21 November: Oppas vir verkeerd bid.– Jan van der Watt

Jak 4:1-12 (fokus 4:1-6)

Wanneer sê God sommer net “nee” as iemand in gebed met Hom praat? Wel, as daardie persoon met verkeerde motiewe bid (3). Dit gebeur wanneer die fokus van God af na jouself toe verskuif. Soos Jakobus sê: “Julle vra goed sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie”.

Gebed is ‘n gesprek met God waar die belange van die mens en God inmekaar vloei – daar gesels hulle saam. Ons moet mooi dink wat dit beteken:

  • Op God se skoot moet eerste dinge eerste kom. Jy kan nie daar met jou sonde kom sit asof daar niks verkeerd is nie. Jy kan nie raas en baklei, die volgende oomblik op jou knieë val, bid, opstaan en dan verder raas en baklei nie. Nee, die basis van gebed is jou verhouding met God. Jy gaan immers op sy skoot sit. As jy vuil daar aankom, is die eerste ding wat nodig is, om eers jouself skoon te maak. Voor enigiets anders gebeur moet jy eers van al jou sonde en vuiligheid ontslae raak. Dan kan jy verder met God praat. Dit is waarvoor sondebelydenis daar is. Eerste dinge moet eerste kom.
  • Gebed is ‘n gesprek – dis jy en God saam. Daar kan jy nie maak asof jou sake en belange die belangrikste is en al die punte op die agenda uitmaak nie. As jy God in die oë kyk, sal jy weet: Hy is die belangrikste. Sy belange staan eerste op die agenda. Daarom sal wat jy vra deur die agenda, ja, deur sy wil bepaal word. So doen gebed meer aan jou as aan God, want dit bring jou gedagtes en wil al hoe meer in pas met God s’n. So sal wat jy vra Hom bly maak en dan word gebed ‘n goeie gesprek. Onthou, dit is ook vir God belangrik dat dit met jou goed gaan. Daarom kan jy maar dinge vir jouself ook vra en oor jou behoeftes ook gesels; maar dan nie om net alles vir jouself te hê nie, maar om God beter te dien. Dis waaroor gebed gaan.

Vra en God sal gee… mits jy reg vra. Anders kry jy dalk ‘n “nee”.




20 November: Kyk reg na nader mense. – Jan van der Watt

Jak 3:13-18 (fokus 3:13-18)

Die geheim van ‘n suksesvolle lewe begin by jou oë; by die manier waarop jy na die lewe kyk en hoe jy dan reageer. Ja, jou reaksies en dade word gebore uit jou manier van kyk en dink oor dinge. Jakobus sê ‘n mens kan op twee maniere na die lewe kyk. Dit sien jy sommer in wat mense doen.

Jy kan op ‘n menslike manier na dinge kyk. Dan is geld, status, eie belang, en sulke dinge vir jou belangrik. Daaraan meet jy dan alles wat jy doen. Dit is dan dat jaloesie en selfsug maklik die stuur van jou lewe kan oorneem, want hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê. Dan gee jy nie eintlik om om na ander te hap en jou eie saak te bevorder deur allerhande leuens te vertel nie (15-16); dit alles net omdat jy verkeerd kyk – daarom ook dat jy verkeerd reageer.

Maar daar is ook ‘n goddelike manier van kyk, deur uit God se perspektief na dinge te kyk. Dan begin mense skielik vir jou al hoe belangriker word – jy gee om vir hulle. Jy begin vir hulle dinge doen sonder om iets terug te verwag, want God het alreeds so baie vir jou gedoen. In plaas daarvan om op hulle te trap, wil jy hulle help. Jaloesie verdwyn uit jou woordeskat en woorde soos liefde en geduld word met hoofletters geskryf.

Maar jy begin ook op ‘n ander manier na jouself kyk. Jy kry ‘n rustigheid in jouself omdat jy jouself sien soos God jou gemaak het. Daarom kan jy tevrede wees soos jy is. Jy hoef niks voor te gee nie. Soos jy voor mense is, so sal jy agter hulle ook wees. Dit pla jou nie dat iemand anders meer talente of status het as jy nie. As God dit vir hom wil gee, is dit goed. Dit is buitendien nie vir jou om te besluit wat God vir ander wil gee en wat nie. Hierdie is nogal ‘n ander lewenstyl as die persoon wat op ‘n menslike manier na dinge kyk.

Kyk reg, kyk deur die bril van God na die lewe… en jou lewe sal in vrede en rustigheid toegevou word, ‘n rustigheid en vrede wat net God kan gee.




19 November: Jy is in totale beheer van jou tong. – Jan van der Watt

Jak 3:1-12 (fokus 3:1-12)

Ons kan dikwels in ‘n paar sekondes wonde in iemand se lewe slaan wat jare, ja, soms ‘n leeftyd kan neem om te genees. En die gevaarlike wapen waarmee ons dit kan regkry, is met ons tong. Dit is ‘n klein liggaamsdeeltjie, maar het die krag van ‘n bosvuur, sê Jakobus (5).

Die tong is soos die sneller van ‘n rewolwer. Jy sien dit eintlik nie eers raak nie, maar jy hoor die koeël klap. Ja, jy sien ‘n groot skip draai, maar die klein roer onder die water kom jy nie eers agter nie. Juis daarom moet ons so versigtig wees. Wat onskuldig mag lyk kan baie seer maak. Die skewe woord wat vir ‘n sensitiewe mens gesê word, kan diep sny. Die paar woorde geskinder kan ‘n veldbrand begin wat later so onbeheersd brand dat jy dit nie meer kan keer nie. ‘n Onbesonne opmerking kan jy nooit terugtrek en die skade wat dit doen nooit keer nie.

Ons moet dus dink voor ons praat en nie praat om te hoor wat ons dink nie. Voordat ons iets sê moet ons eers die konsekwensies daarvan deurdink. Gaan dit wat jy nou gaan sê opbou of afbreek? As dit iemand gaan seermaak, moet jy maar liewer jou woorde sluk en jou tong agter toe lippe wegsteek. As jou tong nie die waarheid laat hoor of tot eer van God praat nie, hou dit maar liewer stil.

Die groot voordeel is dat jy totaal in beheer van jou tong is. Die tong kan nie op sy eie werk nie. As jy nie jou mond oopmaak en jou tong beweeg nie, kan daar niks gebeur nie. Jy is in totale beheer van hierdie gevaarlike wapen. Moet asseblief nie bosbrande rondom jou aan die brand steek nie. Uiteindelik brand dit jou ook maar.




18 November: Met my dade onderstreep ek my geloof. – Jan van der Watt

Jak 2:14-25 (fokus 2:14-25)

Waarom kan iemand nie gered word as Hy voorbeeldig lewe nie? ‘n Mens kry baie ongelowiges wat soms beter lewe as gelowiges. Wel, omdat ‘n mens nie deur werke gered word nie. Hoekom is dit so?

Die groot verskil wat Jesus kom maak het, was om die Joodse godsdiens van ‘n stel reëls te kom verander na ‘n verhouding met God. In die verhouding is dit nie wat ons doen wat tel nie, maar Wie ons ken. As ons die Here Jesus leer ken, maak Hy ons kinders van God. Dit is ons nuwe status. Ons moet dan op so manier leef dat ons die nuwe status waardig is. Dit kan so verduidelik word:

As ek nie as polisieman geregistreer is nie, en ek vat my rewolwer en jaag al die diewe op ‘n hoop, gaan ek waarskynlik self in die tronk land. Ek het nie sleg gedoen om die diewe te vang nie. My dade was goed, maar op die verkeerde manier. As ek egter as polisieman geregistreer word en presies dieselfde doen, sou dit nou skielik reg gewees het. Ek sou selfs miskien in lyn vir ‘n medalje kom. Die dade is die uitvloeisel van wie ek is: ‘n polisieman. Omdat ek is wie ek is, kan ek doen wat ek doen. Andersom werk dit nie.

Net so gaan dit met die werke. As ek nie gered is nie, nie die status as kind van God het nie, gaan geen dade God beïndruk nie. Ek moet eers deur geloof kind van God word. Dan kan ek vir God leef, nie om iets te verdien nie, maar as uitdrukking van wie ek self is – ‘n kind van God.

Wat dus eerste kom is my redding deur geloof – so word ek ‘n kind van God. As ek eers God se kind is, moet my dade my geloofstatus elke dag onderstreep.