24 Oktober: Werk hard, maar speel ook hard. – Jan van der Watt

Titus 2:1-14 (fokus 2:9-10)

 Deel van ons Christenskap is om eerlik en hard te werk. En daar is goeie rede voor. Die Here vra van ons kwaliteite soos lojaliteit, eerlikheid, of betroubaarheid. As ‘n mens dit by die werk is, sal jy goed werk. Dit kan eintlik nie anders nie. Maar ‘n mens kan dit ook oordryf, soos die baas by die werk wat by die sekretaresse verbystap en sê: “Waarom antwoord jy nie die telefoon nie?” Sy antwoord verleë: “Dit lui dan nie”, waarop hy reageer: “Moet jy ook alles tot op die laaste oomblik los?” Dit is die gevaar, naamlik dat ons só lojaal en betroubaar kan wees, dat dit belaglik begin raak.

‘n Christen moet hard werk, maar moet ook ‘n gebalanseerde lewe lei. Werk is nie alles nie, maar is ook nie niks nie – dit het ‘n plek en jy as gelowige moet alles in jou lewe mooi opweeg om daardie plek presies te vind: nie te veel nie en ook nie te min nie. Jy moet hard werk, maar ook hard speel. Jy moet lojaal wees teenoor jou werk, maar ook teenoor jouself. Dit is die geheim van ‘n gebalanseerde lewe: om plek te gee vir alles wat belangrik is. As die een ding die ander se tyd en plek begin vat (soos as die werk miskien die gesin of jou fisiese oefening se tyd begin vat) moet jy vrae begin vra oor jou prioriteite. As jy een ding té goed begin doen, begin jy ander dinge afskeep… dan doen jy dit té sleg. Oppas daarvoor. Soek konstant die balans in jou lewe.

Ons lewer ‘n getuienis by die werk (9-10) deur eerlik en lojaal te werk. ‘n Dwarstrekkery, gestry, onvergenoegdheid en sulke dinge pas nie by ‘n Christen nie. Christene moet getuienis lewer deur die positiwiteit waarmee hulle dinge doen. Maar net so het ons ook ‘n getuienis teenoor ons gesin, kinders, en onsself. Moenie die een ter wille van die ander verwaarloos nie.




23 Oktober: Christene is alkant selfkant. – Jan van der Watt

Titus 1:1-16 (fokus 1:5-9)

 Christene het nie ‘n agter en ‘n voorkant as hulle by mense kom nie. Nee, alkant is selfkant. Jy kan nie voorgee jy is iets voor ander mense en dan iets anders agter hulle rug wees nie. Dit pas by geen Christen om voor ‘n glimlag te hê en agter gesigte te trek nie. Soos jy voor mense is, moet jy ook agter hulle wees. Dit is Christelike integriteit waarvan die Bybel praat en wat Paulus hier vir kerkleiers ook voorskryf (1:5-9).

Kom ons gesels net so bietjie oor mense wat nie alkant selfkant is nie. Dink maar aan skinder… die dorings van skinder kan net groei agter die rug van die een wat beskinder word – beslis nie voor hom nie; leuens kan net asem haal uit die suurstof van agterbaksheid; skelms kan net skelm wees as die mense wat hulle besteel nie daar is nie… Al hierdie lelike dinge groei net agter die rug van ander.

Die ergste van alles is dan nog die skynheiligheid (7) – om by die persoon voor te gee jy is die vriendelikheid vanself, terwyl jy ywerig allerhande boosheid agter sy rug saai. Dit is die toppunt van bedrog en gebrek aan integriteit. Dit maak ook die seerste. Daarom sal God nooit daarmee vrede kan maak nie en mag sy kinders ook nie in daardie strik trap nie.

Nee, ‘n Christen moet liewer die pad van eerlikheid, opregtheid en integriteit stap. Dit is nie altyd die maklikste pad nie, maar dit is die beste.




22 Oktober: Ons is almal oppad… dood toe. – Jan van der Watt

2 Tim 4:6-22 (fokus 4:6-8)

 Die waarheid is, ons is almal op pad na dieselfde bestemming toe: die dood. Ek het dikwels my ma se been getrek as sy vra hoe dit gaan: “Nee, redelik. Ek is besig met ‘n gestadigde dood” het ek gesê. Sy het my dan altyd so bietjie tereggewys, want oor sulke dinge praat ‘n mens mos nie. Tog is dit die werklikheid waarmee ons almal rekening moet hou.

Die belangrike vraag is hoe jy jou eindbestemming nader. Die idee van die dood maak party mense nogal bang. Hulle voel onseker oor wat daar wag en as hulle oor hulle eie lewe terugkyk, is daar sekerlik rede om so bietjie ongemaklik te voel. As jy sonder die Here deur hierdie lewe is, is die kanse 100% dat jy sonder die Here anderkant die dood gaan uitkom. As jy halfhartig die pad met die Here hier stap, mag jy dalk ‘n halfhartige Here aan die ander kant ontmoet. As jy nie seker is nie, is daar nogal rede tot bekommernis.

Maar gelowiges hoef nie bang te wees nie. Kyk net vir Paulus (6). Hy sê dat met sy dood hy in die hande van God self gaan val, soos ‘n offer. Sy lewe behoort nou aan God en sal dan ook aan God behoort. Daarom is hy nie bang nie, maar sien daarna uit. Die beeld wat hy gebruik is die van ‘n atleet wat gewen het en nou uitsien na die prysuitdeling (8). Hy kan byna nie wag nie.

As ek so in die toekoms in staar, wonder ek hoe dit gaan wees. Maar een ding is seker, ek is nie bang nie. Die Here wat ek hier leer ken het, sal daar vir my wag. Ja, ons is maar besig met ‘n gestadigde dood, maar so is ons ook op pad na ‘n ewige lewe, saam met God. En dit is nie iets om voor bang te wees nie, maar om na uit te sien.




21 Oktober: Delf in God se Woord.. – Jan van der Watt

2 Tim 3:10-4:5 (fokus 3:14-4:5)

 ‘n Onderwyser kla eenmaal by ‘n kind dat hy nou twee maal dieselfde opstel oor sy besoek aan die dieretuin ingegee het. “Ja, maar dit was dieselfde besoek”, kom die antwoord terug. Party dominees klink soms ook so: hulle gee jou elke tweede Sondag dieselfde preek, net in ander woorde. Dan verwag hulle jy moet entoesiasties sit en luister.

Die Bybel is oneindig ryk in inhoud – dit is die Here se manier om dit wat Hy dink by ons uit te kry. Dit is die Here se skatkis van inligting wat Hy vir ons gegee het om in te delf en rond te krap. Soos 3:16 ook sê, die Here wil ons so leer, reghelp, vertel hoe om te leef, wys wat ons moet verwag, op die regte pad hou, en wat nog alles. Die grootste onreg wat ‘n dominee of jy jouself kan aandoen is om net ‘n paar skatte wat bo lê op te tel en oor en oor daarna te kyk. Jou geestelike lewe gaan dan ook so begin lyk: maer en eensydig ontwikkel.

Vir ‘n normale, gesonde en gebalanseerde geestelike lewe moet jy ‘n verskeidenheid geestelike disse inkry. Maar jy kry dit nie altyd nie. Paulus waarsku hier teen mense wat net vir ander vertel wat hulle graag wil hoor (3). Hulle probeer eerder in hulle eie gewildheid belê in plaas daarvan om die Here se skatte uit te deel. Ander dink weer hulle is geroepe om vermaaklikheidsterre te wees (4). Hulle gee nie om wat hulle vir gelowiges opdis nie, net solank hulle vermaak. Daarom moet jy na elke preek vra wat jy geleer het; en as jy agterkom jou aandag was meer by die optrede as by die inhoud, moet die rooi ligte aangaan. Maar die fout kan ook by jouself lê. Jy kan dag vir dag by God se skatkis verbystap en net ‘n vinnige loer gee. So gaan jy nie gebalanseerd die dieptes van sy rykdom ontdek nie.

Gun jouself die kans om ‘n diep, gebalanseerde Christen te wees. Krap, delf, soek, ontdek die dieptes van God se rykdom in sy woord.