08 Oktober: Moenie jouself mislei oor wie jy in die gemeente is nie. – Jan van der Watt

1 Tim 1:1-11 (fokus 1:3-11)

Godsdiens doen partymaal snaakse dinge aan mense juis omdat die sterkpunt van die godsdiens tegelyk ook sy swakpunt is. In die gemeente word mense aanvaar soos hulle is, want dit is wat Jesus gedoen het. En dit is reg ook. Almal is daar welkom en het daar ‘n plekkie. Maar die sterkpunt word vinnig ‘n swakpunt ook as mense nie weet hoe om die liefde en openheid in ‘n gemeente te hanteer nie. Dinge loop skeef as ‘n mens nie besef dat die jy daar ‘n plekkie het omdat Jesus jou so lief het nie, maar dink dit is omdat jy so belangrik is.

Die kerk se sterk en tegelyk sy swakpunt is dat dit al die mense met gebreekte vlerkies bymekaar maak. Na wie anders sal geestelik siek mense toe gaan as na die groot Geneesheer? Ons het Hom almal nodig. Maar daar is mense wat, as hulle vlerkies beter word, dink die hok behoort aan hulle. Die gemeente is mos so: almal moet ‘n plek hê en elkeen moet sy opinie kan lug. By die werk of selfs by die huis kry jy nie eintlik die indruk mense luister na jou nie, maar by die kerk luister mense skielik na jou. Jy begin voel jy is ook iets; jy is ook belangrik. En dit is goed, want jy is.

Maar mag maak korrup, selfs ‘n bietjie mag. Dit gebeur dat as party mense hulle vlerke begin sprei raak hulle vlieg vir hulle belangriker as die liefde van die Here. Dan wil hulle wys hulle is belangrik en wil hulle wil oral afdwing. Die aandag is net te lekker. So begin die kerk “hulle plek” en nie die Here se plek word nie. Op vergaderings of in gesprekke is hulle die mense wat altyd beter weet en wie se tong alles in die gemeente aan stukke sny waarvan hulle nie hou nie. Ek dink ons ken almal sulke mense in die gemeente (kyk maar na Timoteus se gemeente ook – 1:3-11).

Die Here het almal lief, maar hou nie van mense wat dink die kerk is hulle s’n nie. Dit is die Here s‘n. Daarom moet ons die balans reg hou: ons is nie daar omdat ons so belangrik is nie, maar omdat die Here se genade en liefde ons tot daar gedra het. En dit is net daardie genade en liefde wat ons daar hou!




07 Oktober: Oppas vir geestelike afpersers en bloedsuiers. – Jan van der Watt

2 Thes 3:1-18 (fokus 3:1-18)

Luther het gesê dat al weet hy die Here kom more, hy vandag nog ‘n boom sal plant. Daarmee het hy iets gesê oor die energie en positiwiteit van die gelowige. Daardie energie word aan die brand gesteek deur al die wonderlike dinge wat die Here vir ons doen en gee (3:1-5). ‘n Mens begryp dit nie altyd so goed nie, want dit is net te groot. Dit is soos ‘n ou met ‘n biljoen rand in die bank – hy kan homself nie regtig voorstel hoeveel geld dit is nie. Hy kan maar net sy bes probeer om dit te geniet. Net so moet ons maar net elke dag uit die volheid en oorvloed van die Here leef… en veral dankbaar wees daaroor. Dit is ‘n kwessie van “as God vir ons is, wie kan teen ons wees?”

Daar is ongelukkig mense wat die goedheid van die Here misbruik. Die Here moet gee en hulle neem, maar van hulle kant af kom daar niks nie. Deur ander gelowiges moet die Here vir hulle sorg, maar moet tog net nie iets van hulle vra nie. Hulle kla gedurig, is onvergenoegd, voel daar word nie genoeg aandag aan hulle gegee nie, probeer gedurig op ander se skuldgevoelens speel, vertel hoe swaar dit gaan en niemand gee eers om nie; regte brieke aan die wa. In Tessalonika was daar selfs gemeentelede wat bakhand gestaan het en die gemeente moes maar net uitdeel. Self wou hulle nie eers ‘n vinger verroer nie (3:10-11).

Nee, gelowiges moet versigtig wees vir geestelike bloedsuiers en afpersers. Opregte hulp moet altyd gegee word; daarvoor mag ‘n mens nooit moeg word nie (3:13). Maar vir geestelike afpersers moet gelowiges versigtig wees. Geestelike afpersing word uitgeken aan ‘n gebrek aan energie vir die Here. Dit is mense wat net verwag jy moet gee, maar van hulle kant af doen hulle niks.




06 Oktober: Wees paraat. – Jan van der Watt

2 Thes 2:3-17 (fokus 2:3-12)

Die eerste vraag van ‘n vasvra was: “Wie het lewendig uit die leeukuil gekom?” “Daniël” kom die antwoord. Die tweede vraag: “Wie het lewendig uit die tierhok uitgekom?” Na ‘n oomblik van stilte kom die antwoord: “Die tier”.

Daar was ‘n rede waarom Daniël lewendig uit die leeukuil uitgekom het. Die Here was by Hom en as ‘n mens naby die Here bly, hoef jy nie bang te wees nie, al voel jy die warm asem van ou maanhaar hier in jou nek. Die Here keer nie dat ons in die lewe in leeukuile beland nie, maar Hy haal ons verseker heel daaruit.

Maar as ons alleen in die tierhok instap, weg van die Here af, is dit ‘n ander storie. Paulus waarsku in 2:3-12 dat hoe nader die wederkoms van die Here kom, hoe meer desperaat gaan die duiwel probeer om mense te mislei en seer te maak. Dit is sy werk en hy het nie goeie bedoelings met mense nie. Hy wil mense net dieper en dieper in die poel van sonde inlei (2:10). Dit is regtig ‘n geval van hoe later hoe kwater.

Ons moet dus gewaarsku wees. As jy as gelowige die oggend jou voete uit die bed sit, lê die duiwel al vir jou en wag. Hy het die hele nag planne gemaak om jou uit te vang. Dit laat my nogal dink… as ‘n vriend jou kom waarsku dat hy gehoor het iemand beplan om jou te beroof, sal jy baie versigtig wees. Jy sal mooi dink oor elkeen met wie jy te doen het en gereed wees. Tog lyk dit of ons soms oop oë in die tierhok instap, al is ons gewaarsku. Ons weet die duiwel lê vir ons en wag, maar dit pla ons nie.

Ons moet geestelik gereed wees en ‘n mens word net geestelik paraat as jy naby die Here bly, elke dag, in elke situasie. Moenie jou laat uitvang nie. Dit kan gevaarlik raak as jy onbewus in daar tierhok instap!




05 Oktober: Oppas dat jy nie jou kanse verspeel nie. – Jan van der Watt

2 Thes 1:1-2:2 (fokus 1:6-10)

 Toe ‘n outjie op die laaste skooldag van die skool af kom, vra sy pa waar sy rapport is. Hy sê toe: “Ek sal dit more vir pa gee, want Pietie het dit eers geleen”. “Waarom?” wou sy pa weet. “Hy wou net eers sy ouers so bietjie gaan skrikmaak”, kom die antwoord.

Iets waaraan ons nie altyd dink nie, is dat daar ook vir ons ‘n laaste dag kom. Dan sal ons voor die Here moet gaan staan en verduidelik wat ons met ons lewens gedoen het. Dan sal ons nie onder mekaar rapporte kan uitruil nie, want die Here weet alles. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie.

Dit is so uit die mode om deesdae van die oordeel van God te praat. Ons is so gefokus op God se liefde dat ons nie daaraan dink dat Hy ook kwaad word nie. Party mense sê selfs dat ‘n God van liefde nie kán kwaad word nie. Ons vergeet dat as mense God behandel asof Hy niks is nie, ja, asof Hy nie eers dáár is nie, God nie maar net sê “ag toemaar” nie. Hy gee almal ‘n regverdige kans, maar as iemand daardie kanse nie gebruik nie, is die hel hulle voorland (1:9).

Maar as jy jou kans gebruik het en jou hand in die hand van die Here gesit het, hoef jy nie bang te wees vir daardie dag nie (1:10). Ons kan op daardie dag wel nie onder mekaar rapporte uitruil nie, maar as ons aan Jesus behoort, skryf Hy “goed geslaag” voorop ons rapport. Watter ervaring gaan dit nie wees as jy bewend met ‘n geboë hoof nader stap met jou rapport en jy sien die deurboorde hand van Jesus wat jou rapport vat en “goed geslaag” daaroor skryf nie. Wat ‘n dag om na uit te sien!