16 Oktober: Gebruik die bank van God. – Jan van der Watt

1 Tim 6:11-21 (fokus 6:17-21)

 Ons gewone mense sê mos dat dit nie ‘n sonde is om ryk te wees nie, dit is ‘n wonderwerk. En in ‘n sekere sin is dit so. Dit is nie ‘n sonde nie, want ook die seën wat ons in die lewe geniet kom van God af. Dit is God wat sy hand oopmaak en vir ons gee. Dit is inderdaad ‘n wonderwerk van sy kant af vir ons. Ons hoef nie daaroor sleg te voel nie – nee, ons moet dit net geniet.

En dit is juis waar die gevaar inkom waarteen hier gewaarsku word (17). Omdat rykdom en seën gewoonlik met harde werk van ons kant af saamgaan, kan ek baie maklik dink dit is NET ek wat so goed is. Ek word blind vir God se hand wat agter alles vir my oopgegaan het. Sy seën word my verdienste. Of anders gestel, dit is asof my geld ‘n kamer van spieëls rondom my bou: in alle rigtings wat ek kyk sien ek net myself raak. In so “spieëlkamer” wil jy net meer en meer van jouself sien. Nie God of ander mense maak dan eintlik vir jou saak nie.

As dit gebeur verloor ‘n mens maklik jou gesonde oordeelsvermoë. Jy begin dink jy is belangriker as ander, dat jou geld jou die reg gee om ander te beledig of sleg te behandel. Jy dink die mooi klere wat jy dra of die groot kar wat jy ry maak jou wat daar binne in sit beter as ander. Wat ons dikwels vergeet is dat God mense nie meet aan wat buite hom is nie (sy klere of kar), maar wat binne in hom is. God kyk na die hart van mense. Dit is wat binne in ons aangaan wat vir Hom tel. Hy let die klere nie eers op nie, want Hy kan dit buitendien gee of wegneem soos Hy wil.

 Daarom gee Paulus ‘n stukkie goeie raad vir Timoteus. Help die rykes om uit hulle “spieëlkamers” uit te kom (17-18), sodat hulle God en ander mense in hulle lewens weer mooi kan raaksien. Laat hulle arm mense help… Dit is nie dat Paulus hier agter geld aan is nie (6-9), maar hy wil ryk mense help om die vreugde te smaak van “gee”; ja, soos God gee, kan hulle ook gee. So kan hulle iets van die goddelike liefde en genade wat hulle self in hulle lewens ervaar aan ander gee. En met liefde en genade is dit nou maar eenmaal so: hoe meer jy gee, hoe meer ontvang jy op ander maniere terug. Elke sent of geskenk wat jy gee, is eintlik ‘n belegging in die bank van God (19).

Laat jou rekening liewer in God se bank oorloop as hier op aarde.




15 Oktober: Moenie aan die stry gaan nie. – Jan van der Watt

1 Tim 6:3-10 (fokus 6:3-5)

 Eendag sit daar ‘n outjie voor ‘n bulhond en gesigte trek. “Waarom doen jy dit?” vra sy pa. “Hy’t eerste begin” kom die antwoord. Dikwels doen mense dinge uit onkunde omdat hulle nie weet nie. Dit gaan soms in die Christendom ook so. Ons trek gesigte vir mekaar en gaan dan aan die stry en baklei, en dis nie goed nie, sê Paulus.

Gesigte trek of ‘n gestryery onder Christene is meestal onnodig. Soos Paulus sê, dit kom nogal voor as iemand dink hy weet baie, maar eintlik weet hy niks (4). Nou wil hy die “niks” in ander se kele afdruk. Paulus praat nou nie van gesonde diskussie oor moeilike sake waaroor mense of kerke soms redeneer nie. Dit kom voor en ons moet met mekaar gesels om saam die waarheid te soek. Waaroor dit egter hier gaan is iemand wat balhorig aan die stry gaan en glad nie wil luister nie. Net hy is reg. Hy is soos ‘n bul in ‘n porseleinwinkel wat net voortstorm. Hy sal beledig, veroordeel, selfs slegsê in die proses. Al sit jy jou mooiste glimlag op, bly hy die lelikste gesigte trek.

Sulke stryers moet jy maar liewer vermy. Moenie eers na hulle luister nie (3) want dit gaan net jou siel versondig en jy gaan nêrens kom nie. Jy sal hulle maklik uitken: dit is mense met vreemde idees wat eintlik teen alles is wat jy al in die kerk gehoor het. Hulle sal beweer dat die kerk jou mislei het en die waarheid weggesteek het of jou nooit vertel het nie. Hulle (en miskien nog twee ander) het egter nou die waarheid na 2000 jaar ontdek wat vir die miljoene Christene oor die eeue verborge was… en hulle sal jou probeer oortuig jou saligheid hang daarvan af.

As jy al met sulke mense te doen gekry het, sal jy weet waarvan ek praat. As jy nog nie in so iemand vasgeloop het nie, kyk uit vir die tekens en as jy die gesigtrekkery sien, beweeg maar stilletjies maar doelgerig weg. Moenie aan die stry gaan nie. Daar is mooier dinge in die lewe om jou mee besig te hou as om na iemand anders se gesigtrekkery te kyk.




14 Oktober: Kies reg, kies met integriteit. – Jan van der Watt

1 Tim 5:17-6:2 (fokus 5:23-25)

 Wat Paulus in 5:24-25 skryf laat ‘n mens so bietjie ongemaklik voel. Dit is byna of ‘n mens afgeloer word, ja, of “Big Brother” jou dophou. Of jy nou goed of sleg doen, jy sal dit nie kan wegsteek nie. Iewers gaan dit uitkom. Ten minste weet die Here daarvan.

Een van die kerke in ons land dra wapentjies teen hulle bors. Hulle glo dat as hulle die wapentjie dra, weet die hoof van hulle kerk alles wat hulle doen – dit is soos sy oog. Hy sien alles. As hulle dan iets verkeerds wil doen, haal hulle die wapentjie af en steek dit weg, sodat “die oog” hulle nie kan sien nie. So werk dit nie by die Here nie. Jy kan nie sy oog toehou en oopmaak soos jy wil nie. Jy moet weet dat selfs wat jy in die geheim doen eintlik in die “openbaar” is. Jy kan niks wegsteek nie.

Ons moet dus twee maal dink voor ons iets doen wat nie reg is nie, al dink ons niemand weet daarvan nie. Soos Paulus sê, dit gaan uitkom. Anders gestel, ons moet dus niks doen wat as dit uitkom, ons rooi in die gesig gaan los nie.

Die oplossing: kies ‘n lewenspad van eerlikheid en integriteit. Maak keuses waaroor jy nie skaam hoef te voel nie. En moenie keuses maak met bymotiewe soos om gesien te word nie. Jy sal buitendien gesien word, maar jou bymotiewe ook.




13 Oktober: Christenskap word aanmekaar geweef deur verhoudings. – Jan van der Watt

1 Tim 5:1-16 (fokus 5:1-16)

 Eenkeer hoor ek een broer vir ‘n ander sê: “Met ‘n broer soos jy oorweeg ek dit sterk om myself vir aanneming op te sit”. Ja-nee, om as familie saam te leef is seker nie altyd so maklik nie; wat nog van al die ander mense. Selfs die liefde is partymaal nie genoeg om alles bymekaar te hou nie.

Tog is een van die belangrikste dinge vir ‘n Christen om na sy verhoudings te kyk. Dit is vir die Here vreeslik belangrik dat dit tussen sy kinders goed moet gaan. Hulle moet vir mekaar plek maak, vir mekaar sorg, mekaar ondersteun, mekaar vergewe, liefhê, bederf, en so kan ons aangaan. Nooit mag enige Christen op iemand trap wat swakker is as hy nie. Vir magspeletjies is daar eintlik nie ‘n plek onder Christene nie, want Christelike mag bestaan juis uit en uit in diens aan mekaar. Die Here het nie verniet gesê: “Wie eerste is, sal laaste wees nie”. Daarom moet Christene altyd die plek van genesing vir die gekneusdes onder ons wees. Deurdrenk van Christelike liefde wat hy by gelowiges kry moet die persoon wat seergekry het weer kans kry om gesond te word.

Dit is nie maklik nie, want vandag in ons kompeterende en gejaagde lewe is verhoudings baie meer kompleks as lank gelede. Maar dit verander nie aan die Bybelse opdrag nie: ons moet ons verhoudings versorg. Dit is immers waarom die Here vir ons dinge soos liefde en vergifnis geleer het. Dit het nie verander toe die lewe meer gejaag geraak het nie. Om die waarheid te sê, dit het net meer nodig begin word.

Moet jouself nie opsit vir aanneming nie, maar gaan loop liewer klasse in liefde, diens en vergifnis.