan: “So want Hy het liefgehad die God die wêreld…”. Aan die ander kant het woorde ook nie altyd dieselfde betekenis inhoud nie. So sal woorde soos priester, predikant, dominee, pastoor en leraar nie in alle gevalle met dieselfde woord in Engels gebruik kan word nie. Daar is dikwels ‘n mate van beskrywing nodig. Alle vertalings moet gevolglik op ‘n lyn tussen ‘n direkte woord-vir-woord vertaling en ‘n vrye vertaling of parafrase geplaas word. Die 1983-vertaling benut die “dinamies ekwivalente” benadering waar eerder gedagte vir gedagte vertaal word. In Openbaring 2-3 word die briewe aan die sewe gemeentes elk aan die “angellos” van die gemeente gerig. Die bedoeling in Openbaring is duidelik nie ‘n hemelse wese wat daagliks in God se teenwoordigheid kom nie, maar die menslike voorganger of leier van die gemeente. Daarom vertaal die 1983 eerder met “leraar” as die direkte vertaling “engel”.

3. Die Griekse Bronteks. Die Bybelvertaler moet besluit watter Griekse teks hy sal gebruik om as basis te dien vir sy aanbieding van wat God laat neerskryf het. Soos in alle handgeskrewe kopieë bestaan daar letterlik duisende variasies van die Griekse tekste. Hoewel die kopieerders deur die eeue met groot versigtigheid hul kopieë gemaak het, het foute en variasies soms onbewus, maar soms doelbewus ontstaan. Sulke variasies word noodwendig in opvolgende manuskripte oorgedra.
Toe Desiderius Erasmus in 1516 die eerste gedrukte Griekse Nuwe Testament saamgestel en uitgegee het, kon hy slegs ses Laat Middeleeuse manuskripte in die hande kry. Drie wat die evangelies en Handelinge bevat het, vier met die briewe en slegs een onvolledige manuskrip vir Openbaring. Hy moes na goeddunke tussen die variasies kies en het selfs ‘n hele paar eie veranderinge aangebring wat in geen manuskrip hoegenaamd voorkom nie. Waar sy manuskrip op Openbaring onvolledig was, het hy uit die Latynse Vulgaat sy eie Griekse vertaling gemaak en selfs ‘n woord geskep wat nie in Grieks bestaan nie! Kort na die publisering van Erasmus se teks, is uitgewys dat dit talle foute en tekortkominge bevat, maar die voordeel van ‘n beskikbare teks teen bekostigbare prys het dit laat voortstu. ‘n Halwe eier is immers beter as ‘n leë dop! Sy gedrukte teks is later die Textus Receptus of “ontvangde teks” genoem. Vanweë die gerief van hierdie gedrukte Nuwe Testament, is dit algemeen vir vertalings gebruik. Ook ons 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling het dit as grondteks gebruik.

Tans gebruik Bybelgenootskappe en meeste ander vertalers van die Nuwe Testament eerder die Nestle Aland Teks, of die United Bible Societies se teks. Hierdie tekste neem die ongeveer 5894 Griekse manuskripte in ag, asook meer as 18000 antieke vertalings en die aanhalings van meer as 200 ou kerkvaders. Die variasies word by elke vers onder aan die bladsy in hul tekskritiese apparaat geplaas sodat die vertaler ‘n oorsig het oor al die manuskripte tot ons beskikking. Nou is hy nie uitgelewer aan die lukraak keuse van iemand wat net insig in enkele manuskripte gehad het nie. Die gebruik van ‘n ander grondteks is die oorsaak vir die meeste ingrypende en ernstige verskille tussen ouer en moderne vertalings.

Om ‘n finale keuse tussen die variasies te maak, is ‘n uiters verantwoordelike maar ook delikate uitdaging. Ons wil immers by “Sola Scriptura” uitkom! Ons wil immers vasstel watter van die variasies die grootste moontlikheid bied om die oorspronklike bewoording van die Nuwe Testament te verteenwoordig.

In hierdie reeks gaan ons kyk na die variasies en die gronde waarop ‘n keuse gemaak word. Ek nooi lesers van hierdie blog uit om vrae en teksverse wat hulle hanteer wil hê, aan my deur te gee sodat ek die feite op die tafel kan plaas.
Dan is ons nie uitgelewer aan die propaganda vir die een of ander vertaling nie.
Kom ons vat hande en bestudeer die feite objektief.

Sola Scriptura! Soli Deo Gloria!

 

Skrywer: Herman Grobler