31 Desember: Maranta; Here kom. – Jan van der Watt

Open 21:1-22:21 (fokus 21:1-8)

In die kerk trek die seuntjie aan sy pa se baadjie: “Is die dominee al klaar”. Die pa antwoord: “Ja, my seun, hy is klaar, maar het nog net nie opgehou praat nie”. Dit gaan dikwels so dat mense nie weet waar en wanneer om op te hou praat nie. Maar as daar nou een ding is waaroor ʼn mens nooit kan ophou praat nie, omdat jy nooit klaar sal kom nie, is dit oor wat in die hemel gaan gebeur.

Jy sal nie kan ophou praat nie, omdat daar nie genoeg woorde is om die hemel mee te beskryf nie. Al gebruik ons al die woorde in die wêreld op, sal daar nog dinge wees wat ons nie gesê het nie. In 21:3-4 lees ons hoe God ons trane gaan afvee, hoe ons nie meer hartseer en pyn gaan ken nie, hoe dinge wat mense seermaak uit die hemelse woordeskat gaan verdwyn. Maar die hoogtepunt: ons lees hoe God by ons gaan kom bly; vir altyd!

Ons het nie woorde genoeg nie, omdat ons hier in die wonderlike misterie van God vasloop. Ja, in mensetaal moet ons probeer om die goddelike wonder wat vir ons wag te verduidelik. Ons kan probeer praat, maar ons sal nooit alles gesê kry nie. Maar dit mag ons ook nie keer om te probeer nie.

Miskien is dit die beste om maar met die taal van jou hart te praat – te verlang dat die Here gou weer sal kom. Twee woorde is dan genoeg: “Maranata”; Here kom!” (22:20).




30 Desember: Die hemelse bruid moet reg wees vir haar Bruidegom . – Jan van der Watt

Open 19:1-20:15 (fokus 19:11-21)

In 19:8 kry ons ʼn pragtige beeld wat vir ons vertel waarmee ons as gelowiges ons eintlik besig moet hou. Daar word vertel van die hemelse bruilof wat op pad is. En wie is die bruid? Niemand anders as die gelowiges self nie. Soos enige bruid moet die gelowiges sorg dat hulle op hulle beste lyk vir hulle bruidegom. Ja, hulle moet hulleself regmaak vir hulle hemelse Bruidegom, Jesus.

Dit was destyds die gebruik dat die meisie haar so mooi as moontlik moes maak vir haar troudag. Niks was belangriker nie. Die bure het gehelp en selfs van hulle eie mooi goeters gebring om om die meisie te hang. Sy moes net mooi lyk, al kos dit wat, want die bruidegom mag nie teleurgesteld wees nie!

Nou sê 19:8 verder dat gelowiges hulle eie “trourok” moet maak. Die “materiaal” waarvan hierdie “trourok” geweef moet word, is niks anders as die goeie dade van gelowiges nie. Ja, die Here wil hê dat ons onsself met goeie dade moet oortrek. Dit is die trourok waarvan Hy die meeste sal hou. Elke goeie daad wat ons doen is soos fyn garing wat ons in die trourok inweef, soos ʼn pêreltjie wat ons vaswerk, soos ʼn stukkie kant wat ons vleg. So, versier met “goddelike materiaal” wil Hy ons op ons troudag na Hom toe sien stap.

Moenie uit pêrels en kant raak nie. En swak garing gaan ook nie werk nie. Net jou beste is goed genoeg.




29 Desember: Moenie te ver gaan nie. – Jan van der Watt

Open 18:1-24 (fokus 18:21-24)

God se finale straf is totaal. Nou is Hy nog geduldig, maar as die einde kom is daar geen genade meer nie. Dan kom spyt te laat, veral oor sonde.

Ons hou daarvan om van God se liefde te praat… van die God wat maar altyd met ope arms en ʼn breë glimlag op ons wag. En dit is reg – God se liefde is onbegryplik groot. Maar daar is ook ʼn ander sy; ʼn sy waarvan baie mense nie van wil hoor nie.

In 18:22-23 kry ons ʼn “foto” van hoe die stad Babilon lyk nadat God sy hand van woede daaroor laat gaan het. Babilon is natuurlik die beeld vir mense wat niks van God af wou weet nie. Dit is die mense wat dink dat hulle God nie nodig het nie, dat hulle geld, mag en rykdom vir hulle genoeg is. Dit is mense wat selfgenoegsaam geword het.

Daar bly niks oor nie… nie eers ʼn rietfluit om ʼn wysie op te speel of ʼn pop om vir ʼn baba te gee nie; ja, letterlik niks nie. God se vernietiging van mense wat hulle nie aan Hom steur nie, is totaal. Dit is so totaal omdat God Homself totaal aan hulle onttrek. Wat God nie vernietig nie, sal hulle buitendien in hulle eie sonde vernietig.

By die boodskap van God se liefde vir mense mag ons nooit vergeet dat daardie liefde ook grense en selfs ʼn einde het nie. Anderkant daardie grense is daar ook nie meer ‘n God van liefde wat jou kan help nie.

Moenie dat spyt te laat kom nie.




28 Desember: Bly weg van die duiwel se poele van plesier . – Jan van der Watt

Open 16:10-17:18 (fokus 17:1-18)

Sonde is oëverblindery. Dit lyk altyd beter as wat dit is. Aan die begin lyk dit lekker, onskadelik en selfs maklik. Maar aan die einde word dit ʼn monster wat jou verskeur, want sonde dra die kiem van selfvernietiging in sigself rond. Oppas dat daai kiem nie iewers in jou lewe beland nie.

In hoofstuk 17 lees ons van die vrou met haar pragtige klere en juwele aan. Sy lyk vrolik en vier fees. Dit lyk so lekker en begeerlik. Sy ry selfs op ʼn bloedrooi dier, die simbool van die bose. Almal vier so lekker fees en dit gaan so jollie… Mense baai te lekker in die duiwel se poele van plesier.

En dan gebeur die verrassende: die einste dier wat so gedweë was, vlieg om, ruk die vrou se klere af, molesteer haar en verskeur haar net daar (17:16)! Wat ʼn partytjie is dit nou net nie… ʼn partytjie van vernietiging. Maar dit is hoe Satan se partytjies maar lyk. Dit eindig altyd in ‘n gemors; in vernietiging, hartseer en pyn.

Die boodskap is helder en duidelik: sonde is oëverblindery. Die lewe sonder God kan aan die begin so goed en gaaf lyk, maar die einde daarvan loop uit op selfvernietiging. Dit ruk elkeen uitmekaar wat saam op die maat van daardie partytjiemusiek wil dans.

Bly daarom van die drinkbakke en feestelikhede van die sonde af weg. Dit is nie ʼn plek waar ʼn mens regtig wil wees nie, nie as jy jou lewe liefhet nie.