Die skeldnaam Christen – Hermie van Zyl

Leser vra:

Hoe kan julle almal praat van Christene, as daar nie vir God so iets soos ’n Christen bestaan nie? Die Satan het tog die woord geskep in die mond van die vervolgers van die gelowiges/dissipels (kinders van God) om hulle te vloek (Hand 11:26).

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller aanvaar as vanselfsprekend dat die benaming “Christen” onder aanstigting van die Satan as ’n skeldnaam ontstaan het vir die volgelinge van Jesus, en verwys dan na Handelinge 11:26 as bewysplaas vir sy stelling. Maar hierdie aanname berus nie op goeie getuienis nie. Laat ek verduidelik.

Daar is slegs drie plekke in die Nuwe Testament waar die woord Christen voorkom: Handelinge 11:26; 26:28; en 1 Petrus 4:16. Laasgenoemde teks is die enigste van die drie waar “Christen” deur ’n Christen self (die skrywer van 1 Petrus) gebruik word om na die volgelinge van Jesus te verwys. Kennelik word dit hier in ’n positiewe sin gebruik: dit verwys na die lyding van gelowiges omdat hulle Christene is. Dit is dus al klaar ’n aanduiding daarvan dat “Christen” nie van huis uit ’n skeldnaam was nie maar ten tyde van die skrywe van 1 Petrus (waarskynlik in die tagtiger jare van die eerste eeu nC) as ’n selfbenaming deur Christene gebesig is.

Hierdie waarneming klop ook met die twee tekste in Handelinge, hoewel “Christen” hier nie in die mond van gelowiges voorkom nie. In Handelinge 26:28 word dit deur die Joodse koning, Herodes Agrippa II, gebesig, waarskynlik as ’n speelse manier om Paulus se vraag in v27 te ontduik. Hy wat Agrippa is glo weliswaar die Ou-Testamentiese profete, soos Paulus in v27 suggereer, maar dit beteken nog nie dat Paulus vinnig van hom (Agrippa) ’n Christen kan maak nie. Ongeag hierdie “speelse” antwoord is daar niks veragtelik of verkleinerend in die manier waarop Agrippa die woord Christen gebruik nie. So tref ons dit ook aan in Handelinge 11:26. Hier word vermeld dat die gelowiges in Antiogië vir die eerste keer Christene genoem is. Die vraag is, deur wie? Die waarskynlike antwoord is: deur die nie-Christelike Griekse bevolking van die stad. Want die Jode het die volgelinge van Jesus nie Christene genoem nie, maar “Galileërs” of “Nasareners” (vgl Luk 22:59; Hand 24:5), laasgenoemde waarskynlik ’n verkleinerende term (vgl Joh 1:46). En die gelowiges het na hulleself as “broers”, “dissipels”, “heiliges”, “mense van die Weg”, en “die kerk van God” verwys.

Maar hoekom “Christene” vir die eerste keer in Antiogië? Dit was hier dat die evangelie veral onder die heidene ingang gevind het en baie van hulle gelowig geword het (vgl Hand 11:20-26). Op sy beurt het dit tot allerlei spanninge in die gemeente gelei, wat bestaan het uit gelowiges uit die Jodedom en dié uit die heidene. Die geskilpunte het gegaan oor die besnydenis en Joodse eetgebruike wat van die heiden-gelowiges verwag is; ons lees hiervan in Handelinge 15 en Galasiërs 2:11-14. Die punt is egter dat die gelowiges in Antiogië vir die eerste keer nie net uit Jode bestaan het nie, maar ook uit Griekssprekende heidene. Dit het tot gevolg gehad dat die gemeente al hoe meer as ’n afsonderlike groep naas die Joodse sinagoge deur die mense van Antiogië beskou is, wat ook tot ’n aparte benaming vir die gelowiges gelei het. Dit was veral die Griekssprekende deel van die bevolking wat die titel Christus (Grieks: Christos) as ’n eienaam verstaan het en dit ook op Christus se volgelinge begin toepas het (Christianoi). Dit was dus glad nie as ’n skeldnaam bedoel nie, maar was bloot ’n neutrale verwysing na daardie groep mense wat volgelinge van Christus was.

Vir volledigheid kan net genoem word dat daar ’n interpretasie bestaan dat die naam “Christene” deur die Romeinse owerhede van Antiogië vir die gelowiges gebruik is, om laasgenoemde as ’n vyandige groep te brandmerk. Maar hierdie siening gaan nie op nie. Afgesien daarvan dat daar niks in die teks of konteks van Handelinge is om dit te ondersteun nie, is dit ook hoogs onwaarskynlik dat Lukas, die skrywer van Handelinge, die Romeine so in ’n slegte lig sou stel. Een van die kenmerke van Handelinge is juis dat die Romeine telkens in ’n gunstige lig geplaas word en selfs as “beskermers” van die evangelie voorgehou word. Paulus word byvoorbeeld deur die Romeinse kommandant in beskerming geneem teen die Jode (Hand 21:34-40; 22:22-30; 23:10,16-35). Die Christene word ook deurgaans as ’n beweging voorgestel wat geen gevaar vir die Romeinse owerhede inhou nie (vgl bv Hand 26:30-32). Trouens, die leser van Handelinge kry die indruk dat die evangelie sy vrye loop kan neem, ten spyte van baie struikelblokke, juis omdat die Romeinse staatsbestel nie as sodanig vyandig ingestel is teen die Christelike boodskap nie. Dit alles dui maar net daarop dat die naam “Christen” nie ’n skeldnaam was nie, in elk geval nie in Handelinge nie.

Hiermee word natuurlik nie beweer dat die Christene nie erge verkleinering, bespotting en vervolging in die beginjare moes verduur nie. Die Romeinse geskiedskrywer, Tacitus, het die Christene byvoorbeeld gebrandmerk as “haters van die mensdom” (odium humani generis). Daarmee het hy bedoel dat hulle met hulle afkeer aan praktyke wat van alle gehoorsame onderdane verwag is, byvoorbeeld die keiserverering en deelname aan die staatsgodsdiens, die gramskap van die gode kon ontlok en so die gemeenskap in gevaar stel. Die Christene is ook vals beskuldig van bloedskendige gebruike (omdat almal mekaar broer en suster noem), en dat hulle gereeld ’n kind offer en dan die bloed en vleis verorber (die nagmaalsviering). En nog baie ander absurde aantygings uit onkunde. Die naam Christen sou dus seer sekerlik in bepaalde kringe allerlei negatiewe konnotasies opgeroep het, soos in die omgewing waaraan die eerste Petrusbrief gerig is. Hierdie brief word omtrent in sy geheel gewy aan die sosiale uitsluiting en verontregting wat Christene in Klein-Asië moes verduur weens die feit dat hulle Christene was (1 Pet 4:16). Geen wonder dat hulle deur die skrywer van 1 Petrus “vreemdelinge” en “bywoners” genoem is nie (1 Pet 1:1; 2:11). Maar dit beteken nie dat die naam Christen as ’n skeldnaam ontstaan het nie. Nee, die ontstaan lê gewoon in die feit dat dit afgelei is van die naam Christus, en dat dit oorspronklik die volgelinge van Christus aangedui het. Dit bly dus steeds ’n naam wat elke volgeling van Christus vandag met groot dankbaarheid kan dra, selfs al moet mens soms die koue skouer ontvang weens die negatiewe konnotasies wat buitestanders aan die naam heg.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Hoekom het die wêreld die Christene raakgesien

 

It is often very good for young persons if their wishes are not all gratified.” – Philip Melanchthon

 

Hoekom het die wêreld die Christene raakgesien

In die eerste eeu, met die Christendom in sy kinderskoene, het die Grieks-Romeinse wêreld min aandag daaraan gegee. Dit was eintlik as ‘n subgroep onder die Joodse sambreel gesien. Maar in die tweede eeu word die Christendom as ‘n onderskeibare godsdienstige entiteit gesien en die Grieks-Romeinse kultuur begin kennis neem van die Christendom – en hulle het nie gehou van wat hulle gesien het nie. Christene is as ‘n snaakse godsdienstige beweging gesien wat die norme van die normale samelewing ondermyn het. Christene was … anders.

 

 

Wat was so anders van die Christene? Hoe het hulle van die omliggende Grieks-Romeinse kultuur verskil? Daar was veral twee aspekte wat verskil het van die omliggende kultuur.

  • Christene het aan geen ander gode eer betoon nie. Dit was ‘n irritasie vir die regeringsamptenare  wat graag wou sien dat die heidense tempels vol lojale aanbidders moet wees.
  • Die seksuele etiek van die Christene. Romeinse burgers het dikwels buite-egtelik verhoudings en betrokkenheid met tempelprostitute gehad. Christene het geweier om aan hierdie praktyke deel te neem. Tertullianus sê:One in mind and soul, we do not hesitate to share our earthly goods with one another. All things are common among usbut our wives” (Apol. 39). Dit beteken geensins dat Christene nou volmaak was nie, maar Christene as ‘n geheel het na ‘n seksuele etiek soos ons dit in die Bybel kry, gestreef – en dit het hulle anders gemaak.

 

Hierdie het natuurlik geweldige implikasies vir Christene vandag. Christene leef steeds in ‘n kultuur waar seksuele etiek feitlik nie meer bestaan nie. Ons is in dieselfde bootjie as die vroeë Christene. Dit herinner ons dat Christene nie met die veranderde seksule norme in ons kultuur moet saamgaan nie. Dit is nie alleen teenstrydig met wat die Bybel ons leer nie, maar ontneem ons van  ‘n groot geleentheid om te getuig. Die huwelik weerspieël God se liefde vir die kerk. Christene se toewyding aan hulle huwelike is ‘n manier om God se liefde te verkondig.

 

Die Christelike geloof het in die vroeëre Grieks-Romeinse konteks oorwin, nie omdat dit dieselfde as die omliggende heidense kultuur was nie, maar omdat dit anders was.

 

 




Veg soos ‘n Christene!

I have never won an inch of the way to heaven without fighting for it. —C.H. Spurgeon

Veg soos ‘n Christene!

Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom (Efesiërs 4:29). Hierdie verse en die gedeelte rondom vertel vir ons hoe ons soos ‘n Christen kan veg. J. D. Greear identifiseer ‘n hele aantal maniere om dit te doen:

 

  • Ondersoek jou hart. Dit is die eerste en belangrikste stap. Al het mense jou benadeel, wat sê jou emosionele reaksie oor jou hart? Het kwaadwilligheid en bitterheid in jou hart ingekruip? Hierdie is alarmsisteme vir jou hart en is dikwels ‘n groter saak as die benadeling wat jy ondervind het.
  • Sien alles wat jy kan oor. Bepaal wat gekonfronteer moet word en wat kan maar oorgesien word. Dit is wat Paulus bedoel as hy sê: volgens die omstandighede.  Natuurlik is daar  tye wanneer jy moet praat en konfronteer; daar is tye wat dit nie nodig is nie. Die kuns is om te weet wanneer om wat te doen.
  • Wees prakties volgens die omstandighede. Daar is tye en plekke wat nie goed is vir argumente nie – byvoorbeeld as jy baie moeg is. Kom eerder later terug na die argument. Daar is ‘n groot gevaar hieraan verbonde – jy kom nooit na die argument terug nie – jy krop dit op. As jy sê dat julle na 24 uur na die argument moet terugkom, doen dit.
  • Luister vinnig, praat stadig. Die grootste probleem met kommunikasie is nie dat ons ons verkeerd uitdruk nie, maar dat ons nie luister nie. Meeste van ons kan nogal ons punt duidelik oordra, maar luister nie so goed nie. Om goed te luister is een manier om ander hoër as jouself te ag (Filippense 2:3 – 4).
  • Soek hulle heiligmaking, nie jou regverdiging nie. As jy vergeet van die idee dat jy elke argument moet wen en jouself regverdig, kan jy fokus op wat vir ander mense en julle verhouding van waarde is. Dit beteken dat jy soms moet terugstaan … al dink jy dat jy reg is.
  • Glo in God se oorkoepelende doel in jou verhoudings. As jy aanvaar dat God ‘n doel het met elkeen van jou verhoudings bring ons ‘n element van hoop in ons verhoudings in. Dit maak nie noodwendig moeilike verhoudings maklik nie,  maar dit bring perspektief. God het geweet jy gaan in daardie verhouding kom, en Hy het ‘n doel daarmee.
  • Laat genade jou woorde versadig. As dit gebeur verander die inhoud en toon van die gesprek. In plaas daarvan dat jy die positiewe punte aanvaar en die negatiewe punte raaksien, begin jy die negatiewe punte aanvaar en die positiewes raaksien. Jy is nie meer sarkasties en neerhalend nie – dit is dinge wat afbreek.
  • Moenie die handdoek ingooi voordat daar absoluut geen manier is waarop die verhouding reggestel kan word nie. Ons moet eers die krag van genade die geleentheid gee om in ons te werk.
  • Vergeef waarlik. Vergifnis is ‘n keuse, maar dit hang nie af van ‘n ander persoon se berou nie. Vir versoening is twee mense nodig; vir vergifnis is net een mens nodig. Die enigste alternatief vir vergifnis is bitterheid.
  • Doen alles uit eerbied vir Christus. Die kruis moet groot wees in jou lewe – jy moet so oorweldig wees deur Christus se offer dat jy elke benadeling van jouself in ‘n ander lig sien. Doen dit vir Jesus.

 Hierdie is voorwaar riglyne wat almal van ons met vrug kan gebruik.




Christene en Sangomas

Christene en Sangomas – Jan van der Watt

Hennie vra:

Kan Christene gebruik maak van slimmense/ sangomas?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit lyk of hier twee vrae is: kan Christene gebruik maak van slim mense en kan Christen gebruik maak van Sangomas? Natuurlik kan Christene gebruik maak van die insigte van slim mense. Wysheid is ook ‘n gawe van God.

Met Sangomas is dit ‘n ander storie. Die sisteem in tradisionele Afrika godsdiens(te) werk so. Die mense in Afrika glo dat die heelal vol geeste (ook God) is en dat die geeste invloed uitoefen op mense. Daar is goeie geeste en slegte geeste. As iemand van jou stam sterf, verdwyn die persoon nie, maar bly deel van jou familie, maar nou as onsigbare gees (lewende dooie). Die gees van die persoon bly by jou familie en jy  moet jou verhoudings met die persoon gesond hou, anders kan die familielid jou laat betaal vir jou swak gedrag. Natuurlik is die belangrikste ding vir jou as mens om te sorg dat die geeste aan jou kant bly – jy moet die geeste tevrede hou. Maar hoe weet jy of die geeste aan jou kant is? Jy het iemand nodig wat goeie kontak met die geeste het en dit is ‘n sangoma. Daar is goeie en slegte sangomas (die ander word Ngaka genoem). Deur na die sangoma te gaan, maak jy kontak met die geeste om op so manier uit te vind wat jy moet doen om hulle tevrede te hou. Hulle kan jou byvoorbeeld siek maak. Die sangoma moet dan vir jou kontak maak met die geeste, by die geeste uitvind wat gedoen moet word, dit vir jou vertel en so help om die siekte te genees. Soms gebruik hulle ook ander tegnieke, maar dit is nie hier van belang nie.

Uit wat nou gesê is, is dit duidelik dat Christene nie werklik van sangomas gebruik moet maak nie. Ons het die Heilige Gees in ons en wat meer wil ons hê? As ons probleme kry en hulp nodig het, is Jesus en die Gees ‘n gebed ver.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt